YouVersion Logo
Search Icon

HAGGAI 2

2
Die prag van die nuwe tempel
1Op 17 Oktober#2:1 Grondteks Op die 21ste dag van die sewende maand. van dieselfde jaar het die Here weer vir die profeet Haggai ’n boodskap gegee. 2“Sê vir Serubbabel, die seun van Sealtiël, goewerneur van Juda, en Jesua, die seun van Josadak, die hoëpriester, asook vir al die Here se mense wat in die land oorgebly het, die volgende: 3Is daar nog enigiemand wat kan onthou hoe hierdie huis, die tempel, vroeër gelyk het? Hoe vergelyk die tempel nou met daardie een van vroeër? Daar is geen vergelyking nie, nie waar nie! 4Maar skep moed, Serubbabel, skep moed, Jesua, seun van Josadak, die hoëpriester, sê die Here. Ook al die mense wat nog in die land oor is, moet moed skep, sê die Here. Skep moed en doen die werk, want Ek is by julle, sê die Here, die Almagtige. 5My Gees sal by julle bly soos Ek julle belowe het toe julle uit Egipte getrek het. Julle moet glad nie bang wees nie.”
6Dit is wat die oppermagtige Here sê: “Binnekort gaan Ek die hemel en die aarde weer skud. Ek gaan die oseane en die droë grond skud. 7Al die volke gaan Ek ook skud. Al hierdie nasies se skatte sal na hierdie tempel toe gebring word. Ek sal hierdie plek met heerlikheid vul, sê die Here, die Almagtige. 8Die silwer en die goud behoort aan My, sê die Here, die Almagtige. 9Die toekomstige roem van hierdie tempel sal baie groter wees as wat dit in die verlede was, sê die Here, die Almagtige. Ek sal in hierdie plek vrede bewerkstellig. Ek, die Here, die Almagtige, bevestig dit!”
Gehoorsaamheid bring voorspoed
10Op 18 Desember#2:10, 18, 20 Grondteks Op die 24ste dag van die negende maand. van die tweede jaar wat Darius koning was, het die Here die volgende boodskap deur die profeet Haggai gestuur: 11“Die Here, die Almagtige, sê: Vra vir die priesters die volgende vraag oor die gebooie: 12Sê nou een van julle dra ’n heilige offer in ’n sak van sy klere. En sê nou hy raak aan ’n stuk brood, gekookte kos, wyn, olie of enige ander vorm van kos, sal dit dan gewy wees?”
Die priesters het geantwoord: “Nee.”
13Haggai vra toe: “Sê nou iemand het onrein geword omdat so ’n persoon aan ’n lyk geraak het. As hy dan raak aan al die dinge wat reeds genoem is, is die goed dan ook onrein?”
Die priesters het geantwoord: “Ja.”
14Toe sê Haggai: “Dit geld ook vir hierdie mense en hierdie volk, sê die Here. Net mooi alles wat hulle doen en wat hulle offer, is onrein. 15Hou dit voortaan in gedagte. Dink ’n bietjie hoe julle omstandighede was voordat julle die fondament van die Here se tempel begin lê het. 16Toe julle gehoop het vir ten minste twintig mate koring, het julle net tien geoes. En toe julle verwag het om darem 50 vate wyn uit die pers te kry, het dit net twintig opgelewer. 17Ek het brandkoring, heuningdou en hael gestuur om julle handewerk te vernietig. Tog, ten spyte daarvan, het julle geweier om na My toe terug te kom, sê die Here.
18“Let baie mooi op wat van vandag af, 18 Desember#2:10, 18, 20 Grondteks Op die 24ste dag van die negende maand., die dag waarop die fondamente van die tempel gelê is, sal gebeur: 19Ek maak nou aan julle ’n belofte terwyl die saad nog in die skuur is en die wingerd, die vyeboom, die granaatboom en die olyfboom nog nie hulle vrug opgelewer het nie. Van vandag af sal Ek julle voorspoedig maak.”
Beloftes aan Serubbabel
20Die Here het op 18 Desember#2:10, 18, 20 Grondteks Op die 24ste dag van die negende maand. ’n tweede boodskap vir Haggai gegee: 21“Sê vir Serubbabel, die goewerneur van Juda, dat Ek op die punt staan om die hemel en die aarde te skud. 22Ek gaan konings se ryke omverwerp. Ek gaan die mag van koninkryke vernietig. Ek gaan strydwaens en hulle bemanning omdop. Die perde sal neerslaan en die ruiters sal mekaar doodmaak.
23“Die dag wanneer dit gebeur, sê die Here, die Almagtige, sal Ek jou vereer, Serubbabel, seun van Sealtiël, my dienskneg. Ek sal jou beskou soos ’n seëlring aan my vinger, sê die Here. Ek sal dit doen omdat Ek jou gekies het. Ek, die Here, die Almagtige, sê dit!”

Currently Selected:

HAGGAI 2: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy