Jou Werk Is Nog Nie Afgehandel NieVoorbeeld

Saaityd en Oestyd
Het jy 'n droom? 'n Idee? ’n Begeerte om iets te doen wat eenvoudig nie wil weggaan nie, omdat jy wéét dat God dit in jou hart geplaas het? Wanneer God vir ons 'n droom gee, bring Hy iets na vore wat Hy reeds vóór ons geboorte binne-in ons geplaas het. Ons besit die volle potensiaal vir sy planne en doelwitte vir ons lewens. Tog is dit óns verantwoordelikheid om die saad van daardie potensiaal nat te maak, om die grond van ons harte te versorg, om alles te ontwikkel wat God binne-in ons geplaas het.
Dink so daaraan: God het bome die vermoë gegee om hulself deur hulle saad voort te plant. As jy al ooit 'n dennebol uitmekaar gehaal het, sou jy klein saadjies sien, elkeen met 'n eie "vlerk". Hierdie ontwerp laat die wind toe om die saad weg te waai tot waar dit op die grond val en begin wortelskiet. In die regte grond, in die regte omgewing, sal daardie saad uitspruit en groei tot 'n nuwe, volgroeide boom. Hoewel die volgroeide boom altyd in die saad was, kon niemand dit sien totdat dit in die regte grond geplant en deur die reën en die son ontkiem is nie.
Op 'n soortgelyke wyse groei die saadjies — die drome, idees, planne en doelwitte van God — in ons harte, terwyl ons dit met geloof natmaak. Die sade groei as ons die grond van ons harte vrugbaar maak deur hulle met die Woord van God te voed en dit in ons lewens toe te pas.
God se planne en doelwitte vir ons lewens groei namate ons saam met Hom bly wandel, uithouvermoë ontwikkel en aanhou met die planne totdat dit voltooi is. Dit is hoe ons ons drome 'n werklikheid maak — die idees wat God vir ons gee. Die potensiaal is altyd daar, maar dit is in saadvorm totdat ons doen wat nodig is om dit te laat groei.
God wil hê ons moet groei tot waar ons kan. Die uitdaging is dat dit teen die norm indruis. Dit is soveel makliker om te streef na dít wat onmiddellik beskikbaar is; iets waarop ons vinnig kan klik en oplaai; na wat ons kan bestel om dieselfde dag nog afgelewer te word. Dit is egter nie God se werkwyse nie. Hy is nie op kitsresultate ingestel nie. God werk tydsaam met 'n saadjie wat gekoester moet word.
Is jy bewus van God se planne vir jou lewe? Kan jy voel dat enige onontginde potensiaal in jou binneste sluimer? Potensiaal is die verskil tussen wat werklik is en wat moontlik is. Dit is die onontginde vermoë, die opgegaarde krag, die ongerealiseerde sukses, die sluimerende gawes en die verborge talente wat wag om ontwikkel te word. Dit is die persoon wat jy nog moet word. Dit is waarheen jy kan gaan, maar nog nie was nie. Dit is alles wat jy kan doen, maar nog nie gedoen het nie. Dit is wat jy kan bereik, maar nog nie op gemik het nie.
Jy hoef nie al die planne en doelwitte te ken wat God vir jou het nie, aangesien die meeste van hulle mettertyd wel sal ontvou — maar ken jy minstens een van hulle? Begin vandag om daardie saad te koester en kyk hoe dit begin groei. Dit is so seker soos saai- en oestyd.
Gebed
Hemelse Vader, help my asseblief om die saad van potensiaal te koester wat U binne-in my geplaas het. Ek wil groei na wat U wil hê ek moet word. In die Naam van Jesus. Amen.
Aangaande hierdie leesplan

Is jy in staat om end-uit te volhard? Om jou doel te bly nastreef, al neem dit lank? Halfpad deur enigiets wat ons aanpak — loopbaan, verhoudings, bediening, gesondheid — gebeur dit dikwels dat ons ons veerkragtigheid en deursettingsvermoë verloor omdat daardie oomblikke in die middel (tussen die begin en die einde) dikwels wanordelik en moeilik is. In hierdie 5-dag leesplan wys Christine Caine ons daarop dat ons die hele wedloop kan voltooi — nie omdat óns die krag het nie, maar omdat God dit het.
More