Is ek sout en lig soos die Woord van my vra?Voorbeeld

Lig vir die wêreld — getuienis en openbaarheid
“Julle is die lig vir die wêreld. 'n Stad wat op 'n berg lê, kan nie weggesteek word nie" (Matteus 5:14 AFR83).
Jesus sê in Matteus 5:14: "Julle is die lig vir die wêreld..." Lig bring sigbaarheid, oriëntasie en hoop. Die wêreld is geestelik donker — sonder God, sonder ware rigting — en God gebruik sy kinders om daardie lig te bring. Dit is nie 'n private geloofslewe nie; dit is so sigbaar soos ’n stad op ’n berg wat nie weggesteek kan word nie.
Verder sê Hy: "ook steek 'n mens nie 'n lamp op en sit dit onder 'n emmer nie maar op 'n lampstaander, en dit gee lig vir almal in die huis" (Matteus 5:15). Gelowiges word nie geroep om hul geloof uit vrees of skaamte weg te steek nie, maar om dit openlik in hul woorde, dade en keuses te laat skyn.
Hierdie vers is 'n oproep om tot aksie oor te gaan: Laat jou lig sigbaar wees! Dit is 'n oproep tot egtheid en integriteit — nie 'n vertoon nie, maar 'n natuurlike weerkaatsing van wie God is.
Dit is duidelik in Jesus se leringe op aarde dat Hy ‘n alternatiewe kyk na realiteit van sy volgelinge vra. ‘n Wêreldbeeld waarin ons nie vir onsself bestaan nie, maar vir sy glorie en sy getuienis in ons omgewing. Al hoe ons dit kan regkry is om nie ons geloof slegs ‘n privaat saak te maak nie, maar om dit in die openbaar sonder skaamte uit te leef. Dit gaan soms die ongewilde keuse wees, want ons kies dan aktief téén die vervalle kultuur van ons dag. Onthou, Jesus vra altyd van ons om ‘n "téén-kultuurgemeenskap" te wees — om nie soos die wêreld te leef nie maar eerder met Bybelse beginsels en waarhede soos Jesus ons geleer het, soos Hy ook op die aarde geleef het. Hy maak die stelling in Matteus 5:14: "Julle IS die lig vir die wêreld", dis die enigste sigbare hoop in hopelose tye.
Vrae vir nadenke:
·Waarin word jou lig dalk "weggesteek"?
·Op watter maniere kan jou lig sigbaar wees in jou werk, gesin of gemeenskap?
Aangaande hierdie leesplan

Jesus beskryf die identiteit en roeping van sy volgelinge in die bergprediking (Matteus 5:13-16). Hierdie verse beeld gelowiges uit as "sout van die aarde" en "lig vir die wêreld". Dit is metafore wat wys op invloed, teenwoordigheid en getrouheid in 'n wêreld wat geestelik donker en moreel vervalle is. Jesus maak dit duidelik dat sy dissipels nie net vir hulself leef nie. Hierdie vierdagleesplan sal jou help om die oorspronklike konteks van hierdie kort maar kragtige gedeelte beter te verstaan en ook hoe dit vandag nog op elke gelowige van toepassing is.
More
Ons wil graag Moreleta Kerk bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.moreleta.org/