YouVersion Logo
Search Icon

Genesis 9

9
Niemand mag 'n ander mens doodmaak nie
1God het vir Noag en sy seuns geseën. Hy het vir hulle gesê: “Julle moet baie kinders kry en meer word. Julle moet die aarde vol mense maak. 2Al die diere sal bang wees vir die mense, die wilde diere, die voëls, die diere wat kruip en die visse. Julle mag hulle gebruik. 3Voorheen was die plante julle kos. Nou gee Ek ook vir julle die vleis van die diere om te eet. 4Maar wanneer julle vleis eet, dan mag julle nie die bloed daarmee saam eet nie. Die lewe van die dier is in sy bloed.
5“As iemand julle doodmaak en julle bloed laat vloei, dan sal Ek hom straf en sy bloed ook laat vloei. As 'n dier 'n mens doodmaak, dan sal Ek die dier doodmaak. Iemand wat 'n ander mens doodmaak, moet ook sterf. 6God het mense gemaak om in sy plek te regeer en hoof te wees oor die aarde. Daarom mag niemand 'n ander mens doodmaak nie. As iemand 'n ander mens doodmaak, dan moet die mense hom ook doodmaak.
7“Noag, julle moet baie kinders kry en meer word, julle moet die wêreld vol mense maak.”
Die Here maak 'n verbond met die mense en die diere
8God het ook vir Noag en sy seuns gesê: 9“Ek maak 'n verbond met julle en met julle nageslag. 10Ek maak ook 'n verbond met alles wat lewe, alles wat saam met julle uit die ark gekom het, die voëls, die mak diere en die wilde diere. 11Ek belowe vir julle: Daar sal nooit weer 'n watervloed wees wat die aarde sal verwoes en al die mense en diere sal doodmaak nie.”
12God het ook gesê: “Ek gee vir julle 'n teken om te wys dat Ek 'n verbond met julle gemaak het. Ek het dit belowe, en dit sal altyd waar wees. 13Ek maak my reënboog in die wolke. Die reënboog sal 'n teken wees om te wys dat Ek 'n verbond met julle gemaak het. 14Wanneer Ek wolke oor die aarde stuur, en die reënboog is in die wolke, 15dan sal Ek onthou dat Ek 'n verbond gemaak het met julle en met al die diere. Ek het belowe dat daar nie weer 'n watervloed sal wees wat al die mense en diere sal doodmaak nie. 16Die reënboog sal in die wolke wees, en wanneer Ek dit sien, dan sal Ek daaraan dink dat Ek 'n verbond gemaak het met almal op die aarde, 'n verbond wat vir altyd sal wees.”
17God het vir Noag gesê: “Die reënboog is die teken wat vir almal op die aarde wys dat Ek 'n verbond gemaak het met hulle.”
Noag en sy seuns
18Noag het drie seuns gehad wat saam met hom in die ark was. Hulle was Sem, Gam en Jafet. Gam was Kanaän se pa. 19Hierdie drie seuns van Noag is die voorvaders van al die mense op die aarde.
20Noag was 'n boer en hy het 'n wingerd geplant. 21Hy het die druiwe gepluk en wyn gemaak. Toe het hy die wyn gedrink en dronk geword. Hy het sy klere uitgetrek en hy het kaal in sy tent gelê. 22Gam, die voorvader van die Kanaäniete, het gesien Noag was kaal, en hy het na sy pa gekyk. Hy het uit die tent gegaan en hy het dit vir sy broers gaan vertel.
23Sem en Jafet het klere geneem en hulle het dit oor hulle skouers gehou. Hulle het agteruit geloop sodat hulle nie Noag se kaal liggaam kon sien nie. Hulle het hulle pa toegemaak met die klere.
24Toe Noag wakker word, het hy uitgevind wat sy jongste seun gedoen het. 25Noag sê toe:
“Ek vervloek vir Kanaän,
Gam se seun.
Hy en sy kinders sal slawe wees
vir sy broers.”
26Noag het ook gesê:
“Prys die Here,
die God van Sem!
Kanaän sal Sem se slaaf wees.
27Ek bid dat God vir Jafet
baie grond sal gee,
en dat God altyd
by Sem sal wees.
Kanaän sal Jafet
se slaaf wees.”
28Noag het nog 350 jaar ná die watervloed gelewe. 29Noag was 950 jaar oud toe hy gesterf het.

Currently Selected:

Genesis 9: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy