Leesplan inligting

Lydenstyd Reis - Water in Die WoestynVoorbeeld

Lydenstyd Reis - Water in Die Woestyn

DAG 2 VAN 40

“Na ’n lang soektog van drie dae het Josef en Maria vir Jesus in die tempel opgespoor. Hy het daar tussen die skrifkenners gesit. Hy het aandagtig na hulle geluister en allerhande vrae aan hulle gevra.” – Lukas 2:46 (DB)


“... gaan dan na ’n stil plek toe waar niemand jou kan sien nie   . . .  praat daar eenkant opreg met jou hemelse Vader.” – Matteus 6:6 (DB)


Gaan sit in jou sel en jou sel sal jou alles leer. - Abba Moses


Ons word uitgenooi deur die ou woestynvaders om te gaan sit. Die vroeë Christene van die Ooste se beeld van ’n persoon wat in oorgawe is, wat in toewyding is, is iemand wat sit. Dit lyk ook asof dit die oorheersende beeld geword het in die woestyn. Een van die vroegste beelde wat ons van Christus het is van Hom wat tussen die geleerdes gesit het. (Lukas 2:46) Om te sit is ’n ingesteldheid, ’n houding van ontvanklikheid, aandag skenk, luister en oorgee. Jesus leer dat ons ’n plek moet kry en dat ons net daar moet wees: “... wees opreg ...” (Matteus 6:6, DB). Pascal sê dat al die probleme in hierdie wêreld vandag 'n gevolg van die mens se onvermoë is om op een plek stil te sit: "Die hele mensdom se probleme spruit uit sy onvermoë om stil en alleen in 'n vertrek te sit." Om net te gaan sit en te wees is nie iets wat maklik kom of outomaties gebeur nie, dit is moeilik. Om ons siel tot bedaring te bring en stil te maak is iets wat ons moet aanleer. (Psalm 131) Om te kan sit is nie net iets wat aangeleer moet word nie, maar ook geleer kan word. Net soos met enige ander vaardigheid wat aangeleer word, verg dit oefening, geduld, deursettingsvermoë en tyd om dit te ontwikkel.


Sodra ek my plek het moet ek daar gaan sit in oorgawe, met die bereidwilligheid om te leer om stil te sit. Baie van ons vind dit dalk moeilik om hieraan te dink as ’n vorm van gebed. Ons dink dikwels eerder aan gebed as 'n monoloog: ek praat met God of vra Hom iets, of as 'n dialoog: Hy praat met my. Maar dalk is dit ook 'n dekaloog: kommunikasie op baie verskillende maniere deur net alleen saam met Hom daar te kan wees.


GEDAGTE VIR DIE DAG


Om te sit is om oor te gee.


VIR NADENKE


Het enigiets jou verhoed om vandag te gaan sit? Gesels met God daaroor.


Hoe het jy dit ervaar om net daar in sy teenwoordigheid te wees?


Hoe het jy die "niks doen" van sit ervaar? Was dit moeilik om te sit?


Was dit maklik? Praat eerlik met God oor jou ervaring.

Dag 1Dag 3

Aangaande hierdie leesplan

Lydenstyd Reis - Water in Die Woestyn

Hierdie leesplan sal jou op 'n geestelike reis begelei tydens die 40 dae van die Lydenstyd. Ons volg Jesus die woestyn in. Die woestyn is ’n plek van voorbereiding, beproewing, afsondering, stilte, uitdaging, herskeppin...

More

Ons wil Mosaiek bedank vir die aanbieding van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek gerus: http://www.mosaiek.com/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid