YouVersion Logo
Search Icon

LEVITIKUS 26

26
Seën en straf
1“Julle mag vir julle geen gode maak nie. Julle mag geen beelde of klippilare oprig nie. Julle mag in julle land geen klippe met afbeeldings hê wat deur julle vereer word nie. Ek, die Here, is julle God. 2Julle moet my sabbatte vier en eerbied hê vir my heiligdom. Ek is die Here.
3“As julle my voorskrifte nakom, my gebooie gehoorsaam en daarvolgens lewe, 4sal Ek vir julle reën gee op die regte tyd, sodat die lande oeste sal lewer en die bome vrugte sal dra. 5Julle sal graan dors tot dit weer tyd is om vrugte te oes, en julle sal vrugte oes tot dit weer planttyd is. Julle sal oorgenoeg kos hê en sonder sorge in julle land woon. 6Ek sal vrede gee in die land sodat julle rustig kan slaap: Ek sal die ongediertes uitroei en daar sal nie oorlog in julle land kom nie. 7Julle sal julle vyande verdryf en om die lewe bring. 8Net vyf van julle soldate sal honderd van die vyand op loop jaag, en net honderd van julle sal tien duisend op loop jaag. Julle sal hulle om die lewe bring. 9Ek sal vir julle goed wees en julle vrugbaar maak sodat julle 'n groot nasie sal word. So sal Ek my verbond met julle nakom. 10Julle sal nie eens 'n vorige seisoen se graan kan opgebruik nie, julle sal dit moet weggooi om plek te maak vir die nuwe oes. 11Ek sal by julle woon en nie 'n afsku van julle hê nie. 12Ek sal by julle bly en julle God wees, en julle sal my volk wees. 13Ek is die Here julle God wat julle uit Egipte laat trek het sodat julle nie meer sy slawe hoef te wees nie. Ek het die juk wat julle moes dra, gebreek en julle vrygemaak.
14“As julle egter nie na My luister nie en nie alles doen wat Ek julle beveel het nie, 15as julle my voorskrifte en bepalings verwerp en met minagting behandel, sodat julle nie my bevele nakom nie en my verbond verbreek, 16sal Ek die volgende doen: Ek sal julle lewens vol angs maak. Julle sal geteister word deur tering en koors, siektes wat 'n mens blind maak en jou laat wegkwyn. Julle sal tevergeefs saai, want julle vyande sal julle oeste opeet. 17Ek sal my rug vir julle draai sodat julle deur julle vyande verpletter sal word. Julle haters sal dit vir julle so ondraaglik maak dat julle sal vlug al word julle nie agtervolg nie.
18“As julle ná al hierdie dinge nog nie na My luister nie, sal Ek julle nog swaarder straf oor julle sondes: 19Ek sal alles waarop julle staatmaak, laat verdwyn. Daar sal geen druppel reën val nie: dit sal wees asof die hemel van yster en die grond van brons is. 20Julle sal julle kragte tevergeefs inspan: daar sal geen oes op julle lande wees nie, en julle bome sal geen vrugte dra nie.
21“As julle My bly teenstaan en nie na My wil luister nie, sal Ek julle nóg swaarder straf, soos julle verdien oor julle sondes: 22Ek sal roofdiere tussen julle loslaat, en hulle sal julle kinders vang en julle veetroppe uitroei. Hulle sal julle só uitdun dat die paaie verlate sal wees.
23“As dit julle nie tot ander insigte bring nie en julle My nog bly teenstaan, 24sal Ek júlle ook teenstaan. Ek sal julle nog swaarder straf oor julle sondes: 25Ek sal 'n oorlog oor julle bring. Dit sal die wraak wees oor julle ontrou aan my verbond. As julle veiligheid soek in julle stede, sal Ek pes onder julle loslaat sodat julle sal móét oorgee. 26Ek sal julle meel so min laat word dat tien vrouens saam net genoeg sal hê vir een baksel. Die stukkie wat vir elkeen afgeweeg word, sal nie julle honger kan stil nie.
27“As julle hierna nóg nie na My luister nie en My nog steeds teenstaan, 28sal Ek julle in woede teenstaan. Ek sal julle nóg swaarder straf oor julle sondes: 29julle sal die vleis van julle eie kinders moet eet! 30Ek sal julle hoogtes verwoes en julle wierookaltaartjies vernietig. Ek sal so 'n afsku van julle hê dat Ek julle lyke bo-op julle lewelose afgodsbeelde sal gooi. 31Ek sal puinhope maak van julle stede, Ek sal julle heiligdomme verwoes, Ek sal geen offer van julle aanvaar nie. 32Ek sal die land só verniel dat julle vyande wat daarin gaan woon, daaroor verstom sal staan. 33Vir júlle sal Ek met die swaard uitmekaar laat jaag en julle onder die heidennasies verstrooi. Julle land sal verlate wees en julle stede puinhope. 34Wanneer die land dan verlate lê en julle in julle vyande se gebied is, sal die grond uiteindelik sy verdiende rusjare kry. Dan sal die land rus en die verlore sabbatsjare inhaal. 35So lank as die land verlate is, sal dit die rus kry wat dit om die sewe jaar moes gehad het maar nooit gekry het toe julle dit bewoon het nie. 36Dié van julle wat oorbly, sal Ek in die lande van hulle vyande in so 'n spanning laat leef dat die geritsel van 'n droë blaar hulle op die loop sal jaag. Hulle sal hardloop tot hulle neerslaan, asof iemand met 'n swaard agter hulle aan is, maar daar sal niemand wees nie! 37Die vrees vir oorlog sal hulle oormekaar laat val om weg te kom van agtervolgers wat nie bestaan nie.
“Julle sal geen krag hê om weerstand te bied teen julle vyande nie! 38Julle sal tussen die heidennasies omkom, in die land van julle vyande sal julle sterf.
39“Dié van julle wat daarna nog oor is, sal in die lande van julle vyande wegkwyn onder die selfverwyt oor hulle sonde. Hulle sal ook wegkwyn onder die wroeging oor die sondes van hulle voorvaders. 40Hulle sal húlle sonde en dié wat hulle voorvaders teen My begaan het, bely. Hulle sal erken dat hulle My teengestaan het, 41dat Ek hulle ook teengestaan het en hulle na hulle vyande se land toe gevat het om te sien of hulle dan oor hulle ongehoorsaamheid berou sal kry en hulle skuld sal erken. 42Wanneer hulle dit doen, sal Ek die beloftes wat Ek aan Jakob, aan Isak en aan Abraham gegee het, weer van krag maak. Ek sal my beloftes oor die land weer van krag maak. 43Maar die land sal eers sonder sy mense verlate moet lê om die verlore rusjare in te haal. Húlle sal hulle skuld moet erken, dat hulle my bepalings verwerp het en my voorskrifte met minagting behandel het.
44“En tog, al sou hulle ballinge word in die land van hulle vyande, sal Ek hulle nie so verwerp, so minag, dat hulle heeltemal sal verdwyn en dat my verbond met hulle tot niet sal gaan nie, want Ek is die Here hulle God. 45Ek sal die belofte aan hulle voorouers wat Ek voor die oë van die nasies uit Egipte laat trek het, weer van krag maak, die belofte dat Ek hulle God sal wees. Ek is die Here.”
46Die voorafgaande is die voorskrifte, bepalings en wette wat die Here deur Moses op Sinaiberg gegee het oor die verhouding tussen die Here en die Israeliete.

Currently Selected:

LEVITIKUS 26: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy