Leesplan inligting

Lewe Veranderd: Deur Jou DroefheidVoorbeeld

Living Changed: Through Grief

DAG 3 VAN 5





In die Vallei

Droefheid is uitputtend. Dit maak nie saak of ons vir die wêreld kwaad is, onophoudelik huil, of elke greintjie krag tot ons beskikking moet gebruik net om kop bo water te hou nie. Om te rou gebruik soveel energie dat selfs die mees eenvoudige take onuitvoerbaar kan voel. In hierdie oomblikke wanneer ons totaal uitgeput voel, kan ons vertrou dat God steeds met ons is en vir ons wil rus gee.


My pa is oorlede tydens 'n familievakansie. In Amerika, wanneer iemand in 'n ander staat sterf, is daar 'n proses waardeur jy moet gaan voordat jy hulle huis toe kan neem. Dus was ons vir 'n paar dae langer by ons vakansiebestemming "vasgevang". My man en swaer het eendag teruggekom na hulle visgevang het en wou vir ons die pragtige plek gaan wys wat hulle ontdek het.


Ek onthou goed hoe ek tot op die rand van daardie skilderagtige uitkykpunt gestap en die pragtigste vallei gesien het. 'n Stroom het so ver soos wat ek kon sien deur die welige plantegroei gevloei. Ek het in daardie plek God se teenwoordigheid by my beleef. Hy het vir my vrede gegee en my getroos terwyl ek oor die verlies van my pa getreur het.


Dit het my herinner aan Psalm 23 wat sê: “Die Here is my herder, ek kom niks kort nie. Hy laat my rus in groen weivelde. Hy bring my by waters waar daar vrede is. Hy gee my nuwe krag. Hy lei my op die regte paaie tot die eer van sy Naam. Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my” (Psalm 23:1-4a).


Wanneer ek terugdink aan wat ek op daardie skilderagtige plek gesien het, besef ek dat die groen weivelde en die rustige stroom nie op die bergpiek was nie. Dit was in die vallei. In die "dieptes" — die presiese plek waar hierdie psalm ons bemoedig om nie bang te wees nie.


Niemand wil deur hierdie vallei gaan nie. Niemand wil verlies beleef nie. Niemand wil verpletterende en oorweldigende hartseer ervaar nie. Wanneer ons dit egter beleef, hoef ons nie bang te wees om ons pyn in die oë te kyk nie, want God belowe om in ons pyn by ons te wees.


Wanneer ons leeg en verskrompel voel as gevolg van ons droefheid, kom God ons in die vallei ontmoet en bied sy verkwikking aan ons. Hy help ons om rus te vind en versterk ons moeë siele. Hy vul ons beker tot oorlopens toe. Hy is getrou om ons selfs deur die donkerste vallei te dra.


As jou droefheid jou uitput, wend jou dan tot God. Hy het jou nog nooit verlaat nie. Hy stap saam met jou deur hierdie donker dieptes en Hy staan gereed om vir jou rus te gee wanneer jy dit ook al nodig het.


Dit beteken egter nie dat jy binne 'n oomblik klaar gerou sal wees nie. Die hartseer sal steeds kom en gaan. Wanneer jy in Jesus rus vind, sal Hy jou krag gee vir vandag. En Hy sal môre dieselfde vir jou doen — en elke dag daarna — totdat jy besef dat jy dit deur die vallei gemaak het. Bly gewillig om by Jesus met jou pyn te sit en op Hom te steun vir die vrede wat net Hy kan gee.


Here Jesus, dankie dat U deur hierdie hartverskeurende verlies langs my stap. Dankie dat U vir my rus gee wanneer ek uitgeput is en ek nie weet hoe om verder te gaan nie. Gee vir my u vrede. Verkwik my siel. Help my om in u teenwoordigheid te sit en troos te vind. Amen.


Dag 2Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

Living Changed: Through Grief

Om 'n geliefde te verloor is hartverskeurend. Dit is 'n verskriklike pyn wat niemand kan verstaan nie, tensy hulle self in jou skoene gestaan het. Hierdie 5-dag leesplan is geskryf deur vroue wat self verlies ervaar het ...

More

Baie dankie aan Changed Women's Ministries wat hierdie leesplan verskaf het. Vir meer inligting besoek asseblief: http://www.changedokc.com

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid