Wat Is Dit? Om Die Geskenke Waarvoor Jy Nie Gevra Het Nie, Te VerwelkomVoorbeeld

What Is This? Embracing the Gifts You Didn't Ask For

DAG 1 VAN 5

Kersfees is die wonderlikste tyd van die jaar — behalwe wanneer dit nié is nie. 

Alhoewel sommige mense Kersfees vereenselwig met vrugtekoek, vakansies by die see en warm, snoesige gevoelens, is die werklikheid dat hierdie feesseisoen vir baie ander 'n lig op die leemtes in hul lewens werp. Dit herinner hulle aan wat was of wat móés wees of wat hulle gedínk het dit sou wees. 

Ons sing dat die eerste Kersfees stil, kalm en helder verlig was, maar as ons die Kersverhaal van nader beskou, sien ons dat dit glad nie die geval was nie. Dinge was nie kalm nie — alles was in chaos gedompel. Die lewe het ook nie baie verlig voorgekom nie — dinge was in werklikheid baie donker. 

Maria het guns van die Here ontvang wat die meeste van ons se verstand te bowe gaan, maar dit het haar byna haar huwelik en reputasie gekos. Sy sou waarskynlik nie daardie jaar van haar lewe as kalm beskryf nie, ten spyte daarvan dat sy met die Vredevors verwagtend was. 

Koning Herodus was só bekommerd toe hy van Jesus se geboorte te hore kom dat hy al die babaseuns onder die ouderdom van twee jaar in Betlehem laat vermoor het. Josef was gedwing om met Maria en Jesus te vlug en in Egipte te gaan skuil, dus is dit baie waarskynlik dat hy nie die eerste Kersfees as "helder" sou beskryf nie.

Jesus se geboorte is die rede waarom ons Kersfees vier, maar die gebeure wat op daardie stadium in die wêreld plaasgevind het, was alles behalwe prentjiemooi. Nietemin toon dit aan ons hoe ons in moeilike omstandighede hoop kan vind en dié geskenke waarvoor ons nie beplan het nie, kan verwelkom. 

Ongeag of jy iets moeiliks moet trotseer of hierdie jaar een van die gelukkigste Kersseisoene geniet, is die hoop van Kersfees dieselfde vir ons almal — dit is Immanuel, 'n ander naam vir Jesus wat “God by ons” beteken.

Wat ook al hierdie jaar met jou gebeur het, God was by jou.

Wat ook al nié vir jou gebeur het nie, God was steeds by jou.

Wat ook al in die komende jaar mag of nie mag gebeur nie, God wag ook daar vir jou en Hy wil saam met jou daardeur gaan. 

Op daardie eerste Kersfees het God, te midde van chaos en verwarring, hoop en vrede die wêreld ingelui en Hy wil gedurende hierdie feesseisoen dieselfde vir jou doen. 

Bestee 'n bietjie tyd daaraan om te dink aan 'n situasie wat jou alleen en gefrustreerd laat voel en visualiseer God in daardie plek saam met jou.

Aangaande hierdie leesplan

What Is This? Embracing the Gifts You Didn't Ask For

Ons nader die einde van 'n jaar in die geskiedenis van die mensdom waarvoor niemand gevra het en wat niemand verwag het nie. Soms, egter, vra God van ons om die situasies waarvoor ons nie beplan het nie en die geskenke waarvoor ons nie gevra het nie, met altwee hande aan te gryp. Lees hierdie 5-dag leesplan, wat die Kersverhaal van nader beskou, om te sien hoe jy dit kan vermy om jou lewensdoel te mis net omdat dit nie verpak is soos jy dit graag sou wou hê nie.

More

Ons wil graag Elevation Church bedank vir die voorsiening van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek gerus: http://elevationchurch.org/youth