Jou Werk Is Nog Nie Afgehandel NieVoorbeeld

Geloof vir die Middel
Het jy geweet dat hardlopers wat met erns vir 'n wedloop voorberei, spesifiek vir die middel van die wedloop oefen? Die rede hiervoor is dat die middelste gedeelte van enige wedloop die moeilikste deel is. Dit is waar 'n hardloper se energie, krag en geestelike fokus begin opraak om aan te hou. Ongeag of dit 'n naelloper of 'n maratonatleet is, as hulle nie verby die middel kom nie, sal hulle nie die wenstreep haal nie. Dit klink so eenvoudig, maar dit verg strategiese oefening om sukses te behaal.
Vanuit 'n geestelike perspektief — behels die middelste gedeelte waarvoor ons besig is om te oefen, nie 'n groot deel van ons lewens nie? Dink so daaraan: wanneer ons die dag geestelik gesproke gebore word, begin ons met ons aardse wedloop in Christus — met die hoop om eendag wanneer ons die wenstreep oorsteek, te hoor dat ons ons goed van ons taak gekwyt het. (1) Dit is dalk 'n oorvereenvoudiging, maar dit som ons lewens baie goed op, nie waar nie?
Eendag, wanneer ek my wedloop voltooi, wil ek soos die apostel Paulus kan sê: “Ek het die goeie wedloop afgelê; ek het die wenstreep bereik; ek het gelowig end-uit volgehou” (2 Timoteus 4:7). Om dit egter te doen, moet ek eers deur die middel kom.
Om deur die middel — van alles — te kom, sal jy uithouvermoë nodig hê. Die skrywer van Hebreërs het geskryf: "Volharding is wat julle nodig het om die wil van God te doen en te ontvang wat Hy beloof het" (Hebreërs 10:36).
Uithouvermoë word in die HAT gedefinieer as die "vermoë van 'n mens of ding om sy werkverrigting voort te sit, selfs in die moeilikste omstandighede." (2) Dit is die vermoë om onder moeilike omstandighede vas te byt. Die krag om pyn of swaarkry te weerstaan. Dit is 'n hoopvolle vasberadenheid wat tot die einde toe volhard. In die oorspronklike Griekse taal van die Nuwe Testament is dit hupomone, 'n saamgestelde woord wat vertaal word met "om onder te bly". (3) Dit is 'n eienskap wat ontwikkel word deur onder druk te bly — iets waarvan ons van nature wil wegskram — tog lyk dit asof dit ons juis in die middel die hardste tref.
Midde-in ons vriendskappe.
Midde-in ons verhoudingsafsprake.
Midde-in ons huwelike.
Midde-in ons ouerskap.
Midde-in ons opvoeding.
Midde-in ons loopbaanontwikkeling.
Midde-in 'n siekte.
Midde-in 'n hofsaak.
Midde-in 'n pandemie.
Midde-in 'n oorgangstydperk.
Midde-in iets wat ons hoop en bid sal gebeur.
Midde-in die wagtydperk op antwoorde.
Dit is die verveligste, die moeilikste en mees vermoeiende plek — daar in die middel van enigiets. Dit is waar ons die meeste uitgedaag word, is dit nie? Dit is waar ál wat ons wíl doen, is om op te gee.
As ons egter volharding wil bou — daardie krag wat ons volgens die skrywer van Hebreërs nodig sal hê — moet ons onsself deur die Woord van God en deur die krag van die Heilige Gees laat oplei. Dan sal ons die vermoë hê om deur die middel vol te hou — nie net deur één middel nie, maar deur elke middel waardeur ons ooit sal moet lewe.
Gebed
Hemelse Vader, help ons asseblief om te volhard terwyl ons deur die middel gaan van alles waardeur ons ooit sal moet gaan. Help ons om ons wedloop goed te hardloop sodat, wanneer ons die wil van God gedoen het, ons sal ontvang wat beloof is. In die Naam van Jesus. Amen.
Verwysings:
(1) Hebreërs 10:36
(2) F.F. Odendaal, R.H. Gouws: Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (Pearson Education South Africa, 2005); 1222
(3) J. Strong, A Concise Dictionary of the Words in the Greek Testament and the Hebrew Bible (Bellingham, W.A.: Logos Bible Software, 2009), 1:74.
Aangaande hierdie leesplan

Is jy in staat om end-uit te volhard? Om jou doel te bly nastreef, al neem dit lank? Halfpad deur enigiets wat ons aanpak — loopbaan, verhoudings, bediening, gesondheid — gebeur dit dikwels dat ons ons veerkragtigheid en deursettingsvermoë verloor omdat daardie oomblikke in die middel (tussen die begin en die einde) dikwels wanordelik en moeilik is. In hierdie 5-dag leesplan wys Christine Caine ons daarop dat ons die hele wedloop kan voltooi — nie omdat óns die krag het nie, maar omdat God dit het.
More