Leesplan inligting

Lydenstyd Reis - Water in Die WoestynVoorbeeld

Lydenstyd Reis - Water in Die Woestyn

DAG 6 VAN 40

VLUG, WEES STIL EN BID


“Moenie julle leefstyl aanpas by die gedragspatrone van hierdie wêreld nie,  maar laat God julle omvorm deurdat Hy julle denkpatrone vernuwe. Dan sal julle goed kan onderskei wat Hý wil hê dat julle moet doen, naamlik dit wat werklik goed en aanvaarbaar en volmaak is.”– Romeine 12:1–2 (NLV)


“Terwyl hy nog in die paleis gewoon het, het Abba Arsenius tot God gebid met hierdie woorde: "Here, lei my op die pad van bekering." 'n Stem sê toe vir hom: "Arsenius, vlug van die wêreld se dinge en jy sal gered word." Nadat hy in die geheim van Rome na Alexandrië toe geseil het, en 'n kluisenaarsbestaan (in die woestyn) geleef het, het Arsenius weer gebid: " Here, lei my op die pad van bekering" en weer het hy 'n stem gehoor wat sê: "Arsenius, vlug, wees stil, bid altyd, want dit is hoe jy sonder sonde kan leef." – Woestynstorie


Lukas vertel dat Jesus homself gereeld in eensame plekke afgesonder en gebid het (Lukas 5:16). Die evangelies wys vir ons dat hierdie patroon van afsondering van die lewe se gejaag om alleen met God te wees, ’n gereelde patroon in Jesus se lewe was. Dit dui ook ’n konkrete manier aan wat ons vandag as woestyngeestelikheid ken. In hierdie paar woorde van Arsenius “vlug, wees stil, bid” (in Latyn "fuge, tace, quiesce") word die geestelikheid van die woestyn opgesom. Hier is drie maniere waarop ons die invloed en die houvas van die kultuur van die wêreld waarin ons leef, kan ontvlug. Paulus waarsku ons: “Moenie julle leefstyl aanpas by die gedragspatrone van hierdie wêreld nie.” (Romeine 12:1–2, NLV). Om te ontvlug, stil te wees en te bid is drie praktiese maniere waarop ons lewe in die Gees kan ontdek en kan verhoed dat ons deur die wêreld gevorm word.


Hier is ’n praktiese en ’n konkrete manier waarop ons woestyngeestelikheid kan beoefen: Vlug van besig-wees af weg! Ons het almal vol dagboeke. Ons word uitgenooi om na die woestyn te gaan en ons besig-wees net vir ’n tydjie te los. Dit maak dalk nie sin nie. In die woestyn is ons “onproduktief“ – dit laat ons nie goed voel nie, want ons voel ons beteken niks, ons doen niks, bereik niks nie. Daar is iets dwingend in ons wat ons onbewustelik toelaat om aan te hou en aan te gaan met dit wat ons doen. ’n Woestyngeestelikheid vra dat ons nie onder dwang sal lewe nie. Dit vra geloof en vertroue om alles net te los. Al voel jy jy bereik niks nie, al kan jy nie daadwerklik iets wat jy tot stand gebring het wys nie, vra ’n woestyngeestelikheid van jou om in die ongemak te bly sit. Dit is natuurlik nie al waarmee jy in die woestyn moet sit nie. Die woestyn is nie net ’n plek van ongerief en ongemak nie, maar dit is ook hier, as jy kan leer om te sit, waar iets groots en goeds na jou toe kan kom.


GEDAGTE VIR DIE DAG


Ontvlug, wees stil, bid voortdurend.


VIR NADENKE


Dink vir ’n oomblik aan jou dag. Was jy besig, gejaagd of het jy te midde van die aktiwiteite en besigheid van jou dag ’n diep rustigheid ervaar? Was daar ’n oomblik toe jy vandag bewus geword het van God se teenwoordigheid? Hoe het jy dit ervaar?


Het jy al voortdurende gebed in jou lewe toegepas? Vra God om jou te help om môre gereeld na innerlike stiltes te ontvlug, al woed die golwe van die lewe om jou.

Dag 5Dag 7

Aangaande hierdie leesplan

Lydenstyd Reis - Water in Die Woestyn

Hierdie leesplan sal jou op 'n geestelike reis begelei tydens die 40 dae van die Lydenstyd. Ons volg Jesus die woestyn in. Die woestyn is ’n plek van voorbereiding, beproewing, afsondering, stilte, uitdaging, herskeppin...

More

Ons wil Mosaiek bedank vir die aanbieding van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek gerus: http://www.mosaiek.com/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid