Vaste GeloofVoorbeeld

Gebruik wat jy het – geloof
“Hierop antwoord Jesus: ‘Gee julle vir hulle kos.’ Hulle sê toe vir Hom: ‘Dit sal ’n yslike bedrag kos om brood te gaan koop om vir hulle te ete te gee!’ Hy sê toe vir hulle: ‘Hoeveel brood het julle? Gaan vind uit.’ Toe hulle dit vasgestel het, sê hulle: ‘Vyf brode en twee visse.’”
(Markus 6:37-38, NLV)
By hierdie geleentheid in Markus 6 was daar baie mense, en hulle was honger. Jesus sê toe vir die dissipels: “Gee julle vir hulle kos” (Markus 6:37). Die opdrag kom ook na ons toe. Ek kan my voorstel jy sê: “Weet jy wat, ek is ’n bejaarde pensionaris, ek het regtig nie ’n groot inkomste nie,” of “Ek is net ’n gewone salaristrekker,” of “Ek is ’n weduwee, ek het nie veel nie.” Maar die Here sê ons moet gebruik wat ons het.
Onthou, die Here het twee vissies en vyf broodjies geneem en 5 000 mans gevoed, sonder om die vroue en kinders ook te tel. Die Here is op soek na gewillige harte wat bereid is om in suiwer geloof op te staan en God se Woord te gehoorsaam.
Wat het jy in jou hand? Gee dit vir die Here en Hy sal dit vir jou vermeerder. Gee vandag vir die Here wat jy het. Laat Hom toe om die res te doen.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan

Angus Buchan daag jou uit om tydens moeilike tye jou vertroue in God te stel. Vertrou God en beur voort en jy sal in geloof kan vasbyt. Wanneer jy na daardie berg voor jou kyk en dink: “Ek sal nooit daaroor kom nie,” onthou dat God gesê het: “Ek is by jou” (Jesaja 41:10, NLV). Staan sterk en hou vas aan jou geloof!
More
Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: cumbooks.co.za/pages/about-us





