Romeine 12

12
Dien God en mekaar
1Ek wil nou ’n baie ernstige versoek tot julle rig. Ek doen dit omdat julle begryp hoe baie God vir julle omgee. Gee julle hele lewe aan Hom. Julle moet lewende offers in God se hand wees. ’n Lewe wat voltyds afgesonder is vir Hom is presies waaroor godsdiens gaan.
2Moenie tuis raak in hierdie wêreld met al sy boosheid nie. Nee, laat God julle van binne af nuutmaak. Laat Hy julle manier van dink verander sodat julle kan weet wat Hy van julle verwag. Dan sal julle ook weet wat sy wil is en hoe julle julle hele lewe elke dag aan Hom moet oorgee.
3Weet julle, God is baie goed vir my. Hy het my as sy apostel aangestel om sy wil bekend te maak. Daarom kan ek vir julle almal sê dat julle nie te veel van julleself moet dink nie. Nee, wees nederig. Onthou dat julle geloof ’n geskenk uit God se hand is. Wees dankbaar vir die geloof wat julle wel van Hom ontvang het. En hou op om julle met ander te vergelyk.
4Ek wil dit met die beeld van ’n liggaam verduidelik. ’n Liggaam bestaan uit baie ledemate. Ons as kerk is ook soos ’n liggaam. 5Ons is Christus se liggaam hier op aarde. Net soos die verskillende liggaamsdele elkeen sy eie funksie het, het ons as gelowiges ook verskillende funksies. 6Om ons te help om hierdie funksies te vervul het God vir ons elkeen besondere hemelse geskenke gegee. Ons almal het nie dieselfde geestelike geskenke van Hom ontvang nie. God het dit aan ons elkeen uitgedeel soos Hy goedgedink het.
As jou hemelse geskenk is om God se boodskap bekend te maak, doen net dit. Maak sy wil bekend in die geloof wat jy daarmee saam uit God se hand ontvang het. 7As jy oor die gawe beskik om ander mense te dien, dien hulle dan met oorgawe. As jou hemelse geskenk is om ander te leer waaroor ons verhouding met God gaan, doen net dit. 8As jy die gawe het om ander mense te vermaan en te vertroos, doen dit. As jou hemelse gawe is om jou besittings met ander te deel, moet dan nie suinig wees nie. As dit God se geskenk aan jou is dat jy een van die leiers in die kerk moet wees, doen dit met toewyding. En as jy oor die gawe beskik om mense te help wat in nood verkeer, doen dit met blydskap.
Gee regtig vir mekaar om
9Moenie net maak asof julle mekaar liefhet nie. Nee, gee regtig vir mekaar om. Haat alles wat sleg is. Doen net waarvan God hou. 10Julle moet mekaar soos eie broers en susters liefhê. Behandel mekaar met groot respek en agting.
11Moenie vir een enkele oomblik verslap in julle diens aan die Here nie. Nee, laat die Gees julle met sy krag aan die brand steek sodat julle voluit vir God kan leef. Dien die Here met groot oorgawe.
12Sien met blydskap uit na daardie dag waarop die Here alles nuut kom maak.
Moenie mismoedig word as julle ly omdat julle Christene is nie.
Bid sonder ophou.
13Help ander gelowiges wat swaarkry. Wees gasvry. Stel julle huise tot beskikking van gelowiges wat nie ’n plek het om tuis te gaan nie.
14Moenie mense beledig wat julle vervolg nie. Bid eerder dat God sy goedheid in hulle lewens sal uitstort.
15Lag en vier fees saam met elkeen wat bly is. Huil saam met elkeen wat hartseer is.
16Leef in harmonie met mekaar. Moenie baklei nie.
Moenie beter as ander mense probeer wees nie. Maak vriende met mense wat nie te veel van hulleself dink nie. Onthou: julle beskik nie oor al die kennis en wysheid in die wêreld nie. Wees nederig.
17Moenie net regsit om ander mense in eie munt terug te betaal as hulle iets verkeerds aan julle gedoen het nie. Doen liewer goeie dinge sodat ander mense kan sien dat julle God dien.
18Doen van julle kant af alles in julle vermoë om in vrede met ander mense te leef. 19Laat staan al julle wraakplanne, my liewe broers en susters. Dit pas glad nie by gelowiges nie. Los sulke dinge vir God. Daar staan immers in die Bybel:
“‘Ek alleen het die reg om te straf; Ek sal wraak neem,’” sê die Here. 20“‘As jou vyand honger is, moet jy sorg dat hy iets te ete kry. As hy dors is, moet jy hom iets gee om te drink. As jy dit doen, sal jy hom verskriklik skaam maak.’”
21Moenie toelaat dat dit wat sleg is in jou lewe die oorhand kry nie. Oorwin die Bose deur te doen wat God van jou vra.

Tans Gekies:

Romeine 12: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid