YouVersion Logo
Search Icon

NUMERI 30

30
Die geldigheid van vroue se geloftes
1Moses het die stamleiers van Israel bymekaargekry. Hy het vir hulle gesê: “Hier is die Here se voorskrifte oor geloftes: 2Iemand wat aan die Here ’n gelofte maak, of hom met ’n eed verbind, mag nooit sy woord verbreek nie. Hy moet presies doen wat hy beloof het.
3“’n Jong meisie wat nog in haar ouerhuis bly, kan ’n gelofte aan die Here maak, of ’n belofte aflê. 4As haar pa hoor van die gelofte wat sy afgelê het, of van die belofte wat sy gemaak het, en hy maak nie daarteen beswaar nie, staan die gelofte en die onderneming vas. 5As haar pa dit egter teenstaan op die dag waarop hy daarvan hoor, is die geloftes of die verpligtings wat sy op haar geneem het, nietig. Die Here sal dit nie teen haar hou nie. Hy sal haar vergewe, want haar pa het dit afgekeur.
6“’n Vrou kan miskien trou nadat sy aan die Here ’n gelofte afgelê het, of miskien haarself impulsief aan iets verbind. 7As haar man die dag daarvan hoor en hy het geen beswaar daarteen nie, staan die verpligting wat sy op haar geneem het vas. 8As haar man dit egter afkeur die dag waarop hy daarvan hoor, maak hy die gelofte of die verpligtings wat sy onnadenkend op haar geneem het, tot niet. Die Here sal haar dit vergewe.
9“Vir ’n weduwee of ’n vrou wat geskei is, staan alles vas waaraan hulle hulle verbind het.
10“’n Getroude vrou kan miskien ’n gelofte aflê of onder eed ’n belofte maak. 11As haar man daarvan hoor en nie ’n stokkie daarvoor steek nie, staan haar geloftes wat sy gemaak het en die beloftes wat sy onderneem het vas. 12As haar man alles wat sy vrou gesê en beloof het, verwerp wanneer hy daarvan hoor, sal dit alles van nul en gener waarde wees. Die Here sal haar daarvan vrystel. 13Haar man kan enige gelofte of eed waarmee ’n vrou haarself verbind het, bevestig of tot niet verklaar. 14As haar man nie beswaar maak die dag waarop hy hoor wat sy op haarself geneem het nie, stem hy daarmee in. 15As hy eers lank nadat hy van haar geloftes of verpligtings gehoor het, dit tot niet probeer verklaar, moet hy self instaan vir die gevolge daarvan.”
16Dit is die voorskrifte wat die Here vir Moses gegee het met betrekking tot die verhouding tussen ’n man en sy vrou, en tussen ’n pa en sy dogter wat nog by hom in sy huis is.

Currently Selected:

NUMERI 30: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy