Jou Werk Is Nog Nie Afgehandel NieVoorbeeld

Die Maraton Genaamd Lewe
Ek is gek daaroor om te hardloop, alhoewel ek glad nie 'n ernstige hardloper is nie. My idee van hardloop is 'n stadige draffie van sowat agt kilometer, en as ek sê stadig, bedoel ek ma's wat hul babas in stootwaentjies stoot, kan my verbysteek. My vriendin Dawn, die een saam met wie ek bergroetes stap, is die regte hardloper. Sy neem gereeld aan maratons deel en het beide die fisieke en geestelike uithouvermoë om sulke afstande af te lê. Sy het al genoeg gehardloop om te weet hoe dit is om spreekwoordelik met die kop teen die muur te loop ('n onoorkomlike probleem te ondervind). 'n Konsep wat ek nog nooit ervaar het nie, want ek het blykbaar nog nooit ver genoeg gehardloop nie!
Om te voel jy kan nie meer nie, is blykbaar 'n probleem wat hardlopers slegs deur wilskrag kan oorkom. Dit is meer ‘n geestelike as 'n fisieke stryd — selfs wanneer dit liggaamlik ondraaglik word. Dawn het dit eenkeer aan my verduidelik deur te beskryf wat tydens haar eerste maraton gebeur het. Sy het reeds 36 km gehardloop toe sy begin kragteloos voel. Sy het 36 minute gehad om die oorblywende 6 km af te lê. Dit sou nie 'n probleem gewees het as sy nie reeds vir kilometers met ‘n brandende pyn in haar linker heup gehardloop het nie. Volgens haar het die linkerkant van haar brein (die logiese kant) vir haar gesê om te stop en die res van die pad te loop. Gedagtes soos: Moenie bekommerd wees om jou doel te bereik nie. Mense sal verstaan wanneer hulle besef hoe warm dit is en hoe erg jou lyding is. Ewe hard het die regterkant van haar brein terugbaklei: Daar is nog hoop! Die wedloop is nog nie verby nie! Dit is steeds moontlik om jou doelwit te bereik. Moenie ophou hardloop nie!
Het jy jouself al ooit in so 'n geestelike oorlog bevind? Wanneer jou gedagtes op jou skree? In 'n wedloop gebeur dit wanneer jy voel jy kan nie meer nie, wanneer jy niks meer het om te gee nie, wanneer jy elke greintjie energie opgebruik het en alles in jou wil opgee. Tog, soos Dawn ervaar het, smeek die flikkering van 'n doel of droom iewers diep binne om nie geruïneer te word nie.
Ek was al op so 'n plek waar ek geestelik, verstandelik en emosioneel gevoel het ek kan nie meer nie. In sulke tye het ek op die Woord van God in my hart en gedagtes gesteun. God se beloftes het in my weerklink, terwyl my gedagtes vir my geskree het om op te hou. Juis as gevolg van sy beloftes, daardie flikkering van hoop, kon ek voortgaan deur my gedagtes op die Woord van God te fokus. Ten spyte van hoeveel keer my verstand vir my gesê het om op te hou, het ek my gedagtes bly herlei — weg van dít wat hulle wou dink, na dít wat die Woord van God gesê het die waarheid is.
Miskien is jy nou op so 'n plek. Wat skree jou gedagtes vir jou? Dat dit nie moontlik is nie? Dat dit te laat is? Dat jy nie toegerus is nie? Nie slim genoeg nie? Té jonk? Té oud? Nie geleerd genoeg nie? Jy kan hierdie gedagtestryd wen deur jou gedagtes vanuit die Woord van God te vernuwe en aanhoudend op sy stem te fokus.
Gebed
Hemelse Vader, dankie vir u Woord. Help my om meer vertroud te wees met wat daarin staan, sodat ek herskep kan word. Gee dat ek enige kragteloosheid kan oorkom deur die vernuwing van my gedagtes. In die Naam van Jesus. Amen.
Aangaande hierdie leesplan

Is jy in staat om end-uit te volhard? Om jou doel te bly nastreef, al neem dit lank? Halfpad deur enigiets wat ons aanpak — loopbaan, verhoudings, bediening, gesondheid — gebeur dit dikwels dat ons ons veerkragtigheid en deursettingsvermoë verloor omdat daardie oomblikke in die middel (tussen die begin en die einde) dikwels wanordelik en moeilik is. In hierdie 5-dag leesplan wys Christine Caine ons daarop dat ons die hele wedloop kan voltooi — nie omdat óns die krag het nie, maar omdat God dit het.
More