Leesplan inligting

Lewe Veranderd: Deur Jou DroefheidVoorbeeld

Living Changed: Through Grief

DAG 5 VAN 5

Druk Deur

Indien jy wonder hoe om van hier af verder te gaan, is daar ongelukkig nie 'n eenvoudige antwoord nie. Daar is geen oornag-oplossing om jou hartseer te beëindig nie. Ongelukkig sal die pyn van hierdie verlies kom en gaan totdat jy in die hemel aankom. Dit sal egter nie altyd so onbeheerbaar voel soos nou nie, veral nie as jy aanhou om in die rouproses deur te druk nie.


Die dag wat my pa oorlede is, was ek die een wat noodbehandeling moes toepas totdat die ambulans aangekom het. Vir jare daarna, het my gedagtes teruggegaan na daardie verskriklike oomblikke, elke keer wat ek aan my pa gedink het. Dit was so 'n moeilike herinnering vir my om te hanteer dat ek alles in my vermoë gedoen het om nié daaraan te dink nie — wat my net in my droefheid vasgehou het.


Op 'n dag het ek saam met my dames-kleingroep na dieselfde klein dorpie gereis waar my pa oorlede is. Ons het by dieselfde supermark gestop. Ons het by dieselfde stilhouplek gaan rus waar ons ons laaste familiefoto geneem het. Ons het selfs die vallei besoek waar God my ontmoet het en met sy vrede gevul het. My vriendinne was so geduldig en gaaf; hulle het geluister terwyl ek al my emosies verwerk het oor die herbesoek van hierdie plek waar ek so 'n groot tragedie beleef het.


Na daardie besoek, kon ek uiteindelik al die goeie herinneringe van my pa herroep, sonder om weer die trauma van daardie dag te beleef. Ek het afstand van die gebeure nodig gehad en ruimte om dit te verwerk. Ek het vriendinne nodig gehad om my by te staan en lief te hê deur my smart. Slegs toe ek bereid was om deur die rouproses te gaan en vas te byt was dit vir my moontlik om deur te breek na die ander kant toe.


Soms het ons ander mense nodig om ons te help om ons smart te verwerk. Niemand verstaan so goed hoe dit voel om 'n geliefde verloor nie, as iemand wat self daardeur is. As jy nie mense om jou het wat 'n soortgelyke verlies ervaar het nie, wil ek jou aanmoedig om by 'n ondersteuningsgroep aan te sluit om saam met jou deur die rouproses te stap. Onthou ook dat die Een wat jou die heel beste verstaan, jou nooit sal verlaat nie.


Uiteindelik moet ons bereid wees om ons smart met God te deel. Om dit met familie te deel help, maar hulle is nie altyd in die middernagtelike ure daar wanneer jou smart ondraaglik voel nie. God is egter altyd by jou, en Hy staan altyd gereed om na die krete van jou hart te luister. Of jou hart nou vol hartseer of woede is, dit maak nie saak nie. Die wonderlike ding van ons verhouding met God, is dat dit nie saak maak hoe ons in ons droefheid reageer nie — ons kan nie van Hom af wegkom nie. Hy bly altyd naby die gebrokenes van hart en Hy is getrou om ons te onderhou.


In 'n brief aan die Korintiërs, skryf die apostel, Paulus: "Op elke manier word ons onder druk geplaas, maar ons is nie verpletter nie; ons is verward, maar nie wanhopig nie" (2 Korintiërs 4:8 NLV). Dit beteken dat, as volgelinge van Jesus, het ons onbeperkte toegang tot sy krag sodat ons selfs die swaarste tye in ons lewens kan deurstaan.


Wanneer jy onder druk voel, onthou dat jy nie verpletter is nie. Die krag van Christus leef in jou, en Hy maak jou sterk. Wanneer jy begin twyfel, onthou wie God is en alles wat Hy vir jou gedoen het. Jy is so kosbaar vir Hom, en Hy sal jou nie in jou smart vasgevang los nie. Laat die waarheid van sy goedheid en genade oor jou spoel en jou krag hernu om deur te druk.


Here Jesus, baie dankie vir alles wat U vir my gedoen het en vir alles wat U steeds doen. Herinner my dat U my krag en sterkte is wanneer ek swak voel. Help my om te onthou, selfs wanneer ek onder druk voel, is ek nie verpletter nie. Help my om aan te hou om op U staat te maak en deur my smart te druk. Ek weet dat U elke tree deur hierdie donker vallei by my is, en ek vertrou op U om my veilig deur te dra tot aan die anderkant. Help my om op U gefokus te bly. Here, gee asseblief vir my 'n ewigheidsperspektief. Laat my weer die vreugde ervaar van iemand wat deur U verlos is, en laat dít my vul met hoop vir die toekoms. In Jesus se wonderlike en heilige Naam. Amen.


Ons bid dat God hierdie leesplan gebruik het om tot jou hart deur te dring.
Ontdek ander Lewe Veranderd leesplanne
Vind meer uit oor "Changed Women's Ministries"


Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

Living Changed: Through Grief

Om 'n geliefde te verloor is hartverskeurend. Dit is 'n verskriklike pyn wat niemand kan verstaan nie, tensy hulle self in jou skoene gestaan het. Hierdie 5-dag leesplan is geskryf deur vroue wat self verlies ervaar het ...

More

Baie dankie aan Changed Women's Ministries wat hierdie leesplan verskaf het. Vir meer inligting besoek asseblief: http://www.changedokc.com

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid