YouVersion Logo
Search Icon

Hebreërs 10:1-10

Hebreërs 10:1-10 DB

Die ou wet het ons maar net ’n vae idee gegee van al die wonderlike dinge wat God nog vir ons sou doen. Dit was soos ’n skaduwee wat ’n mens waarsku dat die regte persoon op pad is. Dag na dag, jaar na jaar, het mense dieselfde offers gebring, maar dit kon nie hulle saak met God heeltemal regmaak nie. Dink net daaraan, as die offers regtig gehelp het, sou hulle mos daarmee opgehou het. Dan sou hulle saak met God mos reg gewees het en sou hulle sondes hulle nie langer gepla het nie. Maar al die offers herinner hulle nou juis aan al die foute wat hulle gedurig maak. Die bloed van bulle of bokke kan mos nie regtig maak dat God Hom nie meer aan al hulle foute steur nie. Daarom lees ons in die Skrif dat toe Christus na die wêreld toe gekom het, Hy vir God gesê het: “Allerhande geskenke en offers is nie wat U regtig wil hê nie. Wat U wil hê, is die menslike liggaam wat U vir My gegee het. Diere wat verbrand word ter wille van al die verkeerde dinge wat mense gedoen het, stel U nie in belang nie. Toe het Ek gesê: ‘Kyk, Ek kom om alles te doen wat U wil hê Ek moet doen, net soos daar in die Skrif oor My geskryf is.’” Eers het Christus gepraat oor al die verskillende offers en die diere wat geslag word en dat God dit eintlik nie wil hê nie. (Die wet het wel gesê dat dit gedoen moes word.) Toe het Hy gesê: “Kyk, Ek kom om alles te doen wat U wil hê Ek moet doen.” Hy het die ou offers eenkant toe geskuif om sy eie offer te bring. So het Jesus gedoen wat God wou hê. Hy het eens en vir altyd sy liggaam as ’n offer vir ons gegee. Op dié manier het ons God s’n en net Syne geword.

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy