EFESIËRS 5:22-33

EFESIËRS 5:22-33 Bybel vir almal (ABA)

Vroue, julle dien die Here, daarom moet julle ook julle mans dien, want die man is die hoof van sy vrou, soos Christus die hoof van die kerk is. Die kerk is Christus se liggaam en Hy het die kerk gered. Maar die kerk dien vir Christus, en so moet die vroue ook altyd hulle mans dien. Mans, julle moet lief wees vir julle vroue, soos Christus lief is vir die kerk. Christus het gesterf sodat die kerk kan lewe. Hy het gesterf sodat die kerk, die gelowiges, aan God kan behoort. Nou is hulle rein, want hulle is gedoop en Christus het gesê hulle behoort aan Hom. Christus het gesterf sodat die kerk sy bruid kan wees, 'n bruid wat baie mooi is. Christus wou hê die gelowiges moet niks sonde doen nie en hulle moet heeltemal reg lewe. Die mans moet so lief wees vir hulle vroue, so lief soos Christus vir die kerk is. Ja, die mans moet lief wees vir hulle vroue, so lief soos hulle vir hulleself is. As mans lief is vir hulle vroue, dan is hulle ook lief vir hulleself. Mense is altyd lief vir hulleself en hulle sorg goed vir hulle eie liggame. Christus sorg ook so vir sy liggaam, die kerk, en ons behoort almal aan die kerk, sy liggaam. In die Ou Testament is geskryf: Daarom sal 'n man weggaan van sy pa en sy ma en hy sal saam met sy vrou lewe. Hulle twee sal soos een mens wees. Dit is baie moeilik om te verstaan hoe 'n man en 'n vrou een kan wees. Ek sê dit is net so moeilik om te verstaan hoe Christus en die kerk een is. Ek sê weer, elke man moet lief wees vir sy vrou, so lief soos hy vir homself is. En elke vrou moet haar man respekteer.

EFESIËRS 5:22-33 Die Boodskap (DB)

Laat ek eers met die vroue praat. Jy moet die leiding van jou man aanvaar soos ons die leiding van die Here aanvaar. Die man moet die leiding oor sy vrou neem soos Christus die leiding in sy kerk neem. Hy het mos sy kerk uit die kloue van die sonde gered. Soos die kerk dus die leiding van Christus aanvaar, so moet die vrou ook haar man se leiding in alles aanvaar. Vir die man wil ek die volgende sê: Jy moet jou vrou liefhê; wees lojaal teenoor haar en kom jou verpligtings teenoor haar na soos Christus dit teenoor sy kerk doen. Hy het selfs sy lewe ter wille van die kerk gegee toe dit nodig was. Dit het Hy gedoen sodat die kerk net God s’n kan wees en daar niks in die kerk moet wees wat nie by God pas nie. Dit het gebeur deur die doop en die Woord. So sal die kerk in ongekende heerlikheid by Hom wees. Daar sal niks met die kerk verkeerd wees nie en niemand sal enige fout met die kerk kan vind nie. Die kerk sal net God s’n wees en net vir Hom daar wees. Die man behoort net so lief te wees vir sy vrou as wat hy vir homself is. Buitendien, die man wat sy vrou liefhet, het eintlik homself lief, want hulle is mos een in die huwelik. Ek het nog nie van iemand gehoor wat homself vurig haat nie. Nee, hy kyk liewer na homself en versorg homself mooi. Dit is wat Jesus met die kerk doen, want die kerk is vir Hom sy eie liggaam. Die Skrif sê mos: “’n Man moet sy pa en ma verlaat en met sy vrou gaan saamleef. Die twee sal soos een mens wees.” Mense kan hierdie dinge nie altyd mooi verstaan of verklaar nie. Ek noem dit omdat dit vir ons iets leer oor die sterk band wat daar tussen Christus en sy kerk is. Dit geld ook van julle: elke man moet sy vrou net so liefhê as wat hy homself het, en die vrou moet haar man respekteer.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid