Leesplan inligting

Noël: Kersfees Is Vir AlmalVoorbeeld

Noel: Christmas Is For Everyone

DAG 4 VAN 12

Seun van Belofte, Beeld van Jesus


Deur Danny Saavedra


“God self sal die lam voorsien, my seun,”—Genesis 22:8 (NLV)



Is jy al ooit gevra om iets geks te doen; iets so stapelgek wat jy nooit gedink het jy sal moet doen nie? Indien jy het, is jy nie alleen nie. In Genesis 22 gee God vir Abraham 'n vreemde opdrag.



God vra Abraham om sy seun te offer. Wag, wat? Jy bedoel die seun van die belofte? Die een uit wie 'n groot nasie moes voortspruit? Ja, daardie een. God sê: “Neem jou seun, jou enigste seun, ja, vir Isak wat jy so liefhet . . . Offer hom daar as brandoffer . . .” (Genesis 22:2 NLV).



Dit moes 'n hartverskeurende, onbeskryflike, pynlike ding vir Abraham gewees het. Kan jy jou voorstel om iets te moet opoffer wat jou na aan die hart lê? Sal jy gehoorsaam wees soos Noag, of in die teenoorgestelde rigting hardloop soos Jona? Dink hoe onredelik en stapelgek God se versoek geklink het. Isak was Abraham se geliefde seun en die toekoms van God se verbondsvolk het op hom gerus. Isak was 'n wonderwerk, die geskenk van God, in antwoord op Abraham en Sara se geloof.



Maar Abraham het God gehoor en Hom onmiddellik in geloof gehoorsaam. Ons kom soms in ons lewens te staan voor wat soos 'n onmoontlike, moeilike keuse lyk. . . 'n keuse wat ons dalk nie verstaan nie. Maar wanneer ons die karakter van God verstaan, wanneer ons sy liefde vir ons verstaan, wanneer ons erken dat sy wil altyd ten gunste van ons en sy heerlikheid is, kan ons Hom in geloof gehoorsaam omdat ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy doel geroep is (Romeine 8:28).



Jy sien, Abraham het geweet God se wil sal nooit sy belofte weerspreek nie, dus het hierdie gelowige vader aan die belofte vasgehou wat gesê het: “...uit Isak sal jou nageslag gebore word” (Genesis 21:12). Abraham het geglo, selfs al laat God hom toe om sy seun te offer, het hy geweet dat God by magte is om Isak uit die dood op te wek. (Hebreërs 11:17–19) Hierin sien ons die ware aard van geloof. Dit vereis nie verduidelikings nie; dit rus op beloftes. Dis waarom Abraham aan sy slawe kon sê: “Ek en die seun gaan daar aanbid, dan kom ons terug na julle toe” (Genesis 22:5, klem bygevoeg) en waarom hy vir sy seun kon sê: “God self sal die offerlam voorsien . . .” (Genesis 22:8, klem bygevoeg)



Iets wat dikwels in hierdie verhaal verlore raak is Isak se geloof en gehoorsaamheid. So dikwels, wanneer ons hierdie verhaal lees, dink ons aan Isak as 'n jong kind, 'n klein seuntjie, maar die meeste Bybelse geleerdes glo hy was tussen 18 en 33 jaar oud—hy was immers groot en sterk genoeg om die hout vir die offerande te dra.



In Isak se verhaal, sien ons hier 'n ongelooflike ooreenkoms met God se plan van verlossing deur Jesus, die Lam van God wat die sondes van die wêreld kom dra het. Die meeste geleerdes glo Isak het geweet wat aan die gebeur was. Hy het die hout vir sy eie offer gedra en stilgebly terwyl hy op die altaar geplaas is. Hy het nie geprotesteer toe Abraham die mes gelig het nie; geensins. Hy het homself gewillig aan sy vader oorgegee . . . net soos Jesus! James E. Goodman beskryf Isak as “wetend en gewillig, stil—indien nie tjoepstil nie—en bo alles nie lydend nie.” Clement van Alexandria het geskryf: “Hy (Jesus) is Isak . . . hy was die seun van Abraham soos Christus die Seun van God was en 'n offerande net soos die Here.”



Teen die einde het God Abraham se hand gekeer en 'n ander offer voorsien. “Abraham het toe die plek genoem 'Die Here voorsien'. Daar word nou nog gesê: 'Op die berg van die Here word voorsien’” (Genesis 22:14). Kersfees is 'n viering van die oomblik wat God die Lam voorsien het!



Vra God vandag iets van jou wat stapelgek voorkom? Roep Hy jou om iets te doen wat jy nie verstaan nie, iets bo jou denkvermoë? Miskien daag Hy jou uit om na 'n ander stad of land te verhuis, 'n nuwe werk te aanvaar of met Bybelstudie in jou huis of werksplek te begin. Miskien lei Hy jou om die evangelie met jou buurman, klasmaat of kollega te deel. Volg Abraham se voorbeeld en eer daardie roeping! Wanneer jy gehoorsaam en in geloof uitgaan, is die Here getrou om jou te seën, daardeur te dra en iets werklik wonderbaars in en deur jou te doen!


Dag 3Dag 5

Aangaande hierdie leesplan

Noel: Christmas Is For Everyone

Oor die volgende 12 dae gaan ons deur die Kersfeesverhaal reis en ontdek hoekom dit die grootste verhaal is wat ooit vertel is en ook dat Kersfees vir almal bedoel is!

Baie dankie aan Calvary Chapel Ft. Lauderdale wat hierdie leesplan voorsien het. Vir meer inligting, besoek asb.: http://CalvaryFTL.org

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid