Hebreërs 10

10
Nie meer offers nie, maar Jesus
1Die ou wet het ons maar net ’n vae idee gegee van al die wonderlike dinge wat God nog vir ons sou doen. Dit was soos ’n skaduwee wat ’n mens waarsku dat die regte persoon op pad is. Dag na dag, jaar na jaar, het mense dieselfde offers gebring, maar dit kon nie hulle saak met God heeltemal regmaak nie. 2Dink net daaraan, as die offers regtig gehelp het, sou hulle mos daarmee opgehou het. Dan sou hulle saak met God mos reg gewees het en sou hulle sondes hulle nie langer gepla het nie. 3Maar al die offers herinner hulle nou juis aan al die foute wat hulle gedurig maak. 4Die bloed van bulle of bokke kan mos nie regtig maak dat God Hom nie meer aan al hulle foute steur nie. 5Daarom lees ons in die Skrif dat toe Christus na die wêreld toe gekom het, Hy vir God gesê het:
“Allerhande geskenke en offers is nie wat U regtig wil hê nie. Wat U wil hê, is die menslike liggaam wat U vir My gegee het. 6Diere wat verbrand word ter wille van al die verkeerde dinge wat mense gedoen het, stel U nie in belang nie. 7Toe het Ek gesê: ‘Kyk, Ek kom om alles te doen wat U wil hê Ek moet doen, net soos daar in die Skrif oor My geskryf is.’”
8Eers het Christus gepraat oor al die verskillende offers en die diere wat geslag word en dat God dit eintlik nie wil hê nie. (Die wet het wel gesê dat dit gedoen moes word.) 9Toe het Hy gesê: “Kyk, Ek kom om alles te doen wat U wil hê Ek moet doen.” Hy het die ou offers eenkant toe geskuif om sy eie offer te bring. 10So het Jesus gedoen wat God wou hê. Hy het eens en vir altyd sy liggaam as ’n offer vir ons gegee. Op dié manier het ons God s’n en net Syne geword.
Ons is nou spesiaal God s’n
11Die priesters sloof hulle elke dag met dieselfde ou offers af. Hulle doen dit dagin en daguit. Die offers kan tog nooit maak dat God nie meer die verkeerde dinge raaksien wat mense doen nie.
12Maar met Christus is dit baie anders. Hy het net een enkele offer gebring en dit was genoeg vir altyd. Daarna het Hy op die ereplek by God in die hemel gaan sit. 13Daar sit Hy en wag dat God al sy vyande magteloos voor Hom op die grond gaan gooi. 14Deur daardie een offer van Hom het Hy alles honderd persent by God reggemaak vir elkeen wat God spesiaal Syne gemaak het.
15Die Heilige Gees sê vir ons dat dit so is. Eers sê die Gees: 16“Dit is die ooreenkoms wat ek na daardie tyd met hulle sal maak, sê die Here. Ek sal seker maak dat hulle nooit sal vergeet wat Ek van hulle wil hê nie. Wat Ek van hulle verwag, sal Ek deel van hulle lewe maak.”
17En Hy voeg verder nog dit by: “Aan al die verkeerde dinge wat hulle gedoen het, sal Ek My nie meer steur nie.”
18As God Hom dan nou nie meer aan hierdie verkeerde dinge steur nie, is dit ook mos nie meer nodig om allerhande offers daarvoor te bring nie.
Moenie bang word nie, vertrou net op Jesus
19My liewe vriende, ons hoef nou nie meer onseker of bang te wees om na God toe te gaan waar Hy in die Heiligste deel is nie. Ons kan dit doen omdat Jesus vir ons gesterf het. 20Ons het gesê dat daar tussen die twee kamers in die Heilige plek ’n gordyn gehang het. Jesus se liggaam kan met dié gordyn vergelyk word. Die gordyn van Jesus se liggaam is geskeur om so ’n nuwe pad na die lewe saam met God oop te maak. 21Christus is die groot priester wat in beheer is in God se huis. 22Juis daarom kan ons opreg in God se huis ingaan sonder om te twyfel oor dit waarop ons vertrou. Ons binneste is mos silwerskoon gemaak deur die bloed van Jesus, sodat niks ons meer pla nie, en ons liggaam is met skoon water gewas. God breek nooit sy woord nie; op Hom kan ons reken. 23Daarom kan ons sonder enige twyfel vashou aan die beloftes wat God aan ons gemaak het. 24Laat ons gedurig maniere soek om mekaar opgewonde te maak om goeie dinge vir mekaar te doen en lojaal teenoor mekaar te wees.
25Juis daarom moet ons gereeld bymekaarkom en nie sommer wegbly nie, al doen party van julle dit moedswillig. Laat ons mekaar se hande vat en mekaar daarmee help, veral as ons daaraan dink dat dit nie meer lank is voor die Here weer kom nie.
Moenie moedswillig wees
nie: God hou nie daarvan nie
26As ons die regte pad leer ken het, en dan aanhou om moedswillig dinge te doen waarvan God nie hou nie, is daar nie meer ’n offer wat sal maak dat God Hom nie aan die sondes sal steur nie. 27Al wat vir so iemand oorbly, is om die verskriklike woorde van God te hoor: “Jy is skuldig,” en dan die gloeiende vuur in te stap wat die vyande van God gaan verteer. 28Met die wet van Moses was dit al so dat iemand sonder genade doodgemaak is as twee of drie persone saam gesê het dat hulle die persoon iets verkeerds sien doen het. 29Wat dink jy sal dan iemand tref as hy sy neus optrek vir die Seun van God? Daarvan kan ons seker wees: hy verdien dit om so swaar gestraf te word. Hy het nie net die Seun van God beledig nie, maar ook gemaak asof die bloed waarmee Jesus die nuwe ooreenkoms gesluit het, onbelangrik is. So het hy die Gees in die gesig gevat wat vir hom so ’n groot geskenk verniet wou gee. 30Ons ken Hom wat gesê het: “Ek sal straf uitdeel soos dit moet, Ek sal mense terugbetaal vir die verkeerde dinge wat hulle gedoen het.” Verder het Hy ook gesê: “Die Here is die Een wat sal besluit wat met sy volk gaan gebeur.”
Byt vas!
31Om voor die lewende God te staan as jou saak met Hom verkeerd is, is erger as die verskriklikste nagmerrie wat jy kan hê.
32Onthou julle nog toe julle pas Christene geword het? Julle het baie swaargekry, maar niks kon julle wegkry van julle vertroue op God nie. 33Voor almal het mense partymaal die lelikste dinge vir julle gesê en julle probeer seermaak. Ander kere moes julle die mense help aan wie sulke lelike dinge gedoen is. 34Party het selfs in die tronk beland en dan het julle hulle ondersteun. Julle het maar net geglimlag toe mense al julle goed kom vat het omdat julle Christene is. Julle kon dit doen, want julle het geweet dat julle in die hemel dinge het wat beter is en wat niemand van julle sal kan wegvat nie.
35Moet dus nie toelaat dat daar ’n krakie in julle vertroue op God kom nie. Wie op God bly vertrou, sal ’n groot beloning by Hom kry. 36Julle moet tot elke prys vasbyt. As julle so aanhou om te doen wat God wil hê, sal Hy sorg dat julle kry wat Hy vir julle beloof het. In die Skrif sê God:
37“Dit is nog net ’n baie kort rukkie, dan kom Hy wat moet kom. Hy sal nie lank draai voor Hy kom nie. 38Die persoon wie se saak met My reg is omdat hy op My vertrou, sal saam met My leef. Maar as iemand se moed hom begewe en hy nie meer vir alles kans sien nie, moet hy nie verwag dat Ek met hom tevrede sal wees nie.”
39Ons is nie van die soort wat bang word en so ons plek by God verloor nie. Ons bly op Hom vertrou en sal saam met Hom vir ewig leef.

Tans Gekies:

Hebreërs 10: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid