Leesplan inligting

Lydenstyd Reis - Water in Die WoestynVoorbeeld

Lydenstyd Reis - Water in Die Woestyn

DAG 5 VAN 40

’n REЁLBOEK


“Jesus het Hom gereeld in ’n verlate plek afgesonder om te bid.”


– Luke 5:16 (NLV)


As 'n mens orde handhaaf, raak hy nie verward nie. – Abba Poemen


Abba Poemen se raad “handhaaf orde,” beteken dat ons ons lewens moet orden, dat ons ’n ritme, ’n stel reëls, moet ontwikkel. In die evangelies demonstreer Jesus hierdie gereelde patroon van ontrekking van die gewoel van sy lewe, om alleen met God te wees. Jesus se 40 dae in die woestyn is ’n treffende voorbeeld van sy lewensritme van onttrekking, afsondering en toewyding aan God. Die woestyn is ’n plek van droogte en leegheid. Ons gaan deur sulke droë tye in ons lewens; innerlik voel dit of ons nie verbonde is nie. Dit is asof ons nie daardie gevoel van “alles kom mooi bymekaar” of “ek het die groot vrede van vertroosting” het nie. ’n Wilsbesluit kan dit nie verander nie. Ek kan nie net besluit om dit te begin voel en dan sal my gevoelens verander nie. Ek kan nie besluit om anders te dink, opgewonde te begin raak en dan sal dit alles wees soos ek dit wil hê nie. Ek kan nie iets doen om ’n nuwe ontmoeting met God te skep nie. Daar is geen tegniek wat ek kan toepas om nuwe emosies te ontwikkel en anders te dink en te voel oor my lewe en ewe skielik my woestyn in ’n oase te verander nie. Wat ek wel kan doen, is om orde te handhaaf. Abba Poemen sê as ons ons uiterlike lewe orden, dan sal ons opmerk dat ons binnekant ook georden word. Paulus se wens vir die Korintiërs was die volgende: “Ek wil hê julle moet, sonder dat iets julle aandag aftrek, fatsoenlik en toegewyd vir die Here lewe .” (1 Korintiërs 7:35 NLV).


Hier is die uitnodiging en die uitdaging: al voel ek nie so nie, al is daar baie afleidings en goed wat my aandag nodig het, behou orde. Abba Poemen dink nie net dat eksterne orde outomaties innerlike orde sal teweegbring nie, maar dat dit ons sal red van verwarring. Ons siel kan so maklik vasgevang word en in ’n verwarring verval, waar niks meer vir ons duidelik is nie, waar ons in sirkels begin dink en ons onsself heeltyd vasloop teen dieselfde mure van beperkinge. Rowan Williams verwys na hierdie menslike geneigdheid as “onophoudelike gedagtegang.” Deur orde te handhaaf kan ons hiervan verlos word. Deur orde te handhaaf, kan ons ons eie lewens met voorbedagte rade leef eerder as om in reaksie te leef op dit wat na ons toe kom.


“... daaglikse gebede en geestelike leesstukke en kerkbywoning is  vereistes vir die Christelike lewe. Ons moet gereeld herinner word aan dit waarin ons glo. Nie hierdie geloof of enige ander een sal outomaties in ons gedagtes bly vassteek nie. Dit moet gevoed word.” – C.S. Lewis


GEDAGTE VIR DIE DAG


Handhaaf orde deur ’n gewoonte te vestig om ’n gereëlde tyd saam met God te spandeer.


VIR NADENKE


Wat verhoed jou om ’n gewoonte te ontwikkel en daarby te hou?


Voel dit of daar soms net niks gebeur nie? 


Hoe sal dit wees om jou verhouding met God met voorbedagte rade aan te pak en deur die droogte te gaan?


Wat kan jy môre begin doen om weer ’n gereelde tyd saam met God te begin deurbring? Neem tyd om  hieroor na te dink.

Dag 4Dag 6

Aangaande hierdie leesplan

Lydenstyd Reis - Water in Die Woestyn

Hierdie leesplan sal jou op 'n geestelike reis begelei tydens die 40 dae van die Lydenstyd. Ons volg Jesus die woestyn in. Die woestyn is ’n plek van voorbereiding, beproewing, afsondering, stilte, uitdaging, herskeppin...

More

Ons wil Mosaiek bedank vir die aanbieding van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek gerus: http://www.mosaiek.com/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid