Lewensbeginsels Waarvolgens Jy Kan Leef

Bybeldagboek

Gebed:Ons Tydsbespaarder

Lewensbeginsel 27: Gebed is die lewe se grootste tydsbespaarder.

Verandering is nooit maklik nie, veral wanneer ons keuses ander mense affekteer. Verandering beteken belangrike keuses moet gemaak word—die moontlikheid van verskriklike foute en deurlopende gevolge. Ons is op pad na 'n ramp wanneer ons sulke keuses maak sonder om die Here se leierskap te erken. Maar wanneer ons tot God bid, Sy leiding vra en onsself verbind met Sy wil, werk Hy op verstommende maniere om ons te help.

Gebed is altyd die lewe se beste tydsbespaarder. Die Here weet presies wat jy nodig het, en Hy sal altyd jou gebede beantwoord soos wat dit absoluut die beste vir jou is. Spandeer dus tyd om na Hom te luister, Sy wysheid en leiding te ontvang en Sy teenwoordigheid en Sy krag in te drink. Wees stil voor Hom, rus in Hom, en laat Hom toe om jou voetstappe te bepaal. Hy sal jou daarvan weerhou om in die verkeerde rigting te beweeg of om jou tyd te mors deur nuttelose dinge te doen.

Is jy bereid om stil te staan en na Hom te luister? Is jy gereed dat Hy jou so vrugtevol maak as wat jy kan wees? In daardie geval, maak nie saak wat jou in die gesig staar nie, verbind jou aan Sy plan, wysheid, voorsiening en leiding, deur gebed. Jy sal vind dat tyd saam met Hom die beste belegging is wat jy ooit kan maak.