DIE ROOI TOU: 'n verhaal van redding en hoop预览

Van buitestander tot kind van God deur Jesus se bloed
Ragab, die Kanaäniet, prostituut en buitestander, het deel van die volk van Israel geword – deel van God se familie. Hierdie merkwaardige transformasie is ’n voorbeeld wat God deur Jesus Christus vir elkeen van ons doen.
Net soos Ragab, was ons ook eens buitestanders – sonder hoop, verlore en sonder God in die wêreld. Paulus skryf in Efesiërs 2:13: “Maar nou het julle wat toe ver weg was, deur julle verhouding met Christus naby gekom. Dit is moontlik gemaak deur Christus se dood aan die kruis” (Efesiërs 2:13, NLV) en dan later voeg hy by: “Julle is dus nie meer uitlanders en bywoners nie, maar medeburgers van hulle wat aan God behoort. Ja, julle is lede van God se huisgesin” (Efesiërs 2:19, NLV).
Deur die bloed van Jesus Christus is ons deel van die gemeenskap van die gelowiges– ’n geestelike familie wat mense van elke stam, taal en nasie insluit. Sy bloed het ons skuld afgewas en vir ons ’n nuwe identiteit gegee: Kinders van die lewende God. In die gemeenskap van die gelowiges is daar geen onderskeid op grond van ras, agtergrond of status nie. Net soos Ragab volkome aanvaar is, is ons ook deel van God se gesin.
Die behoefte om te behoort is een van die diepste menslike begeertes. God het ons as wesens geskep wat verbind aan ander wil wees. Om te behoort beteken meer as net om deel van ’n gemeenskap te wees – dit spreek van aanvaarding, waarde en ’n gevoel van veiligheid.
Hierdie verbondenheid bring genesing vir die velle eensaamheid wat soveel mense ervaar. Wanneer ons aan God se familie behoort, vind ons nie net ons plek in sy koninkryk nie, maar ons ervaar ook die vreugde van eenheid in Christus.
Ons is nie meer vreemdelinge en bywoners nie; ons is medeburgers van God se koninkryk en erfgename van sy beloftes. Ons behoort nie net aan onsself nie, ons behoort aan Hom én aan mekaar. Hierdie nuwe verhouding skep ’n diep gebondenheid met ander gelowiges en roep ons op om gesamentlik God se doel op aarde uit te leef.
Onthou dat jy nie alleen is nie. Jy is deel van ’n wêreldwye familie van gelowiges. Soos Ragab se geloof haar gered het, kan jou getuienis ander inspireer om God te ontmoet. Deel die boodskap van redding. Moedig liefde, aanvaarding en samewerking in jou geloofsgemeenskap aan.
Gebed
Hemelse Vader, dankie dat U my deur Jesus se bloed in u familie ingebring het. Dankie dat ek nie meer ’n buitestander is nie, maar ’n kind van God. Help my om hierdie waarheid uit te leef en om aan die eenheid van u liggaam te bou. Gee my die moed om u liefde en redding met ander te deel, sodat meer mense u genade kan ervaar. Amen.
读经计划介绍

Stap saam op 'n reis van 40 dae, waar die rooi draad van genade jou lei van Ragab se venster in Jerigo tot by die kruis op Golgota. Hierdie 40-dae plan onthul hoe God se genade geen grense het nie, en hoe geloof en gehoorsaamheid 'n hele nuwe bestemming kan skep.
More