Jou Werk Is Nog Nie Afgehandel NieVoorbeeld

Jy is Geskep om Vorentoe te Beweeg
Die Australiese landswapen bevat 'n baie insiggewende beeld. Een wat my na aan die hart lê, nie net omdat ek in Australië gebore en getoë is nie, maar ook omdat dit vir my persoonlik boekdele spreek. Daar word twee diere uitgebeeld — die rooi kangaroe en die emoe — wat 'n skild omhoog hou. Hulle is nie net gekies omdat hulle inheems aan Australië is nie, maar ook omdat hulle gemaak is om vorentoe te beweeg.
Die emoe, 'n nie-vlieënde voël byna so groot soos ‘n volstruis, is bekend vir sy spoed. Wanneer hy volspoed hardloop, is elke tree wat hy gee byna twee en ‘n driekwart meter lank. Dit is die enigste voël met kuitspiere — baie soos dié van 'n mens. Nietemin kan hy nie agteruit loop nie; slegs vorentoe.
Die rooi kangaroe — soos alle kangaroes — beweeg deur huppelspring-bewegings. Hulle spring gelyktydig met albei hul groot voete, terwyl hulle hul sterte vir balans gebruik. Die kombinasie van hul gespierde bene, groot voete en sterte help die kangaroes om doeltreffend vorentoe te beweeg. Weereens kan hulle egter net vorentoe beweeg — nie agteruit nie.
As ek aan hulle dink as God-geskape wesens wat nie agteruit kan loop nie, dink ek onwillekeurig daaraan dat ons as mense na die beeld van God geskep is — nog 'n wonder van die skepping wat ontwerp is om op dieselfde manier te beweeg.
Ek verstaan wel dat ons van tyd tot tyd moet terugtree en die verlede onthou sodat ons vorentoe kan beweeg. Soms tref die lewe ons en laat ons voel asof ons agteruit gegaan het, maar God is getrou om ons op te tel en vorentoe te laat beweeg. Ons is almal op reis, maak nie saak waar ons is nie. Somtyds beweeg ons vinnig vorentoe en ander kere beweeg ons stadiger, maar oor die algemeen hou ons aan. Alhoewel ons dalk stilstaan en na die verlede kyk, wil ons nie in die verlede vashaak nie, nie waar nie? Hoe dikwels het ons toegelaat dat 'n tydperk van teleurstelling, hartseer, verwerping, aanstoot of vrees ons keer om vorentoe te beweeg? Vandag is 'n goeie dag om die hand van Jesus te vat en, soos die emoe en die rooi kangaroe, die volgende tree vorentoe te gee.
Kom ons luister na Paulus se raad aan die Filippense: "... ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is" (Filippense 3:13b). Ons kan nie die verlede verander nie. Geensins! Ons kan egter wel ons toekoms beïnvloed. Ons kan aanhou volhard in geloof, en alles bereik wat God vir ons beplan het. Ons kan aanhou beweeg in die enigste rigting waartoe ons geskep is om te beweeg.
Die emoe. Die rooi kangaroe. Jy. Almal geskep om vorentoe te beweeg. Nooit agteruit nie. Kom ons wees wie God ons geskep het om te wees sodat ons alles kan doen waartoe Hy ons geroep het!
Gebed
Hemelse Vader, dankie dat U selfs in die natuur vir ons voorbeelde gee. U gee ons insig. Help ons om te beweeg soos U ons geskep het — om vorentoe te beweeg, en nooit agteruit nie. In die Naam van Jesus. Amen.
Aangaande hierdie leesplan

Is jy in staat om end-uit te volhard? Om jou doel te bly nastreef, al neem dit lank? Halfpad deur enigiets wat ons aanpak — loopbaan, verhoudings, bediening, gesondheid — gebeur dit dikwels dat ons ons veerkragtigheid en deursettingsvermoë verloor omdat daardie oomblikke in die middel (tussen die begin en die einde) dikwels wanordelik en moeilik is. In hierdie 5-dag leesplan wys Christine Caine ons daarop dat ons die hele wedloop kan voltooi — nie omdat óns die krag het nie, maar omdat God dit het.
More