YouVersion Logo
Search Icon

NUMERI 28

28
Die daaglikse offers
1Die Here het vir Moses gesê: 2“Gee die volgende opdragte aan die Israeliete: Sorg dat julle my offer op die tyd bring wat daarvoor bepaal is. Die offer wat julle vir My op die vuur bring, is my kos. Ek hou baie daarvan.#28:2 Of Dit het ’n aangename reuk.
3“Sê vir hulle: Julle moet gereeld, dag vir dag, vir die Here twee gesonde jaaroud lammers as vuuroffer bring. 4Een moet in die oggend en die ander een in die aand geoffer word. 5Saam met elke lam moet julle ’n graanoffer bring van een en ’n half kilogram meel gemeng met een liter olyfolie.
6“Dit was die gereelde brandoffer wat reeds by Sinaiberg as vuuroffer gebring is, ’n vreugde vir die Here. 7Saam met die lam moet julle ’n drankoffer van een liter wyn bring. Julle moet dit by die heiligdom uitgiet as ’n offer vir die Here. 8Die tweede lam word in die aand gebring saam met ’n maaltydoffer en drankoffer net soos die offer van die oggend. Dit is ’n vuuroffer wat vir die Here vreugde verskaf.”
Offers op die Sabbat
9“Op die Sabbatdag moet jy twee gesonde jaaroud lammers offer. Dit moet gedoen word saam met ’n graanoffer van drie kilogram meel wat met olie gemeng is en ’n drankoffer. 10Dit is die brandoffer vir elke Sabbat bo en behalwe die gereelde brandoffer en sy drankoffers.”
Offers elke maand
11“Op die eerste dag van elke maand moet julle brandoffers vir die Here bring van twee gesonde jong bulle, een ram en sewe jaaroud lammers. 12Saam met elke bul moet julle ’n maaltydoffer bring van vyf kilogram meel gemeng met olie. Saam met elke ram gaan ’n offer van drie kilogram meel met olie gemeng. 13Saam met elke lam gaan ’n offer van een en ’n half kilogram meel gemeng met olie. Dit is ’n vuuroffer vir die Here, ’n brandoffer waarvan Hy baie hou. 14Die drankoffer saam met elke bul bestaan uit twee liter wyn, saam met elke ram een en ’n derde liter wyn, en saam met die lammers een liter wyn. 15Hierdie offers moet dwarsdeur die jaar op die eerste dag van elke maand gebring word.”
Paasfeesoffers
16“Op die veertiende dag van die eerste maand moet die Paasfees tot eer van die Here gevier word. 17Op die vyftiende dag van die maand begin ’n fees wat sewe dae lank duur. Gedurende hierdie fees mag julle net kos sonder suurdeeg eet. 18Op die eerste dag van die fees moet julle ’n gewyde byeenkoms hou. Julle mag dan nie met julle gewone werk aangaan nie. 19Julle moet dan vir die Here ’n vuuroffer bring. Dit is ’n brandoffer van twee gesonde jong bulle, ’n gesonde ram en sewe gesonde lammers van ’n jaar oud. 20Saam met elke bul moet julle ’n graanoffer bring van vyf kilogram meel gemeng met olie. Saam met die offer van die ram bring julle drie kilogram meel. 21Saam met elkeen van die sewe lammers bring julle een en ’n half kilogram meel. 22Julle moet ook nog ’n bokram as sonde-offer bring om versoening vir julleself te doen. 23Julle moet hierdie offers bo en behalwe die gereelde brandoffers bring van elke môre.
24“Op elkeen van die sewe dae moet julle die graanoffer bring as ’n vuuroffer wat vir die Here vreugde gee. Die offers moet bo en behalwe die gereelde brandoffer en drankoffer gebring word. 25Op die sewende dag moet julle weer ’n gewyde byeenkoms hou. Ook op hierdie dag mag julle nie julle gewone werk doen nie.”
Offers by die Fees van die Weke
26“Op die eerste dag van die Fees van die Weke bring julle ’n offer uit die nuwe graan wat geoes is. Op hierdie dag moet daar ’n gewyde byeenkoms vir die Here wees. Julle mag nie op daardie dag julle gewone werk doen nie.
27“Julle moet op daardie dag ’n buitengewone brandoffer vir die Here bring wat vir Hom vreugde gee. Dit bestaan uit twee jong bulle, ’n ram en sewe lammers wat ’n jaar oud is. 28Saam met elke bul moet julle ’n graanoffer bring van vyf kilogram meel wat met olie gemeng is. Saam met die ram bring julle ’n offer van drie kilogram meel. 29Saam met elkeen van die sewe lammers bring julle een en ’n half kilogram meel. 30Offer ook nog ’n bokram as sonde-offer om vir julle versoening te bring. 31Julle moet hierdie buitengewone offers saam met die drankoffers bring. Dit is bo en behalwe die gereelde brandoffer en die graanoffer. Julle moet seker maak dat die offerdiere gesonde diere is.”

Currently Selected:

NUMERI 28: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy