YouVersion Logo
Search Icon

2 KRONIEKE 19

19
Josafat stel regters aan
1Toe Josafat van Juda veilig tuiskom in Jerusalem, 2het Jehu die siener, seun van Ganani, hom tegemoetgegaan en vir koning Josafat gevra: “Hoekom help u die goddelose en betoon u liefde aan ’n hater van die Here? Wat u gedoen het, het die toorn van die Here teen u laat ontvlam. 3Maar u het ook goeie dinge gedoen, want u het die Asjerapale dwarsdeur die land vernietig en u het u daarop toegespits om God te dien.”
4Josafat het in Jerusalem gewoon, maar het weer tussen sy mense rondgegaan. Hy het van Berseba tot by die Efraimsberge gereis en die mense aangemoedig om hulle tot die Here die God van hulle voorouers te bekeer. 5Hy het in al die versterkte stede oor die hele land van Juda regters aangestel 6en aan hulle bepaalde opdragte gegee: “Dink versigtig voordat julle oordele uitspreek. Onthou dat julle nie regspreek om mense te bevredig nie, maar om die Here te bevredig. Hy sal by julle wees wanneer julle uitspraak lewer. 7Vrees die Here en oordeel met versigtigheid, want die Here ons God verdra nie verdraaide regspraak, partydigheid of die aanvaarding van omkoopgeld nie.”
8Josafat het sommige van die Leviete en priesters en stamhoofde in Israel aangestel om op te tree as regters in Jerusalem met die oog op sowel die godsdienstige as die burgerlike geskille. 9Dit was die opdragte aan hulle: “Julle moet altyd optree in eerbied vir die Here, met opregtheid en met onpartydigheid. 10Wanneer ’n saak van ’n medeburger uit ’n afgeleë dorp voor jou gebring word, sou dit ’n moordsaak of ’n oortreding van God se gebooie, bevele, voorskrifte en bepalings wees, moet jy hulle waarsku om nie teen die Here te sondig nie sodat sy toorn nie oor julle en julle broers kom nie. As julle so optree, sal julle nie skuldig wees aan ’n misdaad teen die Here nie.
11“Die hoëpriester Amarja sal die hoogste gesag oor julle wees in alle sake van die Here. Sebadja seun van Ismael, ’n leier in Juda, sal die hoogste gesag wees in alle sake van die koning. Die Leviete sal julle bystaan om seker te maak dat reg sal geskied. Tree op met moed wanneer julle julle pligte nakom, want die Here is aan die kant van hulle wat reg doen.”

Currently Selected:

2 KRONIEKE 19: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy