YouVersion Logo
Search Icon

DIE ROOI TOU: 'n verhaal van redding en hoopSample

DIE ROOI TOU: 'n verhaal van redding en hoop

DAY 10 OF 40

Die vyand weerstaan God se roeping

In Josua lees ons dat die verspieders wat deur Josua gestuur is, in die huis van Ragab, die prostituut, toevlug gevind het. Die koning van Jerigo het van die teenwoordigheid van die verspieders in die stad te hore gekom en soldate gestuur om hulle te vang. Ragab het die verspieders beskerm en hulle gehelp om te ontsnap, selfs al het dit haar eie lewe in gevaar gestel.

Daar is ‘n interessante parallel tussen hierdie gebeurtenis en die verhaal van die wyse manne in die Nuwe Testament. In Matteus 2 lees ons dat koning Herodus, wat die geboorte van die Messias as ‘n bedreiging gesien het, die wyse manne versoek het om hom in kennis te stel wanneer hulle die pasgebore Jesus vind. Die wyse manne het egter geweier om aan Herodus se versoek gehoor te gee en het ná die waarskuwing wat hulle in 'n droom ontvang het met ‘n ompad teruggekeer.

Beide hierdie stories toon vir ons hoe die magte van die wêreld probeer het om die werk van God te vernietig: Die koning van Jerigo het probeer om die verspieders wat deel van God se plan was om die beloofde land in te neem te stop en Herodus het weer gepoog om die Verlosser wat die wêreld sou red, te vermoor.

In beide gevalle kon hulle God se plan nie stop nie. Ragab het aan God se leiding gehoor gegee en die verspieders versteek. Die wyse manne het God se leiding gevolg en nie aan die koning gehoor gegee nie. Josef en Maria het met Jesus na Egipte gevlug nadat Josef in ‘n droom deur ‘n engel gewaarsku is: “Staan op en vlug met die Kindjie en sy ma na Egipte toe. Bly daar tot ek vir jou sê om terug te kom, want Herodes gaan die Kindjie probeer doodmaak” (Matteus 2:13, NLV).

Hierdie klink soortgelyk aan die woorde van Ragab wat die verspieders gewaarsku het: “Vlug na die berge toe sodat julle agtervolgers julle nie in die hande kan kry nie. Kruip drie dae lank daar weg totdat die agtervolging verby is. Julle kan daarna weer julle koers kry” (Josua 2:16, NLV).

Hierdie tema van ‘n vyand en ‘n verlore wêreld wat die werke van God probeer stop, kom herhalend in die Nuwe Testament voor. In die verhaal van die kruisdood van Jesus, het die vyand gepoog om die plan van God te beëindig, maar God het die sogenaamde weerstand gebruik om die wêreld te red:

“Nee, die wysheid waarvan ons praat, is die diepsinnige wysheid van God wat voorheen geheim gehou is, wat God van ewigheid af daargestel het sodat ons die heerlikheid kan ontvang. Maar die heersers van hierdie wêreld het dit nie begryp nie. As hulle dit wel begryp het, sou hulle nooit ons Here aan wie die heerlikheid behoort, gekruisig het nie” (1 Korintiërs 2:7-8, NLV).

Wat kan ons hieruit leer? In ons eie lewe voel ons dikwels dat daar magte is wat ons teëhou of probeer ontmoedig. Dit mag die vorm aanneem van vrese, teëstand of selfs mense wat ons probeer manipuleer. Ons moet egter nie bang wees wanneer ons met teenstand en hindernisse in ons lewe te kampe het nie. God is besig om sy plan uit te voer, al is daar magte wat poog om in ons pad te staan. Wanneer ons gehoorsaam is aan sy leiding en sy plan volg, sal Hy die nodige beskerming en leiding gee.

Gebed

Here, dankie dat U ons beskerm teen die magte van die wêreld wat ons wil weglei van u planne vir ons lewe. Help ons om gehoorsaam te wees aan U, selfs wanneer die wêreld se druk groot is. Laat ons in vertroue wandel, wetende dat U ons nooit sal verlaat nie. Amen.

About this Plan

DIE ROOI TOU: 'n verhaal van redding en hoop

Stap saam op 'n reis van 40 dae, waar die rooi draad van genade jou lei van Ragab se venster in Jerigo tot by die kruis op Golgota. Hierdie 40-dae plan onthul hoe God se genade geen grense het nie, en hoe geloof en gehoorsaamheid 'n hele nuwe bestemming kan skep.

More