Romeine 12:9-21

Romeine 12:9-21 DB

Moenie net maak asof julle mekaar liefhet nie. Nee, gee regtig vir mekaar om. Haat alles wat sleg is. Doen net waarvan God hou. Julle moet mekaar soos eie broers en susters liefhê. Behandel mekaar met groot respek en agting. Moenie vir een enkele oomblik verslap in julle diens aan die Here nie. Nee, laat die Gees julle met sy krag aan die brand steek sodat julle voluit vir God kan leef. Dien die Here met groot oorgawe. Sien met blydskap uit na daardie dag waarop die Here alles nuut kom maak. Moenie mismoedig word as julle ly omdat julle Christene is nie. Bid sonder ophou. Help ander gelowiges wat swaarkry. Wees gasvry. Stel julle huise tot beskikking van gelowiges wat nie ’n plek het om tuis te gaan nie. Moenie mense beledig wat julle vervolg nie. Bid eerder dat God sy goedheid in hulle lewens sal uitstort. Lag en vier fees saam met elkeen wat bly is. Huil saam met elkeen wat hartseer is. Leef in harmonie met mekaar. Moenie baklei nie. Moenie beter as ander mense probeer wees nie. Maak vriende met mense wat nie te veel van hulleself dink nie. Onthou: julle beskik nie oor al die kennis en wysheid in die wêreld nie. Wees nederig. Moenie net regsit om ander mense in eie munt terug te betaal as hulle iets verkeerds aan julle gedoen het nie. Doen liewer goeie dinge sodat ander mense kan sien dat julle God dien. Doen van julle kant af alles in julle vermoë om in vrede met ander mense te leef. Laat staan al julle wraakplanne, my liewe broers en susters. Dit pas glad nie by gelowiges nie. Los sulke dinge vir God. Daar staan immers in die Bybel: “‘Ek alleen het die reg om te straf; Ek sal wraak neem,’” sê die Here. “‘As jou vyand honger is, moet jy sorg dat hy iets te ete kry. As hy dors is, moet jy hom iets gee om te drink. As jy dit doen, sal jy hom verskriklik skaam maak.’” Moenie toelaat dat dit wat sleg is in jou lewe die oorhand kry nie. Oorwin die Bose deur te doen wat God van jou vra.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid