DIE ROOI TOU: 'n verhaal van redding en hoop预览

God se genade in gemeenskap
Die verhaal van Ragab wys hoe God se genade nie net individueel werk nie, maar ook binne ‘n gemeenskap. Toe Ragab haar geloof in die God van Israel geplaas het, was dit nie net sy wat beskerming en redding ontvang het nie, haar hele familie is saam met haar in die huis versamel en gered:
“Josua het vir die twee mans wat die land kom verken het, gesê: ‘Gaan na die prostituut se huis toe en bring die vrou met almal wat by haar is daar uit, soos julle haar beloof het’”(Josua 6:22, NLV).
Ons leef in ’n wêreld waar die individu al hoe meer as die middelpunt van alles beskou word. Van selfhelp tot selfverwesenliking is die boodskap dikwels: Jy moet jouself ontwikkel, vir jouself sorg en jou eie pad baan! In hierdie kultuur van individualisme word gemeenskap dikwels afgewys as minder belangrik.
Die gevolg hiervan is dat mense toenemend geïsoleerd, eensaam en ontkoppel van mekaar raak. Wanneer ons God se handelinge deur die Bybelse geskiedenis bestudeer, sien ons sy fokus op gemeenskap. God self leef in ’n ewige gemeenskap van liefde en daarom is ons as mense geskep om in saam in gemeenskap te leef, nie in isolasie nie.
Hy het Israel geroep – ‘n lig vir die nasies te wees. Hulle was deel van ’n groter narratief, geroep om as ’n gemeenskap God se wil uit te leef. In Jesus se bediening sien ons ook sy aandag aan gemeenskap. Hy het nie net individuele siele gered nie; Hy het groepe mense aangeraak– die twaalf dissipels, families en selfs stede.
Jesus brei hierdie konsep uit deur die kerk te vestig – nie as 'n samekoms van individue nie, maar as ’n liggaam wat saamwerk. Dit wys vir ons dat God se genade ons uitnooi om ander deel te maak van sy reddingsplan. Ragab se geloof het ‘n invloed op haar familie gehad. Hulle het gesamentlik onder die beskerming van die rooi tou bymekaargekom en het God se beloftes vertrou.
Net so word ons, as gelowiges, geroep om ons geloof uit te leef op ‘n manier wat ander om ons beïnvloed en hulle nader aan God bring.
Dink vandag aan jou gesin, familie of gemeenskap. God wil hulle red en herstel en jy kan 'n instrument in sy hand wees. Wie in jou kring het nodig dat jy jou getuienis met hul deel?
Begin deur spesifiek vir jou gesin, familie of gemeenskap te bid. Neem dan 'n praktiese stap om die genade wat jy ontvang het, met hulle te deel – of dit deur 'n woord van aanmoediging, 'n daad van vriendelikheid, of 'n gebed is. Laat jou liefde sigbaar word in jou woorde en dade.
Gebed
Here, dankie dat u genade nie net tot my beperk is nie, maar ‘n uitnodiging vir almal is. Help my om ‘n ligdraer van u genade binne my gemeenskap en gesin te wees. Wys my wie U vandag wil bereik deur my woorde en dade. Amen.
读经计划介绍

Stap saam op 'n reis van 40 dae, waar die rooi draad van genade jou lei van Ragab se venster in Jerigo tot by die kruis op Golgota. Hierdie 40-dae plan onthul hoe God se genade geen grense het nie, en hoe geloof en gehoorsaamheid 'n hele nuwe bestemming kan skep.
More