Leesplan inligting

Lewe Veranderd: Deur Jou DroefheidVoorbeeld

Living Changed: Through Grief

DAG 2 VAN 5

Geen Regte Pad Nie

Ons weet nie regtig vooraf hoe ons sal reageer op die verlies van 'n geliefde nie. Miskien het jy gedink jy sou meer huil. Miskien het jy verwag om vinniger aan te beweeg. Dit maak nie saak waar jy in die rouproses is, of hoeveel druk jy ervaar om na normaal terug te keer nie — jy is presies waar jy moet wees. Daar is geen regte manier om te treur nie.


Ek het beide my ouers verloor. Met my pa was dit 'n skielike, onverwagte verlies. Ek mis hom besonder baie en wens altyd dat ek meer tyd met hom kon deurbring. My ma is eers jare later oorlede na 'n lang, uitgerekte siekbed. Die wete dat sy binnekort sou doodgaan het dit egter vir my geensins makliker gemaak nie.


In werklikheid kan jy jouself nooit waarlik daarop voorberei om iemand te verloor nie. Jy sal altyd wens daar is nog tyd. Nog een dag, nog een week, nog een jaar. Selfs al weet jy dat 'n ewigheid nie genoeg sou wees nie, smag jy steeds na meer tyd.


Dit maak droefheid vreemd. Dit is nie logies nie. Dit volg nie 'n stap-vir-stap instruksie-handleiding nie, dit lyk heeltemal verskillend van mens-tot-mens en dit vorder nie in 'n reguit lyn nie. Soms is dit stil en ontwrig nie jou hart te veel nie. Op ander tye kan die intensiteit daarvan jou heeltemal onkant betrap met hoé seer dit maak.


Daardie onverwagte oomblikke kan veroorsaak word deur die kleinste gebeure, soos om voor hulle huis te stop en niemand loer agter die gordyn uit nie. Of deur die groot gebeure, soos om te wens hulle was hier vir gradeplegtighede en troues. Inderwaarheid sal daar altyd 'n gemis wees omdat hulle nie meer hier is nie. Maar as ons, ons hartseer na God toe bring, sal Hy ons help om ons balans te herwin, sodat ons nog 'n dag kan vasbyt.


In die Bybelboek, Klaagliedere — wat passievolle uitdrukking van rou of hartseer beteken – treur die skrywer, Jeremia, oor die verskriklike dinge wat in Jerusalem deur die toedoen van die Babiloniërs gebeur. In vele versreëls beskryf hy hulle lyding en sê selfs dat dit hom terneergedruk en moedeloos laat voel. Sy siel "buig hom neer" in hom. (Klaagliedere 3: 20 AFR53) Maar dan skuif sy perspektief en hy sê:


"Maar dít sal ek ter harte neem en om dié rede bly ek hoop: deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut. U trou is groot." (Klaagliedere 3: 21-23)


Ek weet dat jy seer het. Daar mag selfs dae wees wanneer jou hartseer ondraaglik en alles oorweldigend voel, maar jy sal nié vergaan nie. Dieselfde God wat die Israeliete liefgehad het en vir hulle omgegee en gesorg het, het jou lief, gee vir jou om en sorg vir jou. Net soos Hy hulle deur hulle hartseer en droefheid gedra het, sal Hy getrou wees om jou ook te dra. Vandag mag moeilik wees, maar ek belowe jou: Élke dag sal nie moeilik wees nie. Hy sal vir jou genoeg krag gee vir vandag en sy ontferming is elke môre nuut.


Dankie Here dat U altyd naby my bly en my help om hierdie pyn te verduur, wat soms so oorweldigend voel. Ek het U nodig. Ek het u genade en ontferming nodig om deur vandag te kom. Ek kies om U te vertrou. Baie dankie vir u liefdevolle geduld terwyl ek my hartseer verwerk. Help my asseblief om enige verwagtings, waaraan ek nog vashou, te laat vaar en net op U vir krag staat te maak.
Amen.


Dag 1Dag 3

Aangaande hierdie leesplan

Living Changed: Through Grief

Om 'n geliefde te verloor is hartverskeurend. Dit is 'n verskriklike pyn wat niemand kan verstaan nie, tensy hulle self in jou skoene gestaan het. Hierdie 5-dag leesplan is geskryf deur vroue wat self verlies ervaar het ...

More

Baie dankie aan Changed Women's Ministries wat hierdie leesplan verskaf het. Vir meer inligting besoek asseblief: http://www.changedokc.com

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid