Leesplan inligting

Hoop vir die Mamma met Nageboortelike DepressieVoorbeeld

Hope for the Postpartum Mom

DAG 5 VAN 5

Moenie Alleen Hierdeur Gaan Nie


Op die tweede dag het ons daaroor gepraat dat om jou af te sonder nie tot jou voordeel is nie en hoe gemeenskap met ander 'n reddingsboei kan wees. Vandag gaan ons 'n bietjie meer hieroor uitbrei. 



Nageboortelike depressie lok dikwels gevoelens van skuld, skaamte en nutteloosheid uit. Hierdie gevoelens maak 'n mens meer geneig om jouself af te sonder, beide fisiek en emosioneel. 'n Donker slaapkamer is nie die antwoord nie. Laat dus God se lig toe om in al jou donker hoekies in te skyn. "Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie" (Johannes 1:5). Om sy teenwoordigheid toe te laat om jou donker oomblikke te verlig, vereis deursigtigheid en opregtheid. Dit kan moeilik wees om ander mense in jou donker wêreld van nageboortelike depressie toe te laat, maar dit is 'n belangrike stap in jou helingsproses. 



Een van my gunsteling Skrifgedeeltes is Eksodus 17:10-13. Die Israeliete en Amalekiete was in 'n oorlog met mekaar gewikkel. Moses het agter die skerms vir die oorlogstryd gebid. Hy het 'n staf in sy hand gehou en gebid vir 'n oorwinning. Solank as wat sy arms in die lug was, het die Israeliete die geveg oorheers. Wanneer sy arms egter gesak het, was hulle aan die verloorkant. Omdat hy heeldag sy arms in die lug moes hou, het hulle later moeg geword. Sy vriende Aäron en Hur het langs hom kom staan en sy arms omhoog gehou. Sy hande het in die lug gebly totdat die son ondergegaan het en die Israeliete het die oorlog gewen. 



Dit is 'n pragtige beeld van vriendskap en gemeenskap. Moses kon dit nie op sy eie regkry nie. Hy sou sy hande laat sak, die Israeliete sou die geveg verloor en die daaropvolgende verse sou heeltemal anders gelees het. Aäron en Hur het egter gesien dat hy hulp nodig gehad het en hulle het na vore getree. Aäron het een arm in die lug gehou. Hur het die ander arm in die lug gehou. So het hulle drie die oorwinning gesien plaasvind. 



Ek dink dit is baie algemeen vir die meeste van ons om te maak asof alles in die haak is. As dit vir ander voorkom dat dit met ons goed gaan, kry ons nie juis hulp nie, want niemand dink dat ons dit nodig het nie. Dit is baie belangrik om vir hulp te vra en dit vereis ook nederigheid. Dit is heeltemal aanvaarbaar om te erken dat alles nie altyd 100% onder beheer is nie. Daar is beslis mense in jou lewe wat jou met die grootste liefde sal kom help, maar jy moet eers erken dat jy hulp nodig het en daarvoor vra. Wie is jou vriende soos Aäron en Hur wat jou kan kom help om jou arms omhoog te hou? Wie kan een aand 'n maaltyd voorsien sodat jy nie hoef te kook nie? Wie kan een maal per week jou inkopies gaan doen omdat jy by die huis is en oorweldig voel? Wie kan na jou baba kom kyk sodat jy bietjie kan slaap? 



Gemeenskap is onontbeerlik. As daar niemand is wat jou in hierdie tyd kan bystaan nie, bid dan dat God vir jou 'n vriendin sal stuur. Of 'n paartjie wat aan jou en jou man vriendskap kan bied. Die lewe is bedoel om saam geleef te word. Ons is nie geskape om alleen op 'n eiland te lewe nie. 



Soek vriende wat jou met goeie en hulpvaardige woorde sal bemoedig, soos Efesiërs 4:32 sê hoe ons teenoor mekaar moet optree. 1 Petrus 4:9 sê dat ons "gasvry teenoor mekaar moet wees sonder om te kla". Dit is natuurlik ook belangrik om hierdie verse en waarheid te onthou wanneer jy sien dat iemand ánders 'n moeilike tyd beleef. Of dit nou 'n nageboortelike tydperk of iets anders is, wees soos Aäron en Hur. Lig hul hande op. Bemoedig hulle. Doen iets vir hulle. 



Moenie alleen wees in jou nageboortelike tydperk nie. Moenie 'n front voorhou en maak asof alles in die haak is nie. Mense gee regtig vir jou om en wil graag die beste vir jou hê. Hulle wil jou help. Vra nederig om hulp. Bly in gemeenskap. Dit maak 'n moeilike tydperk 'n bietjie makliker. 



Vandag se Aksieplan:



Ons wil jou elke dag bemoedig met die waarheid en ook met 'n aksieplan. Vandag se aksieplan is om doelgerig met gemeenskap te wees. Dink aan mense naby aan jou na wie jy kan uitreik. Kontak hulle sommer vandag nog en vertel hulle van 'n behoefte wat jy het. As jy nie gemeenskap in jou lewe het nie, moet jy aan maniere dink waarop jy dit kan kry. Raak betrokke by 'n kerk. Wees die eerste om aan 'n nuwe vriendin 'n boodskap te stuur en haar vir koffie uit te nooi. Gemeenskap is uiters belangrik in alle tydperke van ons lewens, ook in die nageboortelike tydperk. Wees op die uitkyk vir mense wat jy in jou vertroue kan neem, sodat hulle lewe oor jou kan spreek. Gebruik ook formele hulpbronne, byvoorbeeld SADAG (South African Depression and Anxiety Group), wat opvoeding, hulpbronne en ondersteuningsgroepe aanbied vir nageboortelike depressie. 



Gebed vir die Mamma met Nageboortelike Depressie



Here, ek bid dat U my vrymoedigheid sal gee om vir hulp te vra. Ek vra vir die nederigheid om nie te maak asof alles in die haak is wanneer dit nié is nie. Ek bid dat U vir my deur my vriende en my gemeenskap sal voorsien. Dankie vir die bemoediging en hoop wat U voorsien. Dankie vir my pragtige baba. Dankie vir die goeie, die slegte, die maklike en die moeilike. U is deur alles getrou. Ek is dankbaar vir U en u Woord wat waarheid en hoop aan my uitgeputte siel verskaf. Amen. 


Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

Hope for the Postpartum Mom

Die Bybel verwys nie spesifiek na die tydperk na die geboorte van 'n baba nie, maar daar is verskeie verhale oor mense wat deur moeilike tye gaan, wat vir ons wys dat daar in elke lewenstydperk hoop is. Hierdie 5-dag lee...

More

Ons wil graag vir Awesome Marriage bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir verdere inligting kan jy hulle besoek by: https://awesomemarriage.com/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid