DIE ROOI TOU: 'n verhaal van redding en hoop预览

Die deur van beskerming
Die verspieders het op daardie dag vir Ragab gesê “As iemand van hulle by die huis se deur uitgaan buitentoe, sal hy vir sy eie dood verantwoordelik wees. Ons is dan onskuldig.” (Josua 2:19, NLV).
Die deur van Ragab se huis staan as ‘n simbool van beskerming in die groter verhaal van verlossing. Deur haar familie in die huis in te bring en hulle binne te hou, het Ragab gehoorsaam opgetree en haar vertroue in God se plan geplaas. Die "deur" wat hulle beskerm het, herinner ons aan die aand in Eksodus 12 toe die bloed van die paaslam aan die deurposte Israeliete moes beskerm toe die doodsengel deur Egipte gegaan het en aan God se waarskuwing:
“Maar niemand van julle mag uit die deur van sy huis uitgaan tot die môre toe nie” (Eksodus 12:22, OAV).
Hierdie deur van beskerming is ook ‘n heenwysing na Jesus Christus, wat sê: “Ek is die deur; as iemand deur My ingaan, sal hy beslis verlos word. Hy sal ingaan en uitgaan en groen weiding kry” (Johannes 10:9, NLV).
Soos Ragab en haar familie binne die veilige grens van die huis moes bly om verlossing te ontvang, word ons uitgenooi om binne die beskerming van Christus te bly. Hy is die enigste deur na verlossing en deur Hom ontvang ons die sekerheid van ewige lewe. Ons leef in ‘n wêreld vol versoekings en misleidende "deure" wat ons aandag probeer aftrek van God se pad, maar daar is net een deur wat lei na ware redding en ‘n lewe van oorvloed: Jesus Christus.
Hy sê self dat hy die deur is en as iemand deur Hom ingaan, sal hul gered word. Hierdie waarheid word egter ook met ‘n ernstige waarskuwing beklemtoon: “As iemand van hulle by die huis se deur uitgaan buitentoe, sal hy vir sy eie dood verantwoordelik wees” (Josua 2:22).
Dit herinner ons daaraan dat die gelowige nie by Christus se deur kan uitgaan deur sy pad te verlaat nie. Die skrywer van die Hebreërs brief waarsku ook duidelik: “Hoe sal ons ontvlug as ons so ‘n groot saligheid verontagsaam – ‘n boodskap wat die Here self begin verkondig het en wat deur dié wat Hom gehoor het, aan ons bevestig is?” (Hebreërs 2:3). Om die deur van genade te verlaat, is om die beskerming en redding wat Jesus bied, te verwerp.
Dink vandag diep na oor waar jy staan. Is jy binne die veilige ruimte van sy genade en beskerming, of waag jy dit buite sy wil? Bly getrou aan sy leiding en vertrou op sy beloftes, net soos Ragab gedoen het. Gebruik jou geloof en gebede om jou geliefdes nader te bring aan hierdie veilige ruimte in Christus. Hy nooi ons almal uit om deur die deur van beskerming in te kom en binne sy rus te bly.
Gebed
Here, dankie dat U die deur na redding is. Help my om getrou binne die veilige ruimte van u wil te bly en nie deur misleiding of twyfel weg te dwaal nie. Laat my lewe ‘n getuienis wees van u genade en beskerming. Amen.
读经计划介绍

Stap saam op 'n reis van 40 dae, waar die rooi draad van genade jou lei van Ragab se venster in Jerigo tot by die kruis op Golgota. Hierdie 40-dae plan onthul hoe God se genade geen grense het nie, en hoe geloof en gehoorsaamheid 'n hele nuwe bestemming kan skep.
More