Leesplan inligting

Lydenstyd Reis - Water in Die WoestynVoorbeeld

Lydenstyd Reis - Water in Die Woestyn

DAG 4 VAN 40

’n NUWE BEWUSSYN


“Jou lewe is 'n reis wat jy met 'n diep bewustheid van God moet aanpak.”


– 1 Petrus 1:18 (The Message Bybel)


Wat moet 'n mens doen om God tevrede te stel? Jy moet te alle tye bewus wees van God se teenwoordigheid. Gehoorsaam altyd God se Woord. En waar jy jou ookal bevind, moenie maklik padgee nie. – Abba Anthony


Die groot fokus en begeerte van die woestynvaders was om ’n nuwe bewussyn te ontwikkel; om te lewe met ’n bewussyn dat God met my is, om my is en in alles is waarmee ek te doen kry. Dit was om uiteindelik een te word met God: eenheid in God. Dit was die idee van die hele geestelike reis aan die begin. Die Apostel Petrus sê: “Jou lewe is 'n reis wat jy met 'n diep bewustheid van God moet aanpak.” (1 Petrus 1:18, MSG). Die doel was nie om net te weet of te verstaan nie; die doel was om bewus te wees – dit is iets heeltemal anders. Hierdie bewussyn het gekom deur tyd in eensaamheid met jouself deur te bring, in afsondering, gebed en meditasie. Op dié manier het daar ’n skuif in die tektoniese plate van die bewussyn plaasgevind.


Alles verander as jy met hierdie nuwe bewussyn begin leef. Dit is asof die woestynvaders wou sê, en demonstreer, dat dit nie soveel saak maak waar jy is nie; al is jy in ’n woestyn, en jy het hierdie bewussyn, sal die woestyn in ’n wonderlike plek verander. Dit is asof hulle gesê het: “As ons hier in die woestyn kan oorleef, as ons hierdie dorre plek ’n mooi plek kan maak, kan enige plek in die wêreld verander en in ’n mooi plek omskep word.” Alles verander as jy hierdie bewussyn van God ontvang en ontwikkel. Dawid het baie moed ontvang en gesê: “... met my God loop ek 'n oormag storm ...” (2 Samuel 22:30). Met dié bewussyn word die wêreld te klein vir jou en sien jy kans vir enige iets wat jou pad langs kom. Hy gee my krag. Hy is met my. Die wêreld kry ‘n vierde dimensie by. Alles speel nou af teen die agtergrond van ’n goddelike teenwoordigheid.


GEDAGTE VIR DIE DAG


Word vandag bewus van Hom en let op hoe anders dinge kan lyk.


VIR NADENKE


Dink aan die dag wat verby is. Was jy vandag van God bewus?


Was jy nie bewus van Hom nie? Dalk het Hy na jou toe gekom deur ’n persoon, ’n gebeurtenis, ’n gevoel, ’n woord of ’n gedagte.


Neem ’n oomblik in stil oordenking, om God in jou dag te probeer raaksien.

Dag 3Dag 5

Aangaande hierdie leesplan

Lydenstyd Reis - Water in Die Woestyn

Hierdie leesplan sal jou op 'n geestelike reis begelei tydens die 40 dae van die Lydenstyd. Ons volg Jesus die woestyn in. Die woestyn is ’n plek van voorbereiding, beproewing, afsondering, stilte, uitdaging, herskeppin...

More

Ons wil Mosaiek bedank vir die aanbieding van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek gerus: http://www.mosaiek.com/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid