ROMEINE 12:9-21

ROMEINE 12:9-21 Bybel vir almal (ABA)

Julle moet waarlik lief wees vir mekaar. Julle moet slegte dinge haat en graag goeie dinge doen. Julle behoort aan Christus en aan mekaar, daarom moet julle lief wees vir mekaar. Julle moet eerste wees om ander mense te respekteer. Julle moenie lui wees nie, julle moet hard werk in die gemeente. Dit moet vir julle lekker wees. Julle moet die Here dien. Julle moet wys dat julle bly is, want julle weet dat die Here julle sal red. Wanneer julle swaarkry, dan moet julle geduldig wees. Julle moet aanhou bid. Party mense wat ook aan die Here behoort, het baie min goed. Julle moet van julle goed vir hulle gee. Julle moet vriendelik wees met vreemdelinge. Wanneer mense slegte dinge aan julle doen, dan moet julle vir die Here vra om goed te wees vir hulle, julle moenie vir Hom vra om hulle te straf nie. Wanneer ander mense bly is, dan moet julle saam met hulle bly wees. Wanneer hulle hartseer is, dan moet julle saam met hulle hartseer wees. Julle moet altyd gereed wees om saam te werk met mekaar. Julle moenie dink dat julle baie belangrik is en dat julle nie by mense kan wees wat nie so belangrik soos julle is nie. Julle moenie dink julle weet alles nie. Wanneer mense slegte dinge aan julle doen, dan moet julle nie ook slegte dinge aan hulle doen nie. Julle moet goeie dinge doen. Al die mense moet dink dit is goeie dinge. Julle moet baie hard probeer om in vrede te lewe met ander mense. Liewe vriende, wanneer mense slegte dinge aan julle doen, dan moet julle nie self vir hulle straf nie. Julle moet wag, God sal hulle straf, want in die Ou Testament is geskryf: Die Here sê: Dit is Ék wat mense sal straf oor wat hulle verkeerd gedoen het. Maar daar is ook geskryf: Wanneer jou vyande honger is, dan moet jy vir hulle kos gee om te eet, en wanneer hulle dors is, dan moet jy vir hulle iets gee om te drink. As jy dit doen, dan sal hulle baie skaam word, hulle sal nie meer jou vyande wil wees nie. Jy moenie dat slegte dinge jou oorwin nie. Jy moet goeie dinge doen, sodat jý die slegte dinge kan oorwin.

ROMEINE 12:9-21 Die Boodskap (DB)

Moenie net maak asof julle mekaar liefhet nie. Nee, gee regtig vir mekaar om. Haat alles wat sleg is. Doen net waarvan God hou. Julle moet mekaar soos eie broers en susters liefhê. Behandel mekaar met groot respek en agting. Moenie vir een enkele oomblik verslap in julle diens aan die Here nie. Nee, laat die Gees julle met sy krag aan die brand steek sodat julle voluit vir God kan leef. Dien die Here met groot oorgawe. Sien met blydskap uit na daardie dag waarop die Here alles nuut kom maak. Moenie mismoedig word as julle ly omdat julle Christene is nie. Bid sonder ophou. Help ander gelowiges wat swaarkry. Wees gasvry. Stel julle huise tot beskikking van gelowiges wat nie ’n plek het om tuis te gaan nie. Moenie mense beledig wat julle vervolg nie. Bid eerder dat God sy goedheid in hulle lewens sal uitstort. Lag en vier fees saam met elkeen wat bly is. Huil saam met elkeen wat hartseer is. Leef in harmonie met mekaar. Moenie baklei nie. Moenie beter as ander mense probeer wees nie. Maak vriende met mense wat nie te veel van hulleself dink nie. Onthou: julle beskik nie oor al die kennis en wysheid in die wêreld nie. Wees nederig. Moenie net regsit om ander mense in eie munt terug te betaal as hulle iets verkeerds aan julle gedoen het nie. Doen liewer goeie dinge sodat ander mense kan sien dat julle God dien. Doen van julle kant af alles in julle vermoë om in vrede met ander mense te leef. Laat staan al julle wraakplanne, my liewe broers en susters. Dit pas glad nie by gelowiges nie. Los sulke dinge vir God. Daar staan immers in die Bybel: “‘Ek alleen het die reg om te straf; Ek sal wraak neem,’” sê die Here. “‘As jou vyand honger is, moet jy sorg dat hy iets te ete kry. As hy dors is, moet jy hom iets gee om te drink. As jy dit doen, sal jy hom verskriklik skaam maak.’” Moenie toelaat dat dit wat sleg is in jou lewe die oorhand kry nie. Oorwin die Bose deur te doen wat God van jou vra.

ROMEINE 12:9-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Moenie veins dat jy ander liefhet nie; doen dit uit jou hart. Haat alles wat verkeerd is; kies kant vir wat goed is. As broers en susters in God se huisgesin moet julle mekaar in liefde koester en voor in die ry staan om mekaar met respek te hanteer. Moenie sleepvoet wees in julle toewyding nie; wees entoesiasties; wees werklik diensbaar vir die Here. Wees bly oor die wonderlike toekoms wat God vir julle beplan. Volhard in tye van swaarkry; moenie verslap in die gebed nie. As medegelowiges in nood verkeer, wees jy die een om ’n helpende hand na hulle toe uit te steek. Maak ’n gewoonte daarvan om gasvry te wees – maak nie saak of dit oor kos of slaapplek gaan nie. As mense julle oor julle geloof vervolg, moenie ’n vloek oor hulle uitspreek nie, maar vra God om hulle te seën. As ander blydskap ervaar, juig saam met hulle. As hulle hartseer is, deel dit met hulle. Konsentreer op dit wat onderlinge eensgesindheid bevorder. Moenie belangrik probeer wees nie, maar vind julle geluk by die nederiges. Moenie dink dat net julle altyd reg is nie. Moenie vir enigiemand kwaad met kwaad terugbetaal nie; wees positief teenoor alle mense. Sover dit vir julle moontlik is, moet julle goeie verhoudings handhaaf met alle mense. Geliefdes, julle moet julleself nie wreek nie. Laat die straf aan God oor. Daar staan mos in die Skrif: “Dit is mý reg om te straf; Ek sal vergeld, sê die Here.” Doen eerder wat die Skrif sê: “As jou vyande honger is, gee aan hulle iets om te eet. As hulle dors is, les hulle dors. Deur dit te doen, sal julle hulle bloedrooi van skaamte maak.” Moenie toelaat dat die slegte julle onderkry nie, maar deur goed te doen moet julle die slegte te bowe kom.

ROMEINE 12:9-21

ROMEINE 12:9-21 AFR83ROMEINE 12:9-21 AFR83ROMEINE 12:9-21 AFR83

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid