YouVersion Logo
Search Icon

Wie Is God?Sample

Wie Is God?

DAY 51 OF 364

Wat is die wet soos God dit in die Tien Gebooie vasgestel het? – Psalm 119:18, 49-56

Psalm 119:17:24 fokus op die nood wat die Here se “diensknegte” het om in situasies van gevaar aan die Woord van die Here getrou te bly. In vers 18 bid die Psalmis dat God hom nie in die steek sal laat nie. Hy het insig nodig in wat God se wil vir sy lewe is: “dat ek die wonders in u wet kan raaksien”.

Die sewende deel van die Psalm sluit hierby aan. Vers 49-56 wentel om die krag van God se belofte — sy woord aan sy dienskneg — wat nie net hoop in die verlede gegee het nie, maar altyd sy vertroosting in enige teenswoordige ellende is. God se belofte hou hom letterlik aan die lewe wanneer dit swaar gaan. Dit gee hom die moed om aan te gaan en die toekoms op grond van God se beloftes aan te pak.

En die Psalmis draai nie doekies om oor hoe swaar dit gaan nie. Vermetelde en arrogante mense spot hom tot die uiterste toe oor sy gehegtheid aan God se wet. Tóg het hy nie van God se wet — sy openbaring, sy woord aan die Psalmis — weggedraai nie. In die proses het ‘n groot woede oor goddelose mense hom beetgepak — dié mense wat God se wet verlaat.

Meer nog, die Psalmis stel homself nog meer daarop in om God se beslissings te onthou, dié dinge wat hy van lank gelede af al weet, en word daardeur getroos. Dit is die liedere wat hom in die vreemde aan die gang gehou het, elke keer wanneer hy in die nag daaroor nagedink het. En die Psalmis het nie net oor God se wet gesing nie, dit was sy gewoonte om hulle na te kom, elkeen van hulle.

Vanuit hierdie onthou en vashou, skeur daar dan uit hom hierdie kreet: “Onthou tog u woord aan my, die woord waarop U my laat hoop het” (Psalm 119:49). Want sy troos lê uiteindelik nie in sy eie onthou, óf sy eie woede oor goddeloses, óf sy eie gewoonte om die Woord van God te onderhou nie.

Sy troos lê in God wat sy beloftes onthou en daarom nakom.

1. Die wet is een van die kragtigste werkinge van God in die lewe. Wat staan vir jou uit van die beskrywing van die wet in Psalm 119? Wat leer jy daaruit?

2. Die doel van die lees van die Bybel is dat God se wet ons deel word. Loof die Here dat sy Gees die wet in ons harte skrywe.

3. Lees die verse later vandag weer om jou te herinner dat die Tien Gebooie jou aan God se krag blootstel.

4. Jy kan later vanaand die verse weer lees in die konteks van Psalm 119 met die tema: Dit gaan goed met dié wat wandel volgens die Woord van die Here.

About this Plan

Wie Is God?

Werk die volgende jaar deur antwoorde op 52 kernvrae oor God, Christus en die Gees. Elke week het sewe bydraes oor ‘n kernvraag. Dag 1: ‘n Antwoord uit die Bybel met besprekingsvrae. Dag 2-5: Vier verdere antwoorde uit die Bybel. Dag 6: Antwoorde uit die belydenisskrifte. Dag 7: 'n Boodskap. Die bydraes is gerig op gelowiges uit alle kerkverbande. Jy kan dit gebruik vir jou stiltetyd of in 'n kleingroep.

More