YouVersion Logo
Search Icon

Wapenrusting van GodSample

Wapenrusting van God

DAY 40 OF 43

Lees: 2 Korintiërs 10:1-5

SOAP: 2 Korintiërs 10:3-5

"Natuurlik leef ons in 'n menslike liggaam, maar ons voer nie die stryd met menslike wapens nie. Die wapens van ons stryd is nie die wapens van die mens nie, maar die kragtige wapens van God wat vestings kan vernietig. Daarmee vernietig ons die redenasies en elke hooghartige aanval wat teen die kennis van God gerig word. Ons neem elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak.

Oordenking

In 2 Korintiërs 10:3-5 is ons gevegsplan. Dit maak nie saak wie ons is nie, ons kan almal van tyd tot tyd in ons persoonlike lewens sukkel, in ons verhoudings of ons werk. Hierdie daaglikse stryd kan ons uitput en ons oorweldig en verslane laat voel.

Daarom is hierdie verse so kragtig. Hulle herinner ons daaraan dat die gevegte wat ons in die gesig staar, in die eerste plek, geestelike veldslae is. God het vir ons presies gegee wat ons nodig het om terug te veg. In sy liefde en voorsiening het God ons Goddelike, bonatuurlike krag gegee om vestings te vernietig, om die argumente en opinies wat teen die kennis van God staan te verslaan, en die vermoë om elke gedagte wat ons van Christus sou weglei, gevange te neem.

God het die gordyn vir ons oopgetrek om ons te help sien wat werklik agter die skerms aangaan. Ons is nie naïef nie. Ons weet ons veg ‘n geestelike stryd wat soms in die fisiese wêreld manifesteer. Maar ons is nie bang nie, want ons weet ons veg nie ‘n verlore stryd nie. God het reeds die oorwinning behaal!

Al wat ons nou moet doen, is om God te vertrou en te gehoorsaam te midde van ons gevegte, in die wete dat daar meer is as wat ons op die oog af sien. Die wapens wat ons gebruik is dalk nie fisies nie, maar hulle het Goddelike krag wat die sterkste vestings en enige struikelblokke wat oor ons pad kom, kan afbreek. Ons veg dus terug met die krag wat God ons gegee het, en ons neem doelbewus ons gedagtes gevange, en maak hulle gehoorsaam aan Christus. Ons sal nie meer vroue wees wat deur giftige gedagtes beïnvloed word nie. Ons gee ons denke aan die Woord van God oor, en alleen aan sy Woord.

Gebed

Liewe Jesus, dankie dat U reeds die stryd gewen het. Help my om al my gedagtes gevange te neem en voor U te bring. Ek kan nie hierdie stryd op my eie veg nie. Veg vir my en help my terwyl ek daarna streef om volgens u Woord te lewe. Bewaak my denke terwyl ek probeer om my gedagtes gefokus te hou op wie U is en op wat waar is. Amen,

About this Plan

Wapenrusting van God

Die wapenrusting van God is 'n metafoor wat in die boek Efesiërs gebruik word om die geestelike beskerming en krag tot ons beskikking as volgelinge van Christus te beskryf. In die volgende ses weke sal ons leer hoe om ons te klee met elke deel van hierdie wapenrusting en hoe om dit aan te wend

More