Leesplan inligting

Noël: Kersfees Is Vir AlmalVoorbeeld

Noel: Christmas Is For Everyone

DAG 8 VAN 12

'n Indrukwekkende Lied


Deur Danny Saavedra



"Ek maak die Naam van die Here groot. Ek juig oor God. Hy is my Redder. Ek is glad nie belangrik nie, ek is maar een van God se diensmeisies; tog het Hy my raakgesien. Van nou af sal my naam op almal se lippe wees. Alle geslagte sal sê dat ek die gelukkigste vrou op die aarde is, want die Almagtige het groot dinge aan my gedoen. Hy is heilig. Daar is niemand soos Hy nie. Sy goedheid hou aan van geslag tot geslag. Die Here het magtige dinge gedoen. Hy het maar net 'n beweging met sy hand gemaak, dan het groot dinge gebeur. Almal wat te veel van hulleself dink, het Hy oor die aarde verstrooi. Magtige heersers het Hy van hulle trone afgestamp, en nederige mense belangrik gemaak. Honger mense het Hy by 'n feesmaal laat aansit terwyl die rykes met leë hande moes wegstap. God het sy volk Israel baie jammer gekry. Hy het nooit sy beloftes vergeet wat Hy aan hulle gemaak het nie. Hy het sy goedheid oor hulle uitgestort, presies net soos Hy aan Abraham belowe het—aan hom en aan sy hele nageslag. Ja, God se beloftes is vir altyd waar"Lukas 1:46-55 (DB).



Wat is die beste ding wat al ooit met jou gebeur het? Wat is daardie een oomblik in jou lewe wat jou met soveel vreugde gevul het dat jy dit eenvoudig nie vir jouself kon hou nie? Vir my was dit toe ek uitgevind het dat my vrou ons eerste kind verwag. Sy het my op my verjaarsdag vertel, 'n paar uur voordat ons by ons beste vriende sou gaan eet.



Ongeveer 'n jaar vroeër, het ons swanger geraak, maar die baba verloor. Eers was ons bang om vir mense te vertel as gevolg van dit wat die vorige keer gebeur het, maar hierdie keer het dit anders gevoel. Ek het werklik gevoel dat die Here vir my sê dat dit sou gebeur. Daarom het ons nie toegelaat dat vrees ons vreugde en opgewondenheid steel nie, en het ons dus besluit om die nuus daardie aand met ons vriende te deel.



My hele lewe lank wou ek 'n pa wees, en toe die oomblik uiteindelik aanbreek, was my vreugde so groot dat ons ons seun Judas genoem het, wat "prys" beteken! En nie 'n dag het verbygegaan waarin ek God nie met my hele hart geloof het vir die wonderlike, goedhartige, energieke, unieke, kreatiewe, merkwaardige kind wat my Judas is nie.



Vandag gaan ons na een van die pragtigste gedeeltes in die Bybel kyk, een van die mooiste versamelings van woorde wat ooit geskryf is. Dit word Die Lofsang van Maria genoem, haar lied van lofprysing aan die Here.



Verbeel jou jy is Maria op daardie oomblik. 'n Paar dae gelede het 'n engel van die Here jou kom vertel dat die Heilige Gees jou sou swanger maak en dat jy geboorte sou skenk aan die langverwagte Messias, wat aan Abraham belowe is . . .



Die Een wat die kop van die slang eens en vir altyd sou verbrysel . . .


Die Saad deur wie al die families op aarde geseën sou word . . .


Die Koning wat vir ewig op die troon van Dawid sou sit . . .


Die Redder wat die mensdom sou verlos . . .



Wat was haar reaksie op hierdie skokkende nuus? “Ek is tot beskikking van die Here. Laat met my gebeur wat u gesê het” (Lukas 1:38). Sjoe! Sy pak toe in en gaan kuier by haar niggie, wat ook swanger was. Die oomblik toe sy haar groet, verklaar Elisabeth deur middel van die Gees dat Maria geseënd is bo alle vroue omdat sy gekies is om die moeder van die Here te wees. Dit is die oomblik toe Maria nie langer haar vreugde en opgewondenheid kon bedwing nie! Sy verklaar: "Ek maak die Naam van die Here groot. Ek juig oor God. Hy is my Redder."



Jy het dalk opgelet dat daar ooreenkomste is tussen Maria se lofsang en Hanna s'n in 1 Samuel 2. Die teoloog Alexander MacLaren skryf so daaroor: "Moet die eenvoudige dorpsmeisie 'n digteres wees omdat sy die ma van die Here is? Wat is meer waarskynlik as dat sy haar emosies verwoord in vorms wat vir haar bekend is en dus baie soos Hanna se lofsang klink. Hierdie ou Psalms was die vorms wat aan haar bekend was en daarom kon sy haar loflied instinktief daarvolgens skoei, eerder as om haar eie oorspronklike lofsang te dig." Het jy al 'n oomblik in jou lewe beleef toe 'n lied, Psalm of Bybelvers by jou opgekom het, wat jou gehelp het om dit wat jy voel te verwoord? Dis is baie waarskynlik wat hier met Maria gebeur het! Sy het Hanna se loflied onthou en dit verpersoonlik om haar eie onmeetbare gevoel van vreugde, dankbaarheid en geluk uit te druk.



Vriend, aangesien Kersfees baie naby is, wil ek jou aan iets herinner: Die Lofsang van Maria kan ook joune wees! Dit kan die woorde wees wat ons aan die Here sing. Net soos Maria, moet ons ook hierdie lofsang met oorvloedige vreugde sing: "Die Almagtige het groot dinge aan my gedoen. Hy is heilig. Daar is niemand soos Hy nie." Ons kan almal jubelend sing oor die wonderlike dinge wat die Here vir ons gedoen het! Elke dag in ons lewens kan 'n Lofsang aan ons God wees.



Gebruik vandag tyd om jou Lofsang aan Jesus te sing. Spreek dit uit, sing dit of skryf dit neer. Jy kan 'n bekende, diepgaande aanbiddingslied gebruik, of 'n Bybelgedeelte of Psalm—maak dit jou eie. Verklaar vandag jou vreugde en dankbaarheid teenoor jou grote God en Vader!


Dag 7Dag 9

Aangaande hierdie leesplan

Noel: Christmas Is For Everyone

Oor die volgende 12 dae gaan ons deur die Kersfeesverhaal reis en ontdek hoekom dit die grootste verhaal is wat ooit vertel is en ook dat Kersfees vir almal bedoel is!

Baie dankie aan Calvary Chapel Ft. Lauderdale wat hierdie leesplan voorsien het. Vir meer inligting, besoek asb.: http://CalvaryFTL.org

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid