DIE ROOI TOU: 'n verhaal van redding en hoop预览

Jou keuse die sleutel tot ‘n nuwe toekoms
Wanneer ons na Jesus se geslagsregister kyk, ontdek ons iets besonders: Dit is gevul met name van mense wie se lewens alles behalwe perfek was! Ons lees van Tamar die skoondogter van Juda wat skandalig geleef het volgens die standaarde van die tyd.
Rut was ‘n Moabitiese vrou, ‘n nie-Israeliet, wat deur haar lojaliteit aan Naomi haar geloof in God geplaas het en ‘n plek in die geslagslyn van Jesus verwerf het deur haar seun Obed die oupa van koning Dawid. Batseba op haar beurt word genoem in verband met haar owerspelige verhouding met Dawid.
Ten spyte van haar sondige geskiedenis, word sy deel van die geslagslyn van Jesus deur Salomo, haar seun. Die lewe is vol keuses en sommige van hierdie keuses het blywende en ewige implikasies. Dink aan God se woorde in Deuteronomium:
“Vandag gee ek aan jou die keuse tussen lewe en dood, tussen seën en vloek. Ek roep die hemel en die aarde as getuies vir die keuse wat jy gaan maak. Mag jy tog die lewe kies sodat jy en jou nageslag mag lewe!” (30:19, NLV).
God gee vir ons die vryheid om tussen lewe en dood, seën en vloek, te kies. Ons keuses wys die pad na die oorvloedige lewe aan. Ragab se verhaal is ‘n treffende voorbeeld hiervan. Deur haar vrywillige keuse, haar geloof en gehoorsaamheid aan God het sy deel geword van die geslagslyn van Jesus Christus, die Messias. Haar keuse het die deur oopgemaak vir ‘n nuwe toekoms.
Elkeen van ons daagliks voor keuses wat ons toekoms vorm. Gaan ons omstandighede en slegte keuses toelaat om ons identiteit en bestemming te bepaal, of gaan ons kies om God te vertrou en sy pad te volg? Jou keuse om die Here te dien en in gehoorsaamheid te wandel, kan die venster open tot ‘n nuwe seisoen van hoop, vrede en seën.
Dink na oor die keuses wat jy onlangs gemaak het. Lei hulle jou nader aan God se wil of weg van Hom af? Begin met klein besluite. Kies om te vergewe waar daar bitterheid is. Kies om met liefde te praat in plaas van kritiek. Kies om God te vertrou in plaas van in jou eie krag te werk. Bid vir wysheid. Vra God elke dag om jou te lei in die keuses, groot en klein wat jy daagliks maak.
Gebed
Here dankie dat U my die voorreg gun om te kies – die lewe, u seëninge en u plan vir my. Ek bely dat ek dikwels foute maak, keuses uitoefen wat my van U af wegneem. Help my om elke dag bewus te wees van die krag van my keuses en om doelbewus u pad te kies. Amen.
读经计划介绍

Stap saam op 'n reis van 40 dae, waar die rooi draad van genade jou lei van Ragab se venster in Jerigo tot by die kruis op Golgota. Hierdie 40-dae plan onthul hoe God se genade geen grense het nie, en hoe geloof en gehoorsaamheid 'n hele nuwe bestemming kan skep.
More