EFESIËRS 5:22-33

EFESIËRS 5:22-33 NLV

Vroue, julle moet aan julle mans onderdanig wees, soos aan die Here. Op dieselfde manier wat Christus hoof is van die kerk, is ’n man hoof van sy vrou. Christus het sulke hoofskap uitgeoefen toe Hy die kerk verlos het. Soos die kerk aan Christus onderdanig is, moet julle, vroue, in alles elkeen aan julle eie man onderdanig wees. Mans, julle moet julle vroue liefhê net soos Christus die kerk liefgehad het toe Hy sy lewe daarvoor gegee het om só die kerk aan God toe te wy nadat Hy die kerk met die water en deur die woord gereinig het en sodat Hy die kerk in al sy skoonheid voor Hom kan stel, nie met enige vlek of plooi of enige ander onsierlikheid nie, maar aan God toegewy en onberispelik. Op dieselfde manier moet mans hulle eie vroue liefhê. Hulle moet hulle liefhê asof hulle hulle eie liggame is. ’n Man wat sy eie vrou liefhet, het dus eintlik homself lief. ’n Mens haat mos nie jou liggaam nie, maar voed en versorg dit. Christus maak net so met ons, die kerk, omdat ons ledemate van sy liggaam is. Daar staan mos: “’n Man sal weggaan van sy pa en ma en een word met sy vrou, en hulle twee sal een wees.” Dit is eintlik ’n diep geheim, en ek noem dit om die verhouding tussen Christus en die kerk te beskryf. Dit geld egter ook vir julle: Elkeen van julle moet sy eie vrou liefhê soos hy homself liefhet, en die vrou moet haar man respekteer.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid