Bible Basics: Om God te kenVoorbeeld

Bible Basics: Om God te ken

DAG 4 VAN 9

Die Drie-eenheid

Die Bybel leer ons dat God een is en tog bestaan Hy uit drie Persone. Ons het ’n verhouding met Hom as ons Hemelse Vader; die Seun en ons Verlosser Jesus Christus; en die Heilige Gees. Dit is oukei as hierdie idee jou deurmekaar maak! Kom ons kyk ’n bietjie daarna ...

Mense is nie gemaak om alleen te wees nie (Genesis 2:18). Of ons nou introverte of ekstroverte is, mense is sosiale- en verhoudingsgedrewe wesens wat graag deur ander liefgehê wil word. Ons is ook geestelike wesens en ons het ’n behoefte aan ’n verbintenis met goddelikheid — iets of iemand groter as onsself. Ons kry hierdie behoefte van God self af. Hy leef in ewige gemeenskap: drie Persone in Een. Vir millennia het mense die idee van die Drie-eenheid probeer verstaan. Die wêreldwye kerk se basiese geloofsbelydenis is tweevoudig: God is een (ons dien nie drie verskillende gode nie; daar is een Skepper en oorsprong van ons geloof), en God is Drie-in-Een (elke Persoon van die Drie-eenheid is ten volle God).

God is ’n goddelike gemeenskap van liefde. Alles wat Hy doen, word in liefde gedoen. Natuurlik beteken dit nie Hy gee nie om oor sonde nie. Hy sou nie liefdevol gewees het as Hy nie gepla was deur aaklige misdade wat mense teen mekaar pleeg nie. God vergestalt regverdigheid en heiligheid, wat beteken dat Hy sonde en boosheid moet oordeel. Aan die ander kant is Hy volkome liefdevol en genadig. Dus, in plaas daarvan om ons net vir ons sonde te veroordeel, het Hy sy Seun, Jesus, gestuur om aan die kruis te sterf sodat ons skuld nie meer agter ons naam sou staan nie, maar volkome vergewe kon word. God neem die saak van sonde so ernstig op dat Hy aarde toe gekom het as ’n mens en ’n gewelddadige dood gesterf het vir almal, sodat ons skoon kon kom van sonde (Romeine 8:1-4). Elke Persoon van die Drie-eenheid speel ’n rol in God se oordeel oor sonde en sy liefdevolle verlossings- en vernuwingswerk.

Wanneer Filippus vir Jesus sê: “Here, wys ons net die Vader en dit is vir ons genoeg” (Johannes 14:8 NLV), sê Jesus as hulle Hom (Jesus) gesien het, het hulle ook die Vader gesien (Johannes 14:9). Jesus verduidelik verder dat wanneer Hy nie meer op die aarde is nie, die Vader die Gees sal stuur om by hulle te wees en hulle vir altyd te help (Johannes 14:16-17). Hierdie eenvoudige maar liefdevolle gesprek tussen Jesus en sy vriende ontbloot die eenheid, gelykheid en Godheid van die drie Persone van die Drie-eenheid.

Neem ’n oomblik om na te dink oor die waarheid dat ons in konstante gemeenskap met God kan leef: Vader, Seun en Gees! Dit is ons natuurlike impuls om na intimiteit te soek, en ons vind dit in God se gemeenskap van ewige liefde. God is getrou en sal Homself wys aan dié wat Hom soek (Deuteronomium 4:29). Nader dus tot God en Hy sál nader aan jou kom. Mag jy die perfekte vrede van die drie-enige God ervaar.

Deur Ross Marshall

Aangaande hierdie leesplan

Bible Basics: Om God te ken

Wat is die punt van die lewe? Bestaan God regtig? Gee Hy vir ons om? Kan ons Hom werklik ken? As jy al vrae soos hierdie gevra het, is hierdie 9-dag-leesplan vir jongmense ’n goeie plek om te begin om antwoorde te kry. Laat God toe om met jou te praat deur sy Woord oor hoe Hy is en wat Hy vir jou beplan, in hierdie lewe en die volgende.

More

Ons wil graag Shofar Christian Church bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: shofaronline.org