Leesplan inligting

Hoe Gaan Dit Met Jou SielVoorbeeld

How's Your Soul

DAG 1 VAN 5

Wanneer Is My Siel Tuis?

Ek het drie klein kindertjies. Om 'n klomp goed tegelykertyd te doen is nie een van my sterkpunte nie, veral nie met besige, bedrywige klein kindertjies nie. Ek hou nie tred met al die dinge wat gedoen moet word nie. Daarom is dit my taak om seker te maak dat ons kinders hulle kinderjare geniet en Chelsea moet seker maak dat hulle dit oorleef.

'n Tydjie terug het Chelsea egter 'n virus opgedoen wat haar energievlakke vir 'n paar maande aangetas het. Sy kon nie al die dinge doen waarmee sy so goed is (en wat ek so goed vermy) nie. Ek moes noodgedwonge sekere goed doen waaraan ek nie gewoond was nie. Soos wasgoed doen. En skottelgoed was. En opruim waar die kinders gemors het.

Die volle waarheid: grootouers, vriende, kinderopassers en ou tannies wat my nie ken nie, maar wat gesien het hoe ek sukkel, het my in die kruidenierswinkel gehelp. Baie gehelp. Ek was ver buite my gemaksone. Geleidelik het ek vertroud geraak met dinge wat ek voorheen vermy het.

Ek dink die meeste van julle is nie beïndruk nie. Moet my nie veroordeel nie; ons almal het swakpunte. Myne is net erger as joune.

Dis my punt: ons almal vermy ongemaklike, onbekende of vreemde situasies. Net omdat ons nie iets met gemak kan doen nie, beteken nie dat ons dit moet vermy nie.

Wanneer ons ons siele evalueer, raak mense ongemaklik. Hulle voel ongemaklik en angstig as hulle selfondersoek moet doen. Om eerlik te wees met hulleself of ander oor wat fout is, kan skrikwekkend wees. Hulle vermy selfondersoek ten alle koste, net soos ek en die huishouding.

Wat van jou? Wanneer het jy laas na jou sielstoestand gekyk? Hoe gemaklik voel jy om indringende vrae te vra oor die toestand van jou siel?

God wil vir ons vrede, stabiliteit, vreugde en hoop gee, meer as wat ons kan dink. Dit kan slegs plaasvind as ons tevrede is om ongemaklike vrae te beantwoord. Vrae oor ons gevoelens, gedagtes, vrese, motiewe en oor wat ons nodig het. Vrae wat moeilik is om te beantwoord, nie omdat hulle ontwykend is nie, maar omdat die antwoorde ons in die verleentheid kan stel. Vrae wat onthul wat ons seermaak en hinder, selfs al verg dit moed om werk te maak van dit wat ons ontdek.

Die apostel Johannes het hieroor aan een van sy vriende geskryf: "Liewe Gaius, ek hoop dat jy gesond is en dat dit in alle opsigte so goed gaan met jou as wat dit geestelik met jou gaan." (3 Johannes vers 2). Ek glo hy het dit geskryf sodat ons almal God se hart kan leer ken. God wil hê dat ons siele gelukkig, gesond en volmaak sal wees.


God verbind homself aan ons geluk en ook ons welstand, hoe vlugtig en subjektief dit ook al mag wees. Dit begin binne-in ons. Moet dus nie te bang, te besig of selfs te onselfsugtig wees om aandag aan jou siel te gee nie. Jy sal bly wees as jy dit doen.

Reageer hierop

Voel jy gemaklik om met ander mense oor jou gevoelens, pyn, drome en begeertes te praat? As jy nie is nie, waarom dink jy is dit vir jou moeilik?

Waarom dink jy wag mense totdat hulle siele in 'n krisis is voor hulle daaroor dink? Gebeur dit met jou?

Dink 'n paar minute lank oor die toestand van jou binneste. Wat is die drie spesifieke vrese, gevoelens, aannames of onsekerhede wat 'n invloed op jou kan hê?


Dag 2

Aangaande hierdie leesplan

How's Your Soul

Judah Smith help lesers om hulle siele te ondersoek en te voed, terwyl hulle nader aan God groei.

Baie dankie aan Judah Smith en HarperCollins wat hierdie leesplan verskaf het. Besoek http://amzn.to/2pdMMQF vir meer inligting

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid