Leesplan inligting

Hoe Gaan Dit Met Jou SielVoorbeeld

How's Your Soul

DAG 5 VAN 5

Hoe Word My Siel Gehelp?

'n Rukkie gelede, in 'n oomblik van waansin, het ek besluit om 'n ATV te koop. Ek het nie eers geweet waarvoor die afkorting staan nie. Al wat ek wou hê was 'n deftige gholfkarretjie waarmee ek in my buurt kon rondry.

Toe ek eers agtergekom het hoe om brandstof in te gooi, wat my drie ure geneem het, het ek my eerste rit onderneem. Iets het egter skeef geloop. Die enjin het te hard en grof geloop. Die ratkas was rukkerig.

Ek het 'n paar vriende gevra om te kyk wat fout was. Nadat hulle dit 'n paar minute lank bestuur het, het een gesê: "Judah, niks is fout nie. Dit is soos die karretjie veronderstel is om te loop."

"Maar hoekom loop dit so hard en rukkerig?"

"Waarvan praat jy? Niks is fout nie."

"Waarom klink dit so hard?" het ek gevra.

My vriende het my snaaks aangekyk. "Judah, weet jy wat dit is? Weet jy waarvoor 'n ATV gebruik word?"

Ek het geantwoord: "Dit is soos 'n gholfkarretjie, né?"

"Dis 'n karretjie vir alle terreine (Alle Terreine Voertuig). Dit is nie gemaak om in die straat te ry nie. Dit het 'n pypraam en veiligheidsgordels. Dis 'n monster."

"Vir rowwe terrein?" het ek gevra. "Ek gaan nie dit doen nie. Nooit nie."

My vriende het my geïgnoreer. Hulle het 'n grondpad gevind en begin ry. Die ATV was in sy element. Modder het gespat, sprinkane het weggevlieg en my vriende het gegil.

Ek het elke sekonde gehaat. "Ek voel stowwerig," het ek gesê.

Ek dink ons wil soms dieselfde doen met ons geloof en verhouding met Jesus, as wat ek van my ATV verwag het. Ons wil rustige lewens hê en in beheer voel. Ons wil in die spoor bly.

Risiko's neem? Nee, wat.

Avontuur? Dankie, maar nee, dankie.

Onvoorspelbaarheid? Dis te vreesaanjaend.

Ons geloof is egter bedoel vir wanneer dinge nie glad verloop nie. Ons siele is ontwerp om God te volg op 'n moeilike pad met skerp draaie en afgronde. 'n Lewe saam met Jesus is 'n avontuur en ons sal gefrustreerd wees as ons dink dat alles net altyd seepglad sal verloop. Ons moet dit nie beveg nie, maar aanvaar. Ons moet aan God se beheer en plan vir ons lewe oorgee.

Ons kan volkome op God vertrou en sy voorbeeld met selfvertroue volg. Ek hou van hoe Spreuke 3:5 dit stel: "Moenie dink jy weet altyd die beste nie. Begin eerder elke dag weer van voor af om die Here lief te hê. En los tog al die slegte en verkeerde dinge. Vertel die Here alles waaroor jy dink, alles wat jy wil doen. Dan sal jy sien hoe Hy jou help."

Voel jy gefrustreerd omdat dit nie lyk of jou geloof reg werk nie? Het jy gedink dit sou makliker wees om Jesus te volg? Ek dink nie die fout is dat jou geloof nie werk nie, ek dink dit werk soos dit veronderstel is om te werk.

Ware geloof sal jou lei om besluite te neem, 'n lewenswyse te handhaaf en verhoudings te bou wat nie altyd veilig voel nie. Dis reg so. Geloof gaan nie oor veilig wees of gemaklik voel nie. Geloof gaan oor Jesus. Jou siel is ontwerp vir avontuur, om Jesus te volg en die lewe ten volle te geniet.

Reageer hierop

Wens jy ooit dat die lewe makliker en veiliger kon wees? Wat dink jy is die oorsprong van hierdie begeerte?

Is dit moeilik om jou lewe aan God oor te gee? Hoe help dit jou siel om meer veilig te voel as jy oorgee?

Wat beteken dit vir jou om te weet dat jou geloof bedoel is om op rowwe terrein te funksioneer?


Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

How's Your Soul

Judah Smith help lesers om hulle siele te ondersoek en te voed, terwyl hulle nader aan God groei.

Baie dankie aan Judah Smith en HarperCollins wat hierdie leesplan verskaf het. Besoek http://amzn.to/2pdMMQF vir meer inligting

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid