YouVersion Logo
Search Icon

Wie Is God?Sample

Wie Is God?

DAY 52 OF 364

Wat is die wet soos God dit in die Tien Gebooie vasgestel het? – Psalm 119:73-80

Die tiende deel van Psalm 119 is ryk aan betekenis. Om die waarheid te sê, daar is verskillende vertalings moontlik by ‘n hele paar woorde wat verskillende dimensies van die betekenis van die Psalm na vore bring.

Die eerste interessante veelvlakkige betekenis is in vers 73 waar die Psalmis sê: “Met u eie hande het U my gemaak, my gevorm.” (1983-vertaling – “toeberei” in 1933-vertaling).Die laaste woord (kûn in Hebreeus) kan egter ook vertaal word in die betekenis van: “aan my ‘n plek gee” (2020-vertaling) of in die sin van “vestig” of “bevestig” (“establish” – LEB). Dit beteken dat die eerste deel van dié vers God se skeppende werk in ons geboorte bevestig, sowel as sy voortgaande werk in terme van ons “vorming”, “bevestiging” en selfs die “plek” wat Hy vir ons in die lewe gee.

Maar, dit is nie al nie. Ná dié belydenis van God se skeppende en vormende werk in sy lewe, bid die Psalmis dan in die tweede plek: “maak my verstandig, dat ek u bevele kan leer.” (2020-vertaling). Hy wil as’t ware voltooi word, meer insig in God se wil bekom, sodat sy lewe op alle vlakke aan God se visie vir hom kan beantwoord.Soos die 1983-vertaling vertaal: “Gee my insig, dat ek u gebooie kan verstaan.” En soos Peterson dit effens anders vertaal: “blaas nou u wysheid oor my sodat ek U kan verstaan."

God se kreatiewe werk in ons word dus voortgesit deur ‘n al hoe beter begrip en bemeestering van sy wil, soos uitgedruk in sy bevele (mizwôt —commandments”). En die effek daarvan is nie net ‘n al hoe meer volwasse moreel-etiese persoonlike lewe vir die Psalmis nie, maar ook ‘n publieke getuienis aan die geloofsgemeenskap: “Hulle wat vir U ontsag het, sien my en is bly, want op u woord wag ek.” (2020-vertaling).

Elkeen wat die Here dien, kan moed skep uit die feit dat ook die Psalmis se insig deur God self gevorm word, dat dit sigbaar is, en dat dit van groei getuig. Die sigbare groei steek die hoop by hulle aan dat dit ook vir hulle waar kan wees. Soos Paulus veel later vir Timoteus sou sê: “Lê jou op hierdie dinge toe, leef daarin, sodat almal jou vordering kan sien.16Let goed op jou lewe en jou leer, volhard daarin, want deur dit te doen, sal jy jouself red sowel as dié wat na jou luister” (1 Timoteus 4:15-16).

1. Die Here het ons nie net gemaak nie, maar inspireer ons om sy gebooie te kan leer en daaruit te leef. Oordink die blywende betekenis van die wet vir jou lewe.

2. Loof die Here vir die wonder van die boodskap van die hele Skrif wat die blywende basis bly vir ons lewe in en vir God.

3. Lees die verse later vandag weer om jou te herinner aan die wonder van die Skrif.

4. Jy kan later vanaand die gedeelte weer lees in die konteks van Psalm 119 met die tema: Dit gaan goed met dié wat wandel volgens die Woord van die Here.

About this Plan

Wie Is God?

Werk die volgende jaar deur antwoorde op 52 kernvrae oor God, Christus en die Gees. Elke week het sewe bydraes oor ‘n kernvraag. Dag 1: ‘n Antwoord uit die Bybel met besprekingsvrae. Dag 2-5: Vier verdere antwoorde uit die Bybel. Dag 6: Antwoorde uit die belydenisskrifte. Dag 7: 'n Boodskap. Die bydraes is gerig op gelowiges uit alle kerkverbande. Jy kan dit gebruik vir jou stiltetyd of in 'n kleingroep.

More