Onbeskryflik: 'n 7-Dag Reis Oor God En Die WetenskapVoorbeeld

GEEN GRAP NIE
Jy weet waarskynlik dat 'n vulletjie, 'n perd word wanneer dit groot is en 'n kalfie word 'n bees. Net so word 'n lammetjie, 'n skaap, maar het jy geweet dat 'n vingerling 'n vis word wanneer dit groot is?
Die ware vraag is egter, wat sal jy word wanneer jy groot is? Sal jy die mens word waarvoor God jou geskape het? God het vir jou spesiale gawes en talente gegee — dinge wat jou in staat stel om goed te doen wat niemand anders op dieselfde wonderlike manier kan doen nie. Hy wil hê jy moet jou gawes gebruik om Hom en ander mense lief te hê. Om God en jou naaste lief te hê, is die twee grootste gebooie, wat jy in Matteus 22:37-40 kan gaan lees.
Die groot nuus is dat jy nie hoef te wag tot jy groot is om jou gawes te gebruik en die Woord van God te gehoorsaam nie. Jy kan sommer nou begin. Ek is nog net 'n kind, mag jy dalk sê. Geen probleem — kyk net wat een kind in die Bybel gedoen het. Josia was maar agt jaar oud toe hy koning geword het en sy mense terug na God gelei het. (Lees van Josia in 2 Konings 22-23).
Toemaar, jy hoef nie 'n koning te wees om die regte ding te doen en mense na God te lei nie. Jy kan 'n onderwyser, brandweerman, die president — of 'n kind wees. Jy moet net vir God met jou hele hart, siel en verstand liefhê, en ook jou naaste — dan sal jy grootword om groot dinge te doen!
Wees Verwonderd!
Kinders kan 'n groot verskil in die wêreld maak deur klein dingetjies te doen — soos om 'n vriend te troos, om te deel van wat jy het, of om ander van God te vertel. Wat kan jy vandag doen om wanneer jy groot is, die mens te wees wat God beplan het?
Gebed
Dierbare Vader, dankie dat U my uniek en met 'n doel geskape het. Help my om al die maniere te sien — groot en klein — hoe ek vandag aan U en my naaste liefde kan bewys.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan

Hierdie leesplan is gebaseer op Louie Giglio se kinder-oordenking "Indescribable: 100 Devotions About God & Science" en sal kinders help om die verstommende skepping van ons onbeskryflike God te ontdek. Ouers en kinders kan saam die wonders van die heelal met die Skepper ontdek. Dit is onmoontlik om God vir jou voor te stel. Hy reël tyd, skep lig, spreek dinge tot lewe — van die grootste sterre tot die kleinste seesterretjie. God is 'n kragtige, doelgerigte, persoonlike, ongeëwenaarde Skepper. Psalm 19:2 sê: "Die hemel getuig van die mag van God, die uitspansel maak die werk van sy hande bekend." Ouers en kinders kan saam bemoedig word terwyl hulle in ontsag God se kreatiwiteit bestudeer.
More