YouVersion Logo
Search Icon

2 KRONIEKE 20

20
Oorlog teen Moab, Ammon en Edom
1Hierna het die Moabiete, Ammoniete en sommige van die Meüniete oorlog teen Josafat verklaar. 2Boodskappers het gekom en vir Josafat vertel: “’n Groot leër van Edom trek op teen u van anderkant die Dooie See. Hulle is alreeds by Gaseson-Tamar, dit is En-Gedi.”
3Josafat was baie ontsteld oor hierdie nuus en het vir die Here raad gevra. Hy het ook beveel dat elkeen in Juda moet vas. 4Die mense het van al die dorpe in Juda na Jerusalem toe gekom om die Here se hulp te soek.
5Josafat het opgestaan in die vergadering van die mense van Juda en Jerusalem voor die nuwe voorhof in die tempel van die Here. 6Hy het gebid: “Here, God van ons voorouers, is U nie die God wat in die hemel is nie? U is die heerser oor al die koninkryke op die aarde. U is kragtig en magtig. Niemand kan teen U staande bly nie. 7Ons God, het U nie die inwoners van hierdie land voor u volk Israel uitgedryf nie? Het U nie die land vir altyd aan die nageslag van u vriend Abraham gegee nie? 8U volk het hier kom woon en hierdie tempel vir U gebou. 9Hulle het gesê: ‘As ons bedreig word met rampspoed soos oorlog, siekte of hongersnood, sal ons kom staan in u teenwoordigheid voor hierdie tempel waar u Naam vereer word. Ons sal tot U roep uit ons ellende, en U sal ons hoor en ons verlos.’
10“Kyk nou wat hierdie leërs van Ammon, Moab en die Seïrberge doen. Toe Israel uit Egipte getrek het, het U ons voorouers nie toegelaat om hierdie volke aan te val en hulle te verwoes nie. 11Kyk hoe beloon hulle ons nou! Hulle kom om ons uit u land wat U vir ons gegee het, te verdryf. 12Ons God, sal U nie oor hulle oordeel nie? Ons is magteloos teen hierdie groot leër wat op die punt is om ons aan te val. Ons weet nie wat om te doen nie, maar ons kyk op na U vir hulp.”
13Terwyl die manne van Juda met hulle vroue, kinders en suigelinge voor die Here gestaan het, 14het die Gees van die Here in die vergadering oor een van die manne gekom. Sy naam was Jagasiël seun van Sagaria, seun van Benaja, seun van Jeïel, seun van Mattanja, ’n Leviet uit die nageslag van Asaf. 15Hy het gesê: “Luister, alle inwoners van Juda en Jerusalem! Luister, koning Josafat! Dit is wat die Here vir julle sê: Moenie bang wees nie! Moenie moedeloos wees oor hierdie magtige leër nie, want die oorlog is nie julle s’n nie, maar God s’n. 16Môre moet julle teen hulle uittrek. Julle sal hulle teëkom wanneer hulle opkom teen die pas van Sis, by die einde van die vallei wat uitmond op die Jeruelwoestyn. 17Dit sal nie vir julle nodig wees om te veg nie. Neem julle posisies in, en staan dan en kyk na die oorwinning van die Here. Hy is met julle, inwoners van Juda en Jerusalem. Moenie bang of moedeloos wees nie. Gaan môre soontoe, want die Here is met julle!”
18Koning Josafat het toe met sy gesig na die grond toe gekniel. Al die inwoners van Juda en Jerusalem het ook so gemaak en die Here aanbid. 19Die Leviete van Kehat en die Koragiete het opgestaan om die Here die God van Israel met oorgawe te prys.
20Vroeg die volgende môre het die leër van Juda uitgetrek na die woestyn van Tekoa. Op pad sê Josafat: “Luister na my, almal van Juda en Jerusalem! Glo in die Here julle God, en julle sal vas staan. Glo in sy profete, en julle sal suksesvol wees.” 21Nadat hy die leiers van die volk geraadpleeg het, het die koning sangers aangestel om voor die leër uit te stap. Hulle het tot eer van die Here gesing en Hom geprys vir sy heerlike heiligheid:
“Loof die Here,
want sy troue liefde
duur vir altyd.”
22Die oomblik toe hulle begin sing en die Here prys, het Hy veroorsaak dat die leërs van Ammon, Moab en die Seïrberge onder mekaar begin veg. 23Die leërs van Moab en Ammon het teen hulle bondgenote uit die Seïrberge gedraai en elkeen van hulle doodgemaak. Nadat hulle die leër van Seïr vernietig het, het hulle mekaar vernietig.
24Teen die tyd dat die leër van Juda by die uitkykpunt oor die woestyn kom, was daar so ver hulle kon sien net lyke op die grond. Nie een van die vyand het ontsnap nie. 25Koning Josafat en sy manne het gegaan en die buit bymekaargemaak. Hulle het baie toerusting, klere#20:25 Volgens sommige Hebreeuse manuskripte en die Latynse Vulgaat. Die meeste Hebreeuse manuskripte lees lyke. en ander kosbare voorwerpe gekry, meer as wat hulle kon dra. Daar was so baie buit dat dit drie dae geneem het om dit te versamel. 26Op die vierde dag het hulle in die Vallei van Seëninge die Here geseën en geprys. Dit is waarom die plek tot vandag toe Vallei van Seëninge genoem word.
27Daarna het al die mense van Juda en Jerusalem teruggegaan na Jerusalem toe. Josafat het hulle gelei en hulle was vol vreugde omdat die Here die oorwinning oor hulle vyande gegee het. 28Hulle is terug na Jerusalem toe en na die tempel van die Here met die klank van harpe, liere en trompette. 29Toe die omringende koninkryke hoor dat die Here self teen die vyande van Israel geveg het, het die vrees vir God oor hulle gekom.
30Daar was vrede in Josafat se koninkryk omdat God vir hulle rus aan alle kante gegee het.
Opsomming van Josafat se regering
31Josafat het oor die land Juda geheers. Hy was 35 jaar oud toe hy koning geword het. Hy het 25 jaar in Jerusalem regeer. Sy ma was Asuba dogter van Silgi. 32Josafat was ’n goeie koning wat die voorbeeld van sy pa Asa gevolg het. Hy het volgehou om te doen wat reg was vir die Here. 33Gedurende sy bewind het hy egter nagelaat om al die heidense hoogtes te verwyder. Die volk het hulleself ook nie ten volle aan die God van hulle voorouers verbind nie. 34Die ander gebeurtenisse tydens sy bewind is opgeteken in Die verhale van Jehu, seun van Ganani wat ingesluit is in Die boek van die konings van Israel.
35Maar teen die einde van sy lewe het koning Josafat ’n verdrag gesluit met koning Ahasia van Israel, wat ’n baie goddelose man was. 36Hulle het saam ’n vloot handelskepe in Esjon-Geber gebou om na Tarsis toe te vaar.
37Eliëser seun van Dodawa uit Maresa het teen Josafat geprofeteer. Hy het gesê: “Omdat jy ’n verdrag met koning Ahasia aangegaan het, sal die Here jou werk vernietig.” Die skepe het vergaan en kon nie na Tarsis vaar nie.

Currently Selected:

2 KRONIEKE 20: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy