Jou Werk Is Nog Nie Afgehandel NieVoorbeeld

You're Not Finished Yet

DAG 5 VAN 5

Fokus Op Jou Hoekom

Kylie is een van my oudste en dierbaarste vriendinne, en soos so baie van hulle, hardloop sy gereeld in maraton wedlope. Ek is nie seker of ek my drome deur hulle probeer uitleef nie, maar ek het klaarblyklik baie vriende wat daarvan hou om lang afstande te hardloop. Een ding van Kylie waarvan ek hou, is dat sy met elke maraton dieselfde ritueel volg. Sodra die afsitter die skoot afvuur, sê sy hardop: "Kylie, al wat jy hoef te doen, is om klaar te maak."

Gedurende die wedloop sê sy dit minstens honderd keer vir haarself. Sy probeer nie almal klop nie en vergelyk ook nie voortdurend haar spoed met dié van die ander nie — sy hou bloot haar eie pas en hardloop háár wedloop. Die belangrikste vir haar is om by die wenstreep uit te kom.

Dit is só 'n wonderlike les vir ons almal. As ons doelwit is om ooreenkomstig die beeld van Jesus omskep te word — om meer soos Jesus te word — dan moet ons die wedloop volgens Jesus se wil hardloop. Dan is ons nie daarop uit om iemand anders te klop nie; ons is nie daarop uit om beter as enigiemand anders te wees nie; ons doen ons bes om meer soos Jesus te wees.

As ons onbewustelik ons oë van die uiteindelike prys — Jesus — afhaal, sal ons op ander dinge soos mense, status en selfbevrediging fokus. Gevolglik sal ons van balans en koers af raak. As ons ons oë van die doelwit afhaal, sal ons heel moontlik 'n denkwyse ontwikkel dat dinge nie vinnig genoeg beweeg nie — dat ons nie gou genoeg beloon of erken word nie. Dit kan selfs meebring dat ons onsself onopsetlik ontwortel en ons doel misloop.

In alle eerlikheid, tydens sommige van die grootste uitdagings in my lewe en moeilikste tye van bediening — daardie tye toe ek gewonder het: Hoekom doen ek dit? en twintig geldige redes gehad het om op te hou — moes ek weer doelbewus fokus op die uiteindelike doelwit wat God met my roeping het. Dít is wat my in my donkerste ure aan die gang gehou het. Dit is die "hoekom" wat my help om aan te hou hardloop, wanneer die "hoe" géén sin meer maak nie.

Miskien stoei jy vandag hiermee. Miskien is die antwoord deels om op jou "hoekom" te herfokus. 'n Verdere deel van die antwoord kan wees om nie jou aandag te laat aflei deur die bevrediging van onmiddellike behoeftes nie, maar eerder op die voltooiing van die roete, en die behaling van jou prys te fokus. Kom ons herfokus ons oë, harte en gedagtes op Jesus. Kom ons maak dit ons doel om: "...[ons] lewenstaak [te] kan voltooi en die dienswerk wat [ons] van die Here Jesus gekry het, [te] kan klaar maak: dit is om die evangelie van God se genade te verkondig" (Handelinge 20:24).

Gebed

Jesus, my doel is om my lewenstaak en die bediening te voltooi wat ek van U ontvang het. Help my asseblief om hierdie doelwit te bereik. Help my om my oë op U, die uiteindelike prys, te hou. In u Naam. Amen.

Gaan voort met jou reis

Hierdie leesplan is geneem uit You're Not Finished Yet deur Christine Caine. Lees meer by ChristineCaine.com/Devo

Aangaande hierdie leesplan

You're Not Finished Yet

Is jy in staat om end-uit te volhard? Om jou doel te bly nastreef, al neem dit lank? Halfpad deur enigiets wat ons aanpak — loopbaan, verhoudings, bediening, gesondheid — gebeur dit dikwels dat ons ons veerkragtigheid en deursettingsvermoë verloor omdat daardie oomblikke in die middel (tussen die begin en die einde) dikwels wanordelik en moeilik is. In hierdie 5-dag leesplan wys Christine Caine ons daarop dat ons die hele wedloop kan voltooi — nie omdat óns die krag het nie, maar omdat God dit het.

More

Ons wil graag vir Christine Caine van “Equip & Empower Ministries, A21, Propel Women”, bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.christinecaine.com