Leesplan inligting

Gewoontes van HeiligheidVoorbeeld

Habits of Holiness

DAG 4 VAN 7

Oorlog Voering



Ons is geroep om lewens te lei wat ons roeping waardig is. Wat is daardie roeping? Onthou 1 Petrus 2:9. As volgelinge van Jesus is ons afgesonder en spesiaal gekies om as heilige mense te leef om ons heilige God te verteenwoordig. Kom ons raak prakties. Hoe lyk hierdie roeping in aksie? Wanneer ons weet wie ons is en besluit om in die lig van daardie identiteit te lewe, sal ons nie net meer selfvertroue en vrymoedigheid hê nie, ons sal ander praktyke en gewoontes as die res van die wêreld hê. Petrus gaan voort en verduidelik dit so: 



"Geliefdes, in die wêreld is julle vreemdelinge en bywoners. Daarom dring ek by julle daarop aan om nie aan sinlike begeertes toe te gee nie. Dit verwoes net 'n mens se lewe. Gedra julle altyd goed onder die heidene sodat, al praat hulle kwaad van julle asof julle misdadigers is, hulle julle voorbeeldige lewe kan sien en God kan verheerlik op die dag van afrekening" (1 Petrus 2:11-12).

Petrus wys hierdie keuse uit wat ons almal moet maak: sal ons kies om ons begeertes te volg of om Christus te volg? Om ons vlees of ons hemelse Vader te gehoorsaam?



Die saak staan so: die idee van gehoorsaamheid kan in ons huidige kultuur dalk nie te goed vaar nie. Laat ons eerlik wees, dit is redelik moeilik om ons aan iemand anders te onderwerp, veral wanneer ons magsmisbruik en uitbuiting ervaar het. Dis nie in orde nie. Dit is nooit die uitkoms wanneer ons God gehoorsaam nie. Wanneer ons Hom gehoorsaam en volg, bly ons verbind aan die einste Bron van lewe, vrede en ware vervulling. Wanneer ons egter ons begeertes volg en gehoorsaam, beland ons op 'n heel ander plek. Paulus verduidelik dit as volg:  



"Julle weet tog: as julle julle aan iemand onderwerp om hom as slawe te gehoorsaam, is julle die slawe van dié een aan wie julle gehoorsaam is. As dit die sonde is, beteken dit vir julle die dood; as dit gehoorsaamheid aan God is, beteken dit vryspraak en lewe" (Romeine 6:16).

Hoe lyk dit dan wanneer ons kies om in ons romantiese en seksuele verhoudings aan God gehoorsaam te wees? Dit beteken dat ons kies om ander lief te hê op dieselfde manier as wat God, deur Christus, vir ons liefhet, deur seks vir die huwelik te reserveer en te weier om ander mense soos gebruiksartikels te behandel. 


Waarom seks vir die huwelik reserveer? Seks is 'n kragtige ding. In die verkeerde konteks is dit nie die "uitdrukking van liefde" nie, dit veroorsaak soveel skade aan onsself en ander. Kyk net na die wêreld waarin ons vandag leef. Ons moet seksueel oordraagbare siektes hanteer, swangerskappe wat in aborsie eindig, kinders wat sonder vaders grootword en al die skande en trauma wat uit situasies van seksuele misbruik voorkom. Die lys raak langer en langer, want in die verkeerde konteks rig iets so kragtig soos seks groot skade aan. Dit is nie hoe God ons behandel het of ons geroep het om ander te behandel nie. 



Wat van weier om ander mense soos gebruiksartikels te behandel? Deur te weier om ander mense soos gebruiksartikels te behandel, verwerp ons wellus. Wellus lei ons om ander mense as voorwerpe vir ons plesier te sien, in plaas daarvan om mense lief te hê. Dit is nie in orde nie. Toe Jesus gekom het, het Hy voortdurend mense opgehef. Hy het ons herinner wat dit beteken om mens te wees, om waardigheid en waarde te hê, om mense te wees wat genooi is om saam met God te werk om goedheid en skoonheid in die wêreld te bring. Dit is wie jy is, maar dit is ook wie jou kêrel of meisie is. Dit is wie daardie persoon op die skerm of in in die video is. Om hulle enigsins as minder te behandel, is 'n fout in die volle sin van die woord — dit is sonde. Sonde (ons vleeslike begeertes) loop altyd op die dood uit. Wat God ons bied, wat Jesus vir ons wys, is die weg wat na die lewe lei:



"Die loon wat die sonde gee, is die dood; die genadegawe wat God gee, is die ewige lewe in Christus Jesus ons Here" (Romeine 6:23).

Gehoorsaamheid aan God is soveel beter as gehoorsaamheid aan enigiemand of enigiets anders. Gehoorsaamheid aan daardie ander dinge, ons begeertes, voel dalk in die oomblik goed, maar dit eindig altyd in pyn en dood. Kies dus gehoorsaamheid — kies om ander te behandel soos God jou deur Christus behandel het.



Gewoonte 2: Kies gehoorsaamheid. Werk prakties om vandag versoekings uit te skakel, sodat jy dit nie môre hoef te weerstaan ​​nie. Leer die gewoonte aan om hierdie dinge in die kiem te smoor terwyl hulle nog klein is, in plaas daarvan om dit te probeer los wanneer hulle groot is en pyn en dood in jou lewe veroorsaak. Wanneer jy 'n probleem identifiseer, moet jy dit nie ignoreer nie. Voer daardie gesprek met jou kêrel of meisie. Plaas beperkings op jou foon en rekenaar. Moet dit nie alleen doen nie! Vra om hulp en aanspreeklikheid van die mense wat jy vertrou. Oefen vandag om versoeking te identifiseer en uit te skakel.


Dag 3Dag 5

Aangaande hierdie leesplan

Habits of Holiness

As volgelinge van Jesus word ons geroep om as heilige mense te lewe om sodoende ons heilige God te verteenwoordig. Heiligheid is nie 'n towerbestemming waar ons moet uitkom nie, maar die identiteit waaruit ons kan lewe. ...

More

Ons wil graag Life.Church bedank vir die voorsiening van hierdie leesplan. Vir verdere inligting, besoek gerus: https://www.liefe.church/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid