HEBREËRS 10:1-10

HEBREËRS 10:1-10 Bybel vir almal (ABA)

Want die Wette van Moses is soos 'n skaduwee van die goeie dinge wat sal kom. Die wette is minder belangrik. Die wette het nie gewys dat hulle die goeie dinge self is nie. Die priesters bring elke jaar dieselfde offers, hulle hou nie op om dit te doen nie, maar hierdie offers kan nooit die mense heeltemal reinig wat na God toe kom om Hom te dien nie. As mense vir God offers bring en die offers reinig die mense net een maal, vir altyd, dan sal hulle weet dat daar nie meer sondes in hulle lewe is nie. En dan sal hulle ophou om offers vir God te bring. Maar nou laat die offers ons onthou dat ons sondes gedoen het, die offers wat die priesters elke jaar bring, want die bloed van bulle en bokke kan glad nie sondes wegneem nie. Daarom, toe Christus in die wêreld gekom het, het Hy gesê: U wou nie 'n offer en 'n present hê nie, U het my liggaam gemaak en U wil my liggaam hê. U het nie gevra dat ons brand-offers en sonde-offers moet bring nie. Toe het Ek gesê: “Kyk, Ek het gekom om te doen wat U wil hê, o God. Dit is oor My geskryf in die boek waarin u wette is.” Christus het eers gesê: U het nie offers en presente en brand-offers en sonde-offers gevra nie, en U wou nie al hierdie offers hê nie. Dit is die wette wat sê dat ons die offers moet bring. Daarna het Christus gesê: “Kyk, Ek het gekom om te doen wat U wil hê.” So stop Christus die eerste soort offer en Hy bring die tweede soort offer in daardie offers se plek. Daarom weet ons dat Jesus Christus gedoen het wat God wil hê. Jesus Christus het Homself net een maal, vir altyd, ge-offer. Daarom is ons aan God gewy.

HEBREËRS 10:1-10 Die Boodskap (DB)

Die ou wet het ons maar net ’n vae idee gegee van al die wonderlike dinge wat God nog vir ons sou doen. Dit was soos ’n skaduwee wat ’n mens waarsku dat die regte persoon op pad is. Dag na dag, jaar na jaar, het mense dieselfde offers gebring, maar dit kon nie hulle saak met God heeltemal regmaak nie. Dink net daaraan, as die offers regtig gehelp het, sou hulle mos daarmee opgehou het. Dan sou hulle saak met God mos reg gewees het en sou hulle sondes hulle nie langer gepla het nie. Maar al die offers herinner hulle nou juis aan al die foute wat hulle gedurig maak. Die bloed van bulle of bokke kan mos nie regtig maak dat God Hom nie meer aan al hulle foute steur nie. Daarom lees ons in die Skrif dat toe Christus na die wêreld toe gekom het, Hy vir God gesê het: “Allerhande geskenke en offers is nie wat U regtig wil hê nie. Wat U wil hê, is die menslike liggaam wat U vir My gegee het. Diere wat verbrand word ter wille van al die verkeerde dinge wat mense gedoen het, stel U nie in belang nie. Toe het Ek gesê: ‘Kyk, Ek kom om alles te doen wat U wil hê Ek moet doen, net soos daar in die Skrif oor My geskryf is.’” Eers het Christus gepraat oor al die verskillende offers en die diere wat geslag word en dat God dit eintlik nie wil hê nie. (Die wet het wel gesê dat dit gedoen moes word.) Toe het Hy gesê: “Kyk, Ek kom om alles te doen wat U wil hê Ek moet doen.” Hy het die ou offers eenkant toe geskuif om sy eie offer te bring. So het Jesus gedoen wat God wou hê. Hy het eens en vir altyd sy liggaam as ’n offer vir ons gegee. Op dié manier het ons God s’n en net Syne geword.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid