Leesplan inligting

Lewe Veranderd: Deur Jou DroefheidVoorbeeld

Living Changed: Through Grief

DAG 4 VAN 5

Smart en Vreugde

Mense kom gewoonlik bymekaar wanneer 'n geliefde oorlede is om herinneringe te deel, snaakse stories oor te vertel en mekaar se geselskap te geniet. Wanneer ons onsself met 'n glimlag betrap, voel ons soms skuldig dat ons, ons smart tydelik eenkant toe geskuif het, maar ons hoef nie sleg te voel nie. Daar is niks daarmee verkeerd om vreugde te midde van hartseer te beleef nie. Om die waarheid te sê, ons kan dikwels beide terselfdertyd ervaar.


My niggie se baba is gebore op dieselfde dag as wat haar ma oorlede is. Dit was hartseer en dit was wonderlik. Ons familie het in dieselfde hospitaal lewe gevier en terselfdertyd die dood betreur.


Nadat my pa oorlede is, is my dogter gedoop op pad na sy begrafnis. Haar doop is weke tevore gereël en hy was veronderstel om daar te wees en dit saam met ons te vier. Weereens het ons vreugde en smart terselfdertyd beleef.


Selfs na al die jare, raak ek nog hartseer as ek dink hoe baie my pa daarvan sou gehou het om te sien hoe my dogter haar skoolloopbaan voltooi, of om my seun by sy groot sportbyeenkomste aan te moedig. Dit raak nooit makliker nie.


Daar word dikwels gesê dat tyd alle wonde genees, maar dit is nie waar nie. 'n Mens raak nooit heeltemal gewoond daaraan om iemand wat jy verloor het te mis nie. Die las verdwyn nie. Met God se hulp, verbeter jou vermoë om dit te dra. Jou vermoë verbeter ook om trane en vreugde te ervaar. Jou droefheid verander van 'n skerp pyn na 'n dowwe pyn, soos dit hoort. Dit is nie verraad teenoor jou geliefde om te glimlag nie. Hulle sou wou hê dat jy 'n vol lewe moet lei — dié lewe wat Jesus vir jou wil gee.


In die Johannes evangelie sê Jesus vir ons: "Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed" (Johannes 10: 10b).


Met Jesus se opstanding uit die dood, het Hy ons nie net van ons sonde gered nie. Hy het depressie, skuldgevoelens, hopeloosheid oorwin — en alle ander emosies waarin ons gedurende ons smart kan vasval. Hy het belowe om 'n plek vir ons te gaan voorberei sodat ons die ewigheid saam met Hom kan deurbring. 'n Plek waar daar geen dood, geen smart en geen trane meer sal wees nie.


Omdat ons ewigheid in Christus vas en seker is, kan ons vreugde hê wat nie in ons huidige omstandighede gesetel is nie. Dit beteken nie dat ons nie steeds gebroke is nie, maar geluk is nie dieselfde as vreugde nie. Geluk is 'n oppervlakkige emosie, terwyl vreugde veel dieper lê. Selfs wanneer ons nie bly is nie, selfs wanneer ons die verlies van 'n geliefde betreur, geniet ons steeds die vreugde wat die belofte inhou om 'n ewigheid saam met Jesus te wees.


Terwyl jy treur, mag jy dalk een oomblik lag en die volgende oomblik huil. Skep moed! God is by jou deur elke hoogte- en laagtepunt. Hy bly altyd dieselfde. God verander nooit en jy kan Hom vertrou om sy beloftes te hou. Wanneer jy broos voel, gryp vas aan God en die vreugde van jou verlossing.


Hemelse Vader, baie dankie dat U die ewigheid saam met my wil deurbring en dat U u Seun, Jesus, gestuur het om dit moontlik te maak. Dankie dat U altyd by my is en my swaar laste dra. Wil U hierdie swaar gewig van my smart oorneem en vir my asseblief u krag gee? Bedek my met u vrede en herinner my aan die vreugde wat ek by U kry. Amen.


Dag 3Dag 5

Aangaande hierdie leesplan

Living Changed: Through Grief

Om 'n geliefde te verloor is hartverskeurend. Dit is 'n verskriklike pyn wat niemand kan verstaan nie, tensy hulle self in jou skoene gestaan het. Hierdie 5-dag leesplan is geskryf deur vroue wat self verlies ervaar het ...

More

Baie dankie aan Changed Women's Ministries wat hierdie leesplan verskaf het. Vir meer inligting besoek asseblief: http://www.changedokc.com

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid