YouVersion Logo
Search Icon

LUKAS 6:27-49

LUKAS 6:27-49 NLV

“Maar as julle gewillig is om te luister, sê Ek julle moet julle vyande liefhê. Doen goed aan dié wat julle haat. Seën dié wat julle vervloek. Bid vir hulle wat julle seermaak. As iemand jou op die wang klap, draai ook die ander wang. As iemand jou bo-kleed vra, bied ook jou onderkleed aan. Gee wat jy het aan enigiemand wat dit van jou vra; en as iets van jou weggeneem word, moenie dit probeer terugkry nie. Doen aan ander wat jy wil hê hulle aan jou moet doen. “Dink julle julle is verdienstelik as julle net dié liefhet wat vir julle lief is? Selfs die sondaars doen dit! En as julle net goeddoen aan dié wat aan julle goeddoen, is dit dan so wonderlik? Die sondaars doen dit tog ook. En as julle geld leen net aan dié wat julle kan terugbetaal, is dit iets besonders? Selfs sondaars leen aan sondaars om die volle bedrag terug te kry. “Nee, julle moet ook julle výande liefhê! Doen goed aan hulle! Leen aan hulle! En moenie bekommerd wees dat hulle julle dalk nie kan terugbetaal nie. Dan sal julle beloning in die hemel baie groot wees, en julle sal werklik optree as kinders van die Allerhoogste, want Hy is goed vir die ondankbares en die slegtes. Julle moet barmhartig wees soos julle Vader barmhartig is.” “Hou op om ander te oordeel, en julle sal nie geoordeel word nie. Hou op om ander te kritiseer, en julle sal nie gekritiseer word nie. As julle ander vergewe, sal julle vergewe word. As julle gee, sal julle ontvang. Julle gawe sal na julle terugkom in volle maat, ingestamp, geskud om plek vir meer te maak, tot oorlopens toe vol. Met watter maat julle ook al meet – klein of groot – dit sal gebruik word om te meet wat julle sal terugontvang.” Jesus het toe die volgende voorbeeld gebruik: “Hoe kan ’n blinde persoon ’n ander blinde lei? Die eerste sal in ’n sloot val en die ander een saam aftrek. ’n Leerling is nie belangriker as sy leermeester nie. Maar die leerling wat hard werk, sal net soos sy leermeester word. “En waarom sien jy die splinter in jou vriend se oog raak en sien nie die yslike stomp in jou eie oog nie? Hoe kan jy dan vir jou vriend sê: ‘Vriend, laat ek jou help om die splinter uit jou oog te kry,’ terwyl jy nie verby die stomp in jou eie oog kan sien nie? Skynheilige! Raak eers ontslae van die stomp in jou eie oog, dan sal jy goed genoeg kan sien om die splinter uit jou vriend se oog te haal.” “’n Goeie boom kan nie slegte vrugte dra nie, en ’n slegte boom nie goeie vrugte nie. ’n Boom word geken aan die soort vrugte wat hy dra. Vye groei tog nie aan doringbosse, of druiwe aan braambosse nie. ’n Goeie mens bring goeie dade voort uit ’n goeie hart, en ’n slegte mens bring slegte dade voort uit ’n bose hart. Wat ook al in jou hart leef, bepaal wat jy sê.” “Waarom noem julle My dan ‘Here’ as julle My nie gehoorsaam nie? “Ek sal aan julle verduidelik hoe dit is wanneer iemand na My toe kom, na my onderrig luister en My gehoorsaam. Dis soos ’n man wat ’n huis bou op ’n sterk fondament wat op ’n rotsbasis gelê is. Wanneer die vloedwater styg en die huis tref, staan dit stewig, want dit is goed gebou. Maar enigeen wat luister en nie gehoorsaam nie, is soos ’n man wat ’n huis sonder fondament bou. Wanneer die vloedwater teen daardie huis aanbruis, sal dit tot ’n puinhoop inmekaarstort.”