YouVersion Logo
Search Icon

LEVITIKUS 27

27
Loskoopwaardes
1Die Here het vir Moses gesê: 2“Sê vir die Israeliete: Wanneer iemand in 'n gelofte 'n persoon aan die Here gewy het, en die persoon se loskoopwaarde moet vasgestel word, 3moet die volgende riglyne geld: 'n Man van twintig tot sestig jaar kan losgekoop word teen vyf honderd en sewentig gram silwer volgens die standaardgewig van die heiligdom. 4'n Vrou van dieselfde ouderdom teen drie honderd en veertig gram. 5Tussen vyf jaar en twintig jaar is die loskoopwaarde van 'n man twee honderd en dertig gram en van 'n meisie honderd en vyftien. 6Van 'n maand oud tot op vyf jaar is 'n seun se loskoopwaarde sewe en vyftig gram en 'n dogter s'n vier en dertig. 7Bo sestig is 'n man se loskoopwaarde honderd een en sewentig gram en 'n vrou s'n honderd en vyftien. 8As iemand wat 'n gelofte afgelê het, te arm is om hierdie loskoopwaarde te betaal, moet hy die persoon oor wie dit gaan, na die priester toe bring. Die priester moet die persoon dan deurkyk en 'n bedrag bepaal wat bekostig kan word deur die een wat die gelofte afgelê het.
9“As die gelofte gaan oor 'n rein dier wat aan die Here geoffer word, geld die reël dat 'n dier wat eenmaal aan die Here gegee is, sy eiendom word. 10So 'n dier mag dus nie vervang word met 'n dier van dieselfde kwaliteit of omgeruil word vir 'n slegter of selfs 'n beter dier nie. As iemand so 'n dier tóg probeer omruil, word albei diere die Here se eiendom. 11As die gelofte gaan oor 'n onrein dier wat nie aan die Here geoffer mag word nie, moet die dier na die priester toe gebring word. 12Hy moet dan die loskoopwaarde van die dier bepaal volgens sy kwaliteit. Die oordeel van die priester is in so 'n geval finaal. 13As die persoon self die dier wil terugkoop, moet hy twintig persent meer as die vasgestelde loskoopwaarde betaal.
14“Wanneer iemand sy huis vrywillig aan die Here wy, word dit die Here se eiendom. Die priester moet dan die loskoopwaarde daarvan bepaal volgens die toestand van die gebou. Die oordeel van die priester is ook in hierdie geval finaal. 15As die persoon wat die huis gewy het, dit self weer wil terugkoop, moet hy twintig persent meer as die vasgestelde loskoopwaarde betaal. Dan is dit weer syne.
16“As iemand 'n deel van sy grond aan die Here wy, moet die loskoopwaarde bepaal word volgens die hoeveelheid saad wat gewoonlik op die stuk grond gesaai word: vir elke honderd kilogram gars is die loskoopwaarde vyf honderd en sewentig gram silwer. 17As hy die grond aan die Here wy gedurende die hersteljaar, geld die volle loskoopwaarde. 18Maar as hy die grond ná die hersteljaar wy, moet die priester die aantal seisoene wat oorbly tot die volgende hersteljaar in berekening bring en die loskoopwaarde dienooreenkomstig verminder. 19As die persoon die grond wil terugkoop, moet hy twintig persent meer as die vasgestelde loskoopwaarde betaal. Dan is dit weer syne. 20As hy die grond aan iemand anders verkoop sonder dat hy dit self teruggekoop het, kan hy dit nooit weer terugkoop nie. 21Met die hersteljaar word die grond dan, soos in die geval van grond wat as banoffer aan die Here gewy is, die eiendom van die Here. Dit word dan deel van die priesters se grond. 22As iemand 'n stuk grond wat hy gekoop het, wat dus nie sy erfgrond is nie, aan die Here wy, 23moet die priester die totale loskoopwaarde bereken wat die grond tot die volgende hersteljaar het. Die skenker moet dan dadelik die loskoopwaarde in kontant betaal. Dit behoort aan die Here. 24In die hersteljaar val die grond dan weer terug na die persoon van wie dit oorspronklik gekoop is en wie se erfgrond dit is.
25“Al hierdie loskoopwaardes moet vasgestel word volgens die standaardgewig van die heiligdom.
26“Onthou dat die eerste kalf van 'n koei en die eerste lam van 'n bok of 'n skaap buitendien aan die Here behoort en dus nie as 'n vrywillige offer aan Hom gewy mag word nie. 27Die eerste kleintjie van 'n onrein dier kan deur sy eienaar teruggekoop word vir die loskoopwaarde plus twintig persent. As hy dit nie wil terugkoop nie, moet dit verkoop word vir die loskoopwaarde.
28“Onthou ook verder dat iets wat as banoffer aan die Here gewy is, nie verkoop mag word nie en ook nie losgekoop mag word nie. Dit maak nie saak of dit 'n mens of 'n dier of 'n stuk erfgrond is nie, dit is heilig en behoort net aan die Here. 29'n Mens wat as banoffer aan die Here gewy word, mag nie losgekoop word nie. Hy moet doodgemaak word.
30“Een tiende van al die produkte van die land behoort aan die Here, of dit nou graan of vrugte is. Dit is aan die Here gewy. 31As iemand daarvan wil terugkoop, moet hy die loskoopwaarde daarvan plus twintig persent betaal.
32“Een tiende van die beeste en kleinvee behoort aan die Here. Die diere moet getel word, en al om die tiende dier wat verbykom, moet vir die Here afgekeer word. 33Daar mag nie goeies of slegtes uitgesoek word nie, en 'n dier wat afgekeer is, mag nie omgeruil word nie. As iemand so 'n dier probeer omruil, word albei diere die Here se eiendom. Daar mag nie teruggekoop word nie.”
34Die voorafgaande is die gebooie wat die Here deur Moses by Sinaiberg vir die Israeliete gegee het.

Currently Selected:

LEVITIKUS 27: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy